Gegewe die verloop van die Brics-konferensie wat onlangs in Sandton, Johannesburg gehou is, mag die definisie van demokrasie dalk na ’n meer outoritêre een verander. Dit is volgens Dzwinka Katsjur, ’n navorser by die Centre for Sustainability Transitions (CST) aan die Universiteit Stellenbosch (US).
Katsjur was deel van ’n paneelbespreking rakende die media, Brics en geopolitiek tydens ’n Media Futures-seminaar wat op 4 September deur US se departement joernalistiek en die fakulteit van Lettere en Sosiale Wetenskappe gehou is.
Tydens die bespreking het Katsjur verduidelik dat die Brics-lande – Brasil, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika – vanjaar vir die eerste keer onderneem het om “demokrasie en menseregte te respekteer en bevorder”. Sy het egter genoem dat Rusland en China se definisie van demokrasie onduidelik is.
As voorbeeld het sy verwys na Wladimir Shoebin, ’n senior navorser wat fokus op Suid-Afrika, by die Russian Academy of Sciences, wat meen dat een van die grootste uitdagings vir Suid-Afrika se demokrasie is “dat die hof nie deur die president beheer word nie” en “dat die media nie deur die staat besit word nie”.
Dzwinka Katsjur, ’n navorser by die Centre for Sustainability Transitions (CST) aan die Universiteit Stellenbosch (US), gesels oor menseregte en demokrasie in ’n verklaring wat deur Brics-lande uitgereik is. Katsjur was aan die woord tydens ’n onlangse paneelbespreking rakende die media, Brics en geopolitiek wat deur die departement joernalistiek aan die US aangebied is. KLANKGREEP: Stefani Terblanche
Is dit ’n moontlikheid?
“Ek dink in Suid-Afrika is ons in ’n baie beskermende samelewing as dit kom by demokrasie, en dit is as gevolg van ons geskiedenis,” het Ra’eesa Pather, ’n ondersoekende joernalis by Open Secrets, tydens die paneelbespreking gesê.
Pather glo dat Suid-Afrikaners oor die algemeen sal moet aanhou om te veg vir demokratiese beginsels, en dat hulle bewus moet wees van ondemokratiese lande se invloed op demokrasieë.
Katsjur, van Oekraïnse afkoms, glo dat Suid-Afrika te vinnig buig onder groepsdruk van die Brics-lande.
Sy het genoem dat sy tydens die Brics-beraad geforseer was om vier kilometer weg van die konferensie af te protesteer.
“Dit was ’n direkte impak,” het Katsjur gesê, aangesien dit volgens haar nie in al die Brics-lande wettig is om te protesteer nie.
Van links: Jean le Roux, ’n navorsingsgenoot by die Atlantic Council’s Digital Forensic Navorsingslaboratorium (DRFLab) in Suid-Afrika, Dzwinka Katsjur, ’n navorser by die Centre for Sustainability Transitions (CST) aan Universiteit Stellenbosch (US) en Ra’eesa Pather, ’n ondersoekende joernalis by Open Secrets, wat deel was deel van ’n paneelbespreking oor die media, Brics en geopolitiek by ’n onlangse Media Futures-seminaar. Dié paneelbespreking is op 4 September deur die US se departement joernalistiek en die fakulteit van Lettere en Sosiale Wetenskappe gehou. FOTO: Stefani Terblanche
Brics as gom vir demokrasie
Indien burgerlike organisasies en mediagroepe saamstaan, kan Brics egter ook demokrasieë bevorder, het Carlos Milani, ’n professor in Internasionale Betrekkinge by die Universiteit van Rio de Janeiro, vanuit die gehoor voorgestel.
Pather en Katsjur het saamgestem, en glo dat dit belangrik is om regerings aanspreeklik te hou en te verseker dat hul besluite deursigtig is.
*SMF News is ’n onafhanklike publikasie wat vervaardig word deur die BAHons-studente aan die Universiteit Stellenbosch se departement joernalistiek.