ʼn Droom word nou ʼn realiteit

Enrico Hartzenberg is die skrywer en vervaardiger van die gewilde Engelse YouTube-reeds, Van Adamse, wat in 2019 vrygestel is. Tans is hy ook besig om aan die tweede seisoen van dié reeks te werk. Heidi-Jane de Wee het met hom gesels oor sy liefde vir die kunste en wat die toekoms vir hom inhou. 

Enrico Hartzenberg (24) se belangstelling in die wêreld van die kunste het begin toe hy nog ʼn kind was. Hy het tóé reeds geweet dat dit die rigting is waarin hy wil werk. 

“Toe ek jonger was het ek altyd in die huis tekere gegaan terwyl ek sing, dans en die woorde van my gunsteling akteurs hardop sê. Ek was totaal en al versot op die idee om iets in die kunste te doen,” sê Enrico. 

Hartzenberg vind sy inspirasie vir die wêreld van kuns in groot Hollywood-sterre soos Tyler Perry en Taraji P. Henson.

Die manier hoe akteurs op ʼn  kreatiewe manier ʼn boodskap aan kykers kan oordra, het sy passie verder aangevuur. 

 Sy vormingsjare 

Hartzenberg was van kleins af baie uitgesproke en nie skaam om homself te wees nie. 

“As kind was ek baie hardkoppig, hardwerkend en ook gedrewe om my doelwitte te bereik. Ek was mal oor ons voorstoep en dit is waar ek Gita McGregor en Paula van der Lecq van 7de Laan, se woorde met die grootste selfvertroue sou sê terwyl ek my verbeel dat ek op ʼn verhoog is,” sê Enrico. 

Hartzenberg is in Kaapstad in die Wes-Kaap gebore en het in Kuilsrivier grootgeword. Hier het hy sy skoolloopbaan by Sarepta Primêre Skool begin en daarna sy hoёrskoolloopbaan by die Hoёr Tegniese Skool (HTS) Bellville voortgesit. 

Hartzenberg was baie lief vir skoolgaan. 

“Ek onthou dat ek elke oggend al 6uur by die skool wou wees en dan moes my pa maar altyd saam met my halfpad stap,” sê Hartzenberg. 

Sy familie beskryf hy as ʼn bondel karakters en hy kan veral met sy ma en ouma lekker gesels en grappies maak. 

Enrico Hartzenberg saam met sy ouers, sy broer en een van sy vriende. Van links na regs: Paul Julies, Adriaan Hartzenberg, Johnathan Hartzenberg, Elizabeth Hartzenberg en Enrico Hartzenberg. FOTO: Verskaf deur Enrico Hartzenberg

Enrico Hartzenberg saam met sy ouers, sy broer en een van sy vriende. Van links na regs: Paul Julies, Adriaan Hartzenberg, Johnathan Hartzenberg, Elizabeth Hartzenberg en Enrico Hartzenberg. FOTO: Verskaf deur Enrico Hartzenberg

 

“Die een ding wat ons in gemeen het, is ons liefde vir stories. My ma en ouma hou baie daarvan om stories uit hul verlede te vertel en ek vind dit baie snaaks en verfrissend,” sê Enrico. 

Tog moes Hartzenberg sy drome alleen najaag. Dit was vir hom ʼn groot uitdaging, maar hy het ook hierdeur geleer dat hy nooit in homself moet twyfel nie. 

Van sy familielede het nie altyd in sy drome geglo nie. Daardeur het hy geleer om op homself staat te maak, omdat daar altyd ʼn moontlikheid is dat ander mense jou in die steek kan laat. 

“Baie van my familielede het baie keer gedink dat my drome onrealisties is, en daarom het hulle nooit saam met my na oudisies gegaan nie,” sê Hartzenberg.

PullQuoteTemplate 1

Dit het hom egter nie gepla nie. Hy het altyd geweet dat hy hard gaan werk om bo sy omstandighede uit te styg. 

Sy ouma was nog altyd een van sy steunpilare. 

“Sy is die grootste rede vir my sukses. Ek en sy het gedurig gesprekke in haar kamer gehad. Dan het sy altyd gesê, ‘My kind, doen wat jy moet doen, maar moenie soos die mense opeindig nie’,” sê Hartzenberg. 

Hy is dankbaar dat hy mense ontmoet het wat vir hom soos familie geraak het en aan hom die ondersteuning gebied het wat hy só broodnodig gehad het. 

“Ek het ondersteuning van my beste vriendin en ‘suster’, Crystal Donna Roberts, gekry. Sy en Lee-Ann van Rooi het saam my grootste bondgenote gevorm. Saam met hulle kan ek enige iets oorkom,” sê Hartzenberg. 

Beide Roberts en Van Rooi is gevestigde akteurs. Roberts vertolk die rol van Janice in die Afrikaanse sepie, Arendsvlei, en Van Rooi die rol van Farah in Suidooster.

 

Enrico saam met Crystal Donna Roberts. Sy het as sy mentor opgetree toe hy die vermaaklikheidsbedryf betree het. FOTO: Verskaf deur Enrico Hartzenberg.

Enrico saam met Crystal Donna Roberts. Sy het as sy mentor opgetree toe hy die vermaaklikheidsbedryf betree het. FOTO: Verskaf deur Enrico Hartzenberg.

 Van woorde na dade 

In sy matriekjaar, in 2013, het Hartzenberg reeds begin werk aan die toekoms wat hy vir homself wou bou.

“Ek het baie stories op my skootrekenaar gehad, maar toe ek sien dat een van my stories in totaal al 32 bladsye lank was, het ek meer aandag daaraan begin gee en meer uitgebrei. Daarna is dié storie vir die eerste keer in 2018 tydens die US Woordfees in Stellenbosch opgevoer,” sê Hartzenberg.

Hartzenberg het in 2014 sy tersiêre studies aan Boland College begin waar hy vir twee jaar besigheidstudies studeer het. Tans is hy ʼn finalejaarstudent in BA Drama- en Teaterstudie aan die Universiteit van Kaapstad (UCT). 

“Dit was al die jare my plan om eers in die rigting van besigheid te studeer en daarna verder in teaterstudie en drama te studeer, omdat ek wou weet hoe ek eendag my passie vir die kunste in ʼn besigheid kan omskep,” sê Hartzenberg.

PullQuoteTemplate

Hartzenberg het ook al naam gemaak in die produksiebedryf.

“Ek het in 2016 by die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) gewerk as produksiebestuurder van Die dans van die Watermeid by die Baxter Teater in Kaapstad. Dieselfde inisiatief het my ook genomineer as die beste opkomende kunstenaar vir my teaterstuk, Liefde is rooi, en dit het my regtig gehelp om my voet in die deur van die bedryf te kry,” sê Hartzenberg. 

Enrico Hartzenberg op die stel van Op en Af. Dié program het in Februarie 2020 op die kassie verskyn. FOTO: Enrico Hartzenberg.

Enrico Hartzenberg op die stel van Op en Af. Dié program het in Februarie 2020 op die kassie verskyn. FOTO: Enrico Hartzenberg.

Ten spyte van die erkenning wat Hartzenberg al vroeg in sy loopbaan vir sy werk ontvang het, bly dans vir hom die “moeder van kunste”, omdat dit die veld is waar hy genoeg selfvertroue gekry het om te begin sing en skryf. 

Verder het Hartzenberg ook al die geleentheid gekry om saam met Diaan Lawrenson aan die verhoogproduksie, Op en Af, te werk. 

PullQuoteTemplate 2

Die toekoms is blink 

As Hartzenberg ʼn prentjie van sy toekoms moet skep, sluit dit ʼn huis in Johannesburg in, omdat daar baie meer geleenthede in die vermaaklikheidsbedryf is. Verder wil hy ook sy eie produksie-onderneming stig, waar hy eienaarskap kan neem oor die werk wat hy skep. 

Hartzenberg saam met twee mede-sterre op die stel van sy YouTube-reeks, Van Adamse. Van links na regs: Monique Rockman en Lee-Ann van Rooi. FOTO: Instagram/Van Adamse

Hartzenberg saam met twee mede-sterre op die stel van sy YouTube-reeks, Van Adamse. Van links na regs: Monique Rockman en Lee-Ann van Rooi. FOTO: Instagram/Van Adamse

Sy lewensfilosofie om sy drome waar te maak?

“Doen die harde werk. Dit is belangrik,” sê Hartzenberg.

 

, ,