Die Universiteit Stellenbosch (Maties) se Varsitybeker-span het Maandagaand hul kans om ’n tuis semi-finaal versterk deur die Noordwes-Universiteit (NWU) met 43-15 op tuisbodem te klop.
Die wedstryd, wat ’n herhaling van verlede jaar se eindstryd was, sal onthou word vir die vuurwerke op die veld van Edwill van der Merwe wat ʼn driekuns behaal het. Van der Merwe is boonop nou die houer van die meeste drieë in Varsitybeker geskiedenis.
Die Maroen-masjien het hul stempel vroeg op die wedstryd afgedwing toe HJ Luus oor die doellyn geduik het vir die wedstryd se eerste drie.
Maties se agterlyn was soos oudergewoonte vuurwarm gewees. Chris Smit, wat self in uitstekende vorm is, het krediet ontvang vir Van der Merwe se eerste drie na ʼn puik skop aangee wat deur Van der Merwe afgerond was.
Anton du Toit, jonger broer van die Stormers- en Springbok speler Pieter-Steph du Toit, het Van der Merwe se twee ander drieë gemaak deur die bal vir hom aan te gee.
Daniel Jooste het Maties se ander drie beklink.
Maties het egter ʼn kopseer in die skrums ervaar en sal hulle dit vinnig moet aanspreek indien hulle as kampioene vir ’n agtereenvolgende keer wil gekroon word.
Maties pronk steeds bo-aan die punteleer en hul volgende wedstryd sal teen UJ in Stellenboch wees.
Puntemakers:
Maties 43 (22): Drieë: Edwil van der Merwe (2 sewepunt drieë en 1 vyfpunt drie), HJ Luus, Daniel Jooste. Doelskoppe: Jordan Chait (3), Reinhardt Fortuin. Strafdoele: Chait (2).
Pukke 15 (10): Drieë: Gideon van der Merwe, Wian Conradie. Doelskop: Schalk Hugo. Strafdoel: Hugo