Matie-alumna wil deur nominasie jong meisies inspireer

ʼn Voormalige Matie-netbalspeler is onlangs genomineer vir die 2020 Momentum gsport-toekennings. gsport is in 2006 op die been gebring om, onder meer deur hierdie toekennings, meer blootstelling aan vroue in sport te bied.

Jo Prins, wat in 2019 haar graad in opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) voltooi het, is vanjaar as een van die drie finaliste in die Woman in social media-kategorie benoem.   

Prins het op Instagram aan die publiek gesê dat dit vir haar ʼn groot voorreg is om deel te wees van die Momentum gsport-toekennings. Die publiek het tot 10 Augustus kans gehad om vir hul gunsteling finalis te stem.

Volgens Prins sal sy deur dié nominasie die geleentheid kry om jong meisies wat hul merk op die sportgebied wil maak, aan te moedig. 

“Ek was só gelukkig. Ek is ’n groot aanhanger van gsport, omdat hulle deure vir vroue in sport oopmaak,”  het Prins aan MatieMedia gesê. 

Volgens Zanele Mdodana, woordvoerder van gsport4girls, word die Momentum gsport-toekennings vanjaar vir die 15de agtereenvolgende jaar aangebied. 

Dié toekennings is juis belangrik omdat dit die gaping tussen mans en vroue in sport wil oorbrug, het sy gesê. 

“Die toekennings poog om aan Suid-Afrikaanse sportvroue erkenning te gee op ʼn platform waar hulle hul stories met die publiek kan deel,” het Mdodana gesê. 

Volgens Sindiwe Mbiko, woordvoerder van Momentum, tree hulle al vir die afgelope twee jaar as borg van die toekennings op. 

“Die gsport-toekennings was vir ons die perfekte geleentheid om vroue aan te moedig om hulle prestasies te vier en terselfdetyd meer lig te werp op vrouesport in Suid-Afrika,” het Mbiko gesê.

Jo Prins bly aktief deur gereeld te oefen. Sy deel ook dikwels foto’s en video’s van haar oefeninge met haar volgelinge op sosiale media. FOTO: Instagram/@joloving

Jo Prins bly aktief deur gereeld te oefen. Sy deel ook dikwels foto’s en video’s van haar oefeninge met haar volgelinge op sosiale media. FOTO: Instagram/@joloving

Volgens Sasha-Lee Peterson, ’n Matie-netbalspeler, is Prins nooit huiwerig om haar opinie oor vroue in sport te lig nie. 

“Sy ondersteun netbal en gebruik sosiale media om aan dié sport die erkenning te gee wat dit verdien. Sy werk hard vir dit wat sy wil bereik en gee nooit op nie. Dit is iets wat veral jong meisies kan inspireer,” het Peterson gesê.

Volgens Prins, gebruik sy ook sosiale media om ander te inspireer. 

“[Die toekenning] sal my help om meer as nét ʼn speler te wees,” het Prins gesê.

Prins vertel op een van haar video’s waar haar liefde vir netbal begin het en die sukses wat sy al deur die jare bereik het.

Die publiek het tot 10 Augustus kans gehad om te stem vir hul gunsteling finalis uit elkeen van die 21 kategorieë, het Mdodana gesê.

“Die stemme van die publiek tel 20% en die beoordelaars sal finaal besluit wie die wenner in elke kategorie is,” het Mdodana verder gesê.

Die wenners sal op 31 Augustus aankondig word via ʼn aanlyn platform wat op gsport se webtuiste en hulle onderskeie sosiale media-platforms bekendgemaak sal word.

, , ,