In sy begrotingsrede van Oktober 2018 het die minister van finansies, Tito Mboweni, aangekondig dat vanaf 1 April vanjaar belasting op toegevoegde waarde (BTW) nie meer op sanitêre doeke gehef sal word nie. Dit is as ’n belangrike stap geag in ’n voortgaande debatte rondom toegang tot bekostigbare, of selfs gratis, sanitêre doeke.
Volgens Nokuzola Ndwandwe, stigter van die #TeamFreeSanitaryPads-veldtog, tel dit as ’n oorwinning vir vroue in Suid-Afrika.
“Die afskaffing van BTW is ’n oorwinning vir Suid-Afrikaanse vroue, maar daar is nog meer werk wat gedoen moet word aangesien die afskaffing van BTW slegs voordelig gaan wees vir vroue wat kan bekostig om sanitêre doekies te koop, terwyl vroue en jong meisies in landelike gebiede benadeel sal word; en daarom is dit dringend dat sanitêre produkte gratis moet wees nes kondome,” sê sy.
Ndwandwe sê dat sy #TeamFreeSanitaryPads begin het omdat sy gevoel het dit is belangrik om vroue sowel as mans in te lig oor menstruele gesondheid en higiëne. Sy noem ook dat die veldtog oor veel meer as net BTW-vrye sanitêre produkte handel.
“#TeamFreeSanitaryPads glo dat die voorsiening van gratis sanitêre produkte deur middel van gesamentlike pogings dalk net die ding is wat kan help om armoede sowel as ongelyke geslagspatrone onder jong en kwesbare vroue te verlig,” sê sy.
Ander projekte is daarop gemik om hierdie kwessie aan te spreek deur die voorsiening van herbruikbare sanitêre produkte.
Een van hierdie projekte is die 60 Cycles Project, ’n nie-winsgewende organisasie (NWO) wat deur ’n groep Maties begin is. Hierdie projek beoog om fondse in te samel om herbruikbare sanitêre produkte te verskaf aan jong meisies in Malawi. Liza Hugo, ’n eerstejaar-BSc (Menslike Lewenswetenskappe met Sielkunde)-student, vertel dat die idee vir die projek gebore is uit ’n reis na Malawi.
“Ek het aan die begin van die jaar Malawi toe gegaan saam met my broer en toe het ons so bietjie gaan kyk wat is die grootste need daar. Ons het van skool tot skool gegaan en net vir hulle gevra wat is die grootste behoefte. Die ding wat my die grootste getref het, was die meisies wat gesê het hulle het nie sanitary pads nie en hulle gebruik ou broeke of swart sakke of hulle bly net by die huis en kan glad nie skool toe gaan nie. Dit was vir my baie sleg gewees en dis nie iets wat hulle kan help nie, want dis obviously soos ’n baie groot behoefte. Toe kom ek in Irene Dameskoshuis en ons begin dink aan wat ons kan doen,” sê sy.
Tesame met Hugo bestaan die span uit Joanne Conradie, Minette Pieters, Pauli Brown en Le Roux van der Merwe.
Die herbruikbare sanitêre produkte wat hulle wil aankoop, word vervaardig deur Subz Pants and Pads, wat in 2010 deur Sue Barnes begin is om herbruikbare sanitêre doekies asook onderklere te voorsien aan behoeftige jong meisies in haar area.
“Dit kom in ’n pakket, dan is dit nege pads en drie panties, en jy was dit. So jy het drie om in ’n dag te gebruik, dan kan jy die volgende dag drie ander skones gebruik,” sê Hugo.
Die naam “60 Cycles” verwys daarna dat ’n vrou in vyf jaar deur 60 menstruele siklusse gaan en een Subz-pakket hou vir vyf jaar.
Nog ’n NWO wat gemik is op die voorsiening van herbruikbare sanitêre doeke, is Dignity Dreams. Volgens Verita Shikwambana van Dignity Dreams is herbruikbare sanitêre doeke meer omgewingsvriendelik.
“Sowat een miljoen vroue gaan daagliks deur menstruasie en die gebruik van sanitêre doeke wat plastiek bevat dra by tot omgewingsbesoedeling. Ons produk is bio-afbreekbaar,” sê sy.
Beide Hugo en Shikwambana noem dat jong meisies wat nie toegang tot sanitêre produkte het nie se skoolloopbaan dikwels daaronder ly, in Suid-Afrika en Malawi. Shikwambana sê ook dat Dignity Dreams hulle daarop toespits om mense op te voed oor menstruele gesondheid.
“Baie jong meisies het geen idee wat gebeur wanneer hulle die eerste keer menstrueer nie, hulle het niemand om mee te praat nie en is bang om vir hulp te vra. Dignity Dreams lewer dus nie net ’n volhoubare produk nie, maar sluit ook opvoeding by die verspreidingsproses in,” sê Shikwambana.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie vier jaarliks op 28 Mei Menstruele Higiëne-dag.
Indien jy meer wil weet oor hierdie organisasies, ’n donasie wil maak of betrokke wil raak, volg asseblief die skakels:
60 Cycles Project
Instagram: @60cyclesproject
Webwerf: 60cycles.org
Dignity Dreams
Webwerf: info@dignitydreams.com
Facebook: Dignity Dreams
Twitter: @dignity_dreams
#TeamFreeSanitaryPads
Twitter: @Free_Sanitary_P
Instagram: @free_sanitary_p
Facebook: @teamfreesanitarypads