Maties se skaakkoning in SA-span by wêreldolimpiade

’n Student aan die Universiteit Stellenbosch (US) is een van vyf Suid-Afrikaners wat onlangs gekies is om aan ’n internasionale skaak-olimpiade deel te neem. 

Daniel Barrish, ’n PhD-student in industriële ingenieurswese aan US, is tans in Boedapest, Hongarye waar hy aan die skaakwêreldkampioenskappe deelneem. 

Daniel Barrish, ’n PhD-student in industriële ingenieurswese aan Universiteit Stellenbosch (US), is tans Suid-Afrika se skaakkampioen. Sy speelstyl word beskryf as gedissiplineerd, kalm en baie geduldig. Dit is volgens André Lewaks, Skaak SA se president en Nico Märtin, die ondervoorsitter van US se skaakklub. FOTO: Verskaf/Daniel Barrish

Barrish het die afgelope maand onder meer in Spanje en die Kanariese Eilande aan opwarmingstoernooie deelgeneem voordat die wêreldkampioenskappe in Boedapest afgeskop het. 

“Die eerste twee toernooie is ope-toernooie waar enigiemand kan speel, maar die olimpiade [in Boedapest] is die wêreldspankampioenskap,” het Barrish gesê. “Die top-vyf spelers van elke land word gekies om in spanne aan hierdie kampioenskap deel te neem.”

Suid-Afrikaanse skaakkampioen 

“Vir Suid-Afrikaanse skaak is dit regtig só cool dat ons mense het wat kan deelneem op ’n internasionale vlak […] Dit is absoluut wonderlik,” het Anika du Plessis, sekretaresse van die US se skaakklub gesê. 

Du Plessis het vroeër die jaar met die louere weggestap by die Wes-Kaapse vroue-skaakkompetisie, soos berig deur SMF News

Die Universiteit Stellenbosch (US) se skaakklub is een van die sterkstes in die land, volgens Daniel Barrish, die klub se voorsitter. Die sport kry egter volgens Barrish, nie genoeg erkenning nie. FOTO: Maliza Adendorff 

Op die Internasionale Skaakfederasie (FIDE) se webtuiste is Barrish gelys as ’n “FIDE Meester” met ’n gradering van 2281. FIDE titels word lewenslank aan skaakspelers toegeken vir uitstaande prestasies, volgens FIDE se webtuiste. Titels word toegeken volgens die ELO-gradering, ’n maatstaafstelsel wat gebruik word om die vaardigheidsvlak van skaakspelers te meet. Barrish plaas, volgens die FIDE, vyfde op die Suid-Afrikaanse ranglys.  

Barrish het vanjaar die Suid-Afrikaanse geslote toernooi gewen, en is in April vanjaar as die land se skaakkampieon gekroon, het Du Plessis gesê. 

“Om op sy ouderdom […] vir die tweede keer [Suid-Afrikaanse kampioen] te wees is regtig wonderlik,” het Du Plessis gesê. Du Plessis het ook verduidelik dat Barrish se prestasie by die Suid-Afrikaanse skaakkampioenskap vir hom ’n plek in die nasionale span besorg het.

Die Olimpiese Spele van skaak

André Lewaks, die president van Skaak SA, het gesê dat die olimpiade in Boedapest gesien kan word as die “olympics van skaak”. 

Dié olimpiade is volgens Lewaks ’n geleentheid vir skaakspelers om hulle “vaardighede te toets teen die bestes in die wêreld”. 

Elke skaakspeler droom om by die geslote skaakolimpiade in Boedapest, Hongarye te speel, het André Lewaks, die president van Skaak SA, gesê. GRAFIKA: Maliza Adendorff 

Lewaks glo dat die span waarin Barrish ingesluit is, ’n “baie gebalanseerde span” is wat junior en senior spelers insluit. 

“[Dié olimpiade] gee ’n geleentheid vir spelers om te sien dat [jou ourderdom nie saak maak nie]. As jy die beste is, [kan] jy die span haal,” het Lewaks gesê. 

“Die waarheid is, skaak is een van die kleiner sportkodes in Suid-Afrika,” het Nico Märtin, ondervoorsitter van die Universiteit Stellenbosch se skaakklub gesê. Volgens Märtin, is daar wel belangstelling in die sport. FOTO: Maliza Adendorff

, , , , , , ,