Meer fiksheid en minder eksamenstres by Mia’s Training

Ongeveer 70 studente het gisteroggend die winterkoue trotseer en ’n pretdraf van 6km aangedurf om ontslae te raak van eksamenstres. Mia Mocke (31), Häzz-ambassadeur en eienaar van Mia’s Training, het in samewerking met Häzz haar derde pretdraf vir 2018 aangebied.

Die groep studente het vroegoggend in ’n bibberende 7°c by Häzz in Ryneveldstraat weggespring en in die rigting van Jonkershoek begin draf. Na 28 minute het Sujen Roos (23), lid van Mia’s Training, eerste oor die eindstreep gekom en die res van die groep was kort op haar hakke.

IMG_20180527_085811 (1)

Häzz-koffiewinkel was die wegspring- en eindpunt vir die 6km-pretdraf wat gisteroggend plaasgevind het. Die koffiewinkel het ook pryse geborg wat tydens ’n gelukkige trekking uitgedeel is. FOTO: Jana Wentzel

Mocke het op die ouderdom van 16 reeds verlief geraak op fiksheid en het sedertdien al deelgeneem aan wedlope soos die Comrades, Ironman en die Absa Cape Epic en het na afloop van haar studies besluit om Mia’s Training oop te maak.

By Mia’s Training word klasse net vir vrouens aangebied en is dit meestal ’n kombinasie van hoë-intensiteit- en kragoefeninge. “Dit gaan daaroor om mense ’n gesonde leefstyl aan te leer,” sê Mocke. “Dit is nie soos [Kayla Itsines se] bikini bodies nie, ek wil mense leer om hulle oefening te geniet. Om gewig te verloor is ’n bonus. Daar is nie iets soos kitsoplossings nie, oefening moet ’n leefstyl wees.”

Volgens Roos is die oefengroep by Mia’s Training vir haar soos familie. “As ons oefen, dan oefen ons,” sê Roos. “Dis wat [Mia’s Training] laat uitstaan – ons almal is vriende, dis nie ‘n plek waarheen jy gaan en net ‘n nommer is nie. Almal moedig mekaar aan en hou mekaar verantwoordelik,” voeg sy by.

Marcia Reynders (23), nog ’n lid van Mia’s Training, vertel dat die lekkerste gedeelte van Mia’s Training vir haar die feit is dat die oefensessies slegs tot vroue beperk word. “Jy hoef nie om te gee oor hoe jy lyk of wie na jou gaan kyk nie,” vertel sy. “Jy voel nooit onseker oor jouself nie en jy raak vriende met almal wat saam met jou oefen. Jy oefen jou gat af, maar jy is nooit alleen nie.”    

“Mense wat aanvanklik nie een burpee kon doen nie, doen nou burpees met een hand,” vertel Roos. “Ander wat nie eens 1km kon hardloop nie, neem nou deel aan 21km-wedlope.”

“Vir my is die beste om te sien hoe die mens verander,” sê Mocke. “Ek kry kliënte wat skaam en ongemaklik in hul eie lyf is, maar na ’n paar maande begin hulle straal van geluk en voel hulle fiks en goed oor hulself.”

IMG_9506

Voor- en na-foto’s van sommige kliënte by Mia’s Training bewys dat oefensessies by dié gimnasium meer as net samesyn is. Vir Mia Mocke, eienaar van Mia’s Training, is gewigsverlies egter net ’n bonus. FOTO: Mia’s Training Webtuiste

Mocke, wat in Februarie geboorte geskenk het aan haar eersteling, Luka, vertel dat sy beplan om veel meer pretdraf-oggende vir 2018 te reël. “Ek dink die laaste pretdraf was toe ek 36 weke swanger was,” vertel sy. “Na [Luka] se geboorte het ek vir ‘n tydjie opgehou, maar ons beplan om meer gereëld sulke oggende te hou omdat mense dit regtig verskriklik baie geniet.”

Die 6km-pretdraf het vir deelnemers ’n eenvoudige roete tussen Stellenbosch se woonbuurte gebied. Deelnemers het by Häzz-koffiewinkel weggespring en kon na afloop van die wedloop weer hier ontmoet vir ’n warm koppie koffie.

Mocke meen dat oefening tydens eksamen die regte manier is om jou dag te begin. “Jy kry jou kop skoon,” meen sy. “Dit is elkgeval onmoontlik om heeldag op jou boude te sit en leer. Vat eerder ’n breuk en doen iets produktief in plaas daarvan dat jy sit en Binnelanders kyk.”

Mocke se 5 wenke vir ’n beginner by Mia’s Training:

[infogram id=”e8f231e7-f95b-424d-a179-4ac905290e6a” prefix=”yLk” format=”interactive” title=”Untitled facebook post”]

– Jana Wentzel