Musieklegende Bennie van Eeden lê tuig neer

Dit is hiér, in lokaal C322, ’n klein kamer op die derde vloer van die Universitet Stellenbosch (US) Musiekdepartement, waar honderde studente al op die wit en swart klawers van die dosent, Bennie van Eeden, se klavier ʼn toekoms gebou het.

Die muur agter sy lessenaar getuig van ʼn vol lewe: van foto’s saam met sy trio-groep waarmee hy in sy beginjare die land aan die brand gespeel het, tot sy omwentelinge met groot name in die bedryf soos Mimi Coertse en die tenoor André Serfontein.

“Dis nou tyd om af te tree,” sê hy. “My muur is vol.”

FEATURE FOTO

Bennie van Eeden in sy musiekklas in die US Musiekdepartement waar hy vir die afgelope 30 jaar reeds klasgee. FOTO: Nicolette van Schalkwyk

Van Eeden kon nog nooit, sedert hy voet aan boord gesit het as een van US se klavierdosente, uitvind waar sy liefde vir musiek vandaan kom nie.

“Dit weet ’n mens nie. Jy kry dit net.”

Die keuse het gelê tussen wiskunde en musiek nadat hy sy loopbaan begin het by die onderwyskollege op Wellington. Sy eerste liefde het gewen en hy het besluit om homself te gaan vind in die gange van die US Musiekdepartement. Hier is hy na ʼn paar jaar geroep om die groot skoene van sy oudprofessor, Bettie Cluver, te vul.

“Dis nou tyd om af te tree,” sê hy. “My muur is vol.”

Vandag is Van Eeden een van Stellenbosch se grootste musiekskatte en deel hy steeds sy kennis en lewenservaring in sy praktiese −, kamermusiek−, repertoriumstudie− en voorspeelklasse.

Ongeag die rits pryse wat hy reeds gewen het, onder andere die FAK Musiekbeurs, die Conservatoire Stipendium en die Meriete-Toekenning in sy finalejaarstudies, is klasgee steeds een van sy grootste passies.

Volgens Van Eeden, lê die beloning van klasgee in dít wat die studente daaruit kry. Hy sê hy geniet dit om te sien as studente vorder en praat met groot lof van sy oudstudente.

“Dis vir my lekker as studente gekies word om as soliste te speel in byvoorbeeld die Kaapse Filharmoniese orkes of as hulle oorsee gaan studeer.”

Bennie van Eeden saam met Mimi Coertse nadat hy haar begelei het tydens ’n optrede. FOTO: Nicolette van Schalkwyk

Bennie van Eeden saam met Mimi Coertse nadat hy haar begelei het tydens ’n optrede. FOTO: Nicolette van Schalkwyk

Een van hierdie studente is David Bester, vandag  ʼn musiekdosent aan Nelson Mandela Universiteit (NMU). Bester sê Van Eeden het hom geleer om objektief na sy werk te kyk en afstand te doen van al die emosionele bagasie waarmee hy sit.

“Buiten sy string suksesvolle studente, laat hy ook ʼn departement agter wat verryk is deur sy kennis, talent, droë sin vir humor en geduld,” meen Bester.

Hy meen dat Van Eeden ʼn ongelooflike toewyding tot sy kuns het en dat sy aftrede ʼn groot leemte laat, nie net by die fakulteit nie, maar ook vir klassieke musiek op die dorp.

Oor wat die toekoms van klassieke musiek op Stellenbosch inhou, is Van Eeden sélf baie positief.

“Daar is altyd ’n toekoms vir klassieke musiek, want alle goeie dinge het altyd ’n toekoms. Mens kan realisties wees en sê daar is nie ’n toekoms nie, maar ek dink dan is jy net pessimisties.”

Van Eeden meen dat die klein persentasie mense wat wel van klassieke musiek hou, altyd sal aanhou om hul ondersteuning te wys en na die konserte sal kom. Hy sê een van die grootste uitdagings vir klassieke musiek is die koste daarvan.

“Ten spyte van die duur kaartjies, het baie mense steeds die onlangse klaviersimposium en die klassieke musiekkonserte tydens die Woordfees baie goed bygewoon,” sê hy.

Van Eeden was vanjaar te sien in twee Mozart-musiekkonserte by die Woordfees saam met die twee ander lede van sy trio, Annemarie Bam, ʼn klavierspeler en die altvioolspeler, Karen Gertner.

Ten spyte van al die verskillende konserte waarby hy al betrokke was, is daar een wat uitstaan: in 2009, toe hy die geleentheid gekry het om die Endler-verhoog te deel met die internasionaal-bekroonde sangeres, Merita Napier, tydens die opening van die nuwe konservatorium.

Van Eeden het ook, sedert sy betrokkenheid by die ensembles, Collage en Taffanel, al die voorreg gehad om op te tree saam met van Suid-Afrika se bekendste kunstenaars soos Nellie du Toit, Aviva Pelham, Sabina Mossolow en André Howard, en ander internasionale sangers soos die Nederlandse sopraan, Julia Bronkhorst.

Vandag is hy ook die stigter van die Hennie Joubert Nasionale Musiekkompetisie waar hy steeds betrokke is as organiseerder en beoordelaar.

Die muur agter Bennie van Eeden is vol herinneringe wat getuig van sy ryk loopbaan. FOTO: Nicolette van Schalkwyk

Die muur agter Bennie van Eeden is vol herinneringe wat getuig van sy ryk loopbaan. FOTO: Nicolette van Schalkwyk

Vir Janu Engelbrecht, een van Van Eeden se klavierstudente, is dit enige student se droom om by Van Eeden klas te loop.

“Oom Bennie,” lag hy. “Wat ʼn legende. Wat sê mens oor iemand met so ʼn ryk loopbaan?”

Iets wat vir Engelbrecht altyd sal uitstaan van Van Eeden se werk is sy geloof in die vryheid wat musikante gegun moet word om hul eie interpretasie aan stukke te gee.

Engelbrecht meen Van Eeden het ʼn baie unieke manier van klasgee aangesien hy deur middel van metafore werk. Hy skets altyd ʼn beeld en laat studente dan toe om hul eie interpretasie daarvan te gee voordat hy ingryp.

Die feit dat hy op hierdie stadium nie besig is met nuwe werk nie, maak hom baie gespanne.

“As ek nie oefen vir iets nie, voel dit asof daar iets doodgaan in my. Asof ek geen doel dien nie.”

Vanjaar los Van Eeden sy loopbaan agter om hierdie teorie op die proef te stel.

“Ek het nog niks beplan nie, maar ek dink daar sal iets gebeur.”

Van Eeden sê hy dink hy gaan meer tyd aan sy trio-groep bestee en op Stellenbosch bly sodat hy meer konserte kan bywoon.

Oor die toekoms kan hy nie veel sê nie, buiten dat daar definitief musiek betrokke sal wees.

“Musiek het my dan nog altyd laat voel my lewe beteken darem iets,” lag hy terwyl hy na die foto-besaaide muur kyk. “En dit was fantasties om besig te wees met iets waarvan ek hou.”

,