Meer as net nog ʼn Prof

Mary-Anne Plaatjies van Huffel (59) is in November 1992 as die eerste vrouepredikant in die NG Kerkfamilie in Suid-Afrika georden.

In 2002 het sy die eerste vrou geword om verkies te word tot  aktuarius van die Kaapse Sinode van die VGKSA.

In 2012 is sy verkies as moderator van die Algemene Sinode, en sodoende die eerste vrou in die Hervormde Kerk geword wat verkies is tot die hoogste kerklike posisie in die Gereformeerde familie.

In 2013 is sy ook verkies as een van die vise-presidente van die Wêreldraad van Kerke en sodoende word sy die president vir Afrika. Plaatjies van Huffel is onlangs benoem tot volle Professor in ekklesiologie en kerkreg aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Opgroei

Prof Mary-Anne Plaatjies Van Huffel is gebore in Prieska in die Noord-Kaap op 15 Desember 1959. Haar pa was ʼn onderwyser en haar ma ʼn huisvrou. 

“Dit was ʼn baie patriargale huishouding, my ma het sewe kinders in die wêreld gebring waarvan ek die tweede oudste is,” vertel Plaatjies Van Huffel.

Plaatjies Van Huffel sê, “Ek het heelwat skole in die Noord-Kaap bygewoon omdat my pa ʼn rondreisende skoolhoof was.”

Sy het skool gegaan waar min skole was wat beteken het dat sy by ʼn skool was waar daar twee grade ʼn klas moes deel. “Ek het so skool gegaan totdat my pa in 1969 opgeskuif het Kaap toe,” sê Plaatjies van Huffel.

Plaatjies van Huffel lag wanneer sy sê “dalk is dit die rede waarom ek so baie wil leer want dit het my gestimuleer”.

In haar matriekjaar was daar net drie opsies vir vrouens, of jy studeer onderwys, of maatskaplike werk of verpleging. Beurs moontlikhede vir maatskaplike werk was beperk.

“Ek het toe gekies om onderwys te doen.”

DSC_0208

Professor Mary-Anne Plaatjies Van Huffel in haar kantoor by die Teologie Fakulteit op Universiteit Stellenbosch.FOTO:Dominique Jeftha

“Terwyl ek op universiteit was, het ek ʼn clear-calling gekry om eintlik teologie te doen, maar omdat vrouens nie toegelaat was om teologie te studeer nie, was ek nie juis ʼn aangewese kandidaat nie,” vertel Plaatjies van Huffel.

Die sterk Christelike en godsdienstige morele standaarde van haar ouers het haar grotendeels beïnvloed.

My pa het altyd gesê, ‘ek het nie geld om vir julle agter te laat nie, maar al wat ek vir julle kan gee is opvoeding’.”

Haar pa het al sy sewe dogters gedwing om ʼn loopbaan op tersiêre vlak te kies sê sy.

Grootste invloed

Mans het my die sterkste beïnvloed anders as baie feministe wat sê ‘wat ʼn wonderlike vrou’, wel nie in my geval nie.”

“My leierskapstyl is hoofsaaklik gebaseer om manlike rolmodelle as gevolg van die afwesigheid van sterk vrouens”, vertel Plaatjies van Huffel.

“Ek sê somtyds vir myself, ek in my leierskapstyl niks anders geword as ʼn man in vrouens-klere nie.

Sy beskryf haarself as ʼn “post-strukturalistiese feminis wat die patriargale gender verhouding sterk kritiseer.”

Familie en vriende

Sy sê haar familie sal haar beskryf as ʼn mens wat hou van lag, maar haar studente sal haar as klinies of koud beskryf.

Wanneer sy nie werk nie verkies sy om minder ernstige ding te doen sê sy.

“Ek hou van lag en nonsens goed op die televisie kyk, ek kyk beslis nie Discovery of dokumentêre programme nie” sê sy laggend.

“Wat dit op neerkom is dat ek iemand is wat verskillende rolle op verskillende plekke speel”

“Ek is nie iemand wat baie vriende het nie, ek het oor die 3000 Facebook-vriende maar ek het nie vriende wat op ʼn Vrydagaand saam my braai nie,” sê sy laggend terwyl sy verder vertel   “my man is my beste vriend en my familie natuurlik”.

Die rede hiervoor skryf sy toe aan die feit dat hulle baie rondgereis het as gesin en nooit vaste vriende gemaak het nie.

Eerste vrouepredikant in Verenigde Gereformeerde Kerk (VGK)

Met verwysing na haar bevestiging in 1992 as eerste vrouepredikant in VGK sê sy “dit was geskiedenis wat daardie dag gemaak was”.

“Ek was baie hoopvol in die bediening maar die realiteit het vir my ingesak toe ek my heel eerste doop moes bedien het”. Sy was in ʼn kombinasie-gemeente bevestig wat beteken het dat sy en ʼn manlike kollega saam gewerk het.

“By die doop bediening was die doopformulier gelees en toe ek my hand in die doopvont druk om die kind te doop toe gryp die pa sy kind uit my hande en skree ‘ek sal nie toelaat dat jy my kind doop nie want jy is nie ʼn man nie, die Here was ʼn man’.”

Dit is daar waar ek besef het die kerk het niks gedoen om die teologiese antropologie te verander nie,” sê Plaatjies Van Huffel.

Volgens haar gaan dit nie net oor om ‘n vrou te bevestig nie maar die manier hoe die Bybel gelees word moes verander want vir jare het lidmate gelees dat ʼn  vrou onderdanig en stil moes wees.

“En nou ewe skielik sien hulle ʼn vrou voor hulle staan.”

Sy vertel dat hulle reeds in 1982 besluit het om vrouens te orden maar dat die formuliers en dokumente van die kerk inderhaas verander is na haar bevestiging sodat dit ten minste inklusiewe taal moes bevat soos hy/sy.

“ʼn Jaar na my bevestiging het die kerk in twee geskeur, die helfte het besluit om onder my manlike kollega te dien en ek het met die oorblyfsels gesit, ek het vir maande sonder salaris gewerk”

So as jy vir my vra, was die kerk nie gereed om vrouens te orden nie,” sê sy.

Ervaring van druk as vrou van kleur

Plaatjies Van Huffel is van mening dat vroue van kleur dit moeilik vind om hulle voete self in die akademie te vind.

“Wat ek vir myself gesê het was dat die universiteit ʼn beleid het en hierdie beleid is  ʼn bevorderingsbeleid.”

“Dit wil sê al wat ek religiously gedoen het was om vir my ʼn program te stel om hierdie voorvereistes van die universiteit na te kom.”

Een van die vereistes is “goeie navorsing” sê sy. Prof Plaatjies Van Huffel het gedurende 2013 die Rektors-toekenning aan die Universiteit Stellenbosch vir navorsingsuitsette gedurende 2011 ontvang.

“Dit is nie maklik nie maar ek het ʼn geweldige goeie netwerk van mense reg oor die wêreld wat my ondersteun.”

“In hierdie verskriklike moeilike akademiese omgewing het ons as vroue van kleur mekaar nodig om mekaar te help om vir mekaar geleenthede te gee sodat iemand sien waartoe jy in staat is.”

“Dit was baie moeilik om vanaf lektor, senior lektor, mede-professor tot volle professor te beweeg in net tien jaar” vertel Plaatjies Van Huffel.

Professoraat

Dit was nooit ʼn droom vir Plaatjies Van Huffel om ʼn professor te word nie.

Sy vertel laggend “die grootste droom wat ek gehad het was om ʼn onderwyser te wees”.

“Ek het wel op ʼn baie jong ouderdom het ek vir myself gesê dat ek teen ʼn sekere ouderdom my doktorsgraad wil hê dit was een my persoonlike doelwitte,” sê sy.

Vanaf haar aanstelling by die Fakulteit Teologie was dit haar visie om te sê “ek wil eintlik in die tyd wat ek hier is poog om ʼn professor te word en ek is dankbaar dat ek dit kon bereik”.

“Hierdie leerstoel beteken verskriklik baie want ek kom van ʼn tradisie af waar gesê word jy moet die stoel kan vol sit.”

Sy sê dat dit ʼn geweldige verantwoordelikheid is om ʼn volle professor te wees

“Die fakulteit en die subkomitee wat dit geëvalueer het asook die universiteit  wat die aanstelling goedgekeur het sê eintlik vir die publiek en universiteitsgemeenskap dat ons ʼn persoon gekies het ‘nie omdat sy van kleur is of affirmitive action nie’ maar as gevolg van die feit dat sy aan al die vereistes voldoen wat die US daar gestel het om bevorder te word,” sê Plaatjies Van Huffel.

Dit beteken ook dat Plaatjies Van Huffel in leer, navorsing en sosiale impak haar merk gemaak het beide internasionaal en nasionaal.

, ,