Daar is slegs een naam wat opkom wanneer kunsliefhebbers ’n kleurvolle skildery van blomme, lugballonne en spelende kinders sien: Portchie. Karla de Bod het gesels met dié Stellenbosse skilder wat net so kleurvol is soos sy skilderye.
Die kunstenaar Portchie glo dat hy gebore is in kleur. Volgens hom is sy droomkunswerk iets waarna mense weer wil kyk. “Kuns moet ’n emosie in jou aanwakker,” sê hy. FOTO: Karla de Bod
Portchie sit by sy 15-jaar oue esel en grawe in die hoop verfbuisies op die tafel langsaan hom. Hy soek ’n kleur om die laaste blomkoppie op sy skildery te verf, maar kan nie ’n besluit maak nie. “Pienk of oranje?” wonder hy. Hy sit die verfbuisies terug en los dié besluit vir later.
Kleurvolle kinderjare
Jan Hendrik Viljoen, beter bekend as Portchie, het in die Vrystaatse dorp Tweeling grootgeword as die seun van ’n groenteboer en ’n kleremaker. Volgens Portchie het die kleure van sy kinderjare en waar hy grootgeword het, steeds ’n groot invloed op sy kunswerke.
“In my pa se groentewinkel het ons altyd gewerk met velkleure; geel wortels, pers beet, rooi tamaties, groen koolblare,” sê Portchie. “Dit was net kleure orals. En dit het ’n massive invloed gehad op my.”
Portchie se ma het ’n klerewinkel besit. Sy het klere gemaak en verkoop. Hiérdie klerewinkel het vir Portchie geleer oor perspektief, sê hy. “My ma kon ’n rok sny sonder ’n patroon. Sy het ’n verskriklike goeie oog gehad en ek het dit van haar geërf.”
“Ek trek my inspirasie van die eenvoudige goed af; van hoe mense by kafeetjies sit, hoe hulle loop of staan en gesels met mekaar, kinders wat speel,” sê Portchie Viljoen terwyl hy sy skildery afrond. “Dis my beelde, dis my skilderye. FOTO: Karla de Bod
Terwyl hy sy kinderjare as baie kleurvol beskryf, vertel die skilder dat hy as kind baie hard gewerk het.
“Ek moes altyd my ouers in die winkel help… groente oes en groente verkoop van huis tot huis. Dit was ’n never ending story van harde werk en geen tyd vir jouself nie,” vertel Portchie. “Daai eerste 10 jaar [van my lewe] – wat ek kan onthou – was te hard op my. Ek het nooit tyd gehad om te speel nie.”
Vandag, met oor die 18 450 oorspronklike kunswerke wat al verkoop is, maak Portchie uiteindelik op vir sy verlore speeltyd.
‘Kleur is vreugde’
Portchie beskryf sy werk as iets waarna jy kan kyk om vreugde te ervaar. “Ek dink kleur is vreugde, en vreugde kan die beste beskryf word in kleur,” sê hy.
Vreugde kan die beste beskryf word in kleur.
Hiérdie vreugde omring enige persoon wat Portchie se kunsgalery op Stellenbosch, The Red Teapot Gallery, kom besoek, sê Helena Viljoen, die skilder se oudste suster.
Viljoen werk al vir 19 jaar in die galery. Sy vertel dat sy daagliks sien hoe Portchie se kuns vreugde bring vir besoekers.
The Red Teapot Gallery, Portchie Viljoen se kunsgalery op Stellenbosch, bied vreugde vir besoekers deur middel van kleur, vertel Helena Viljoen, Portchie se suster wat by die galery werk. “Die lewe is redelik moeilik en swaar, so jy moet elke dag soek vir die mooi. So, as mense elke dag omring is met die mooi, helder kleure van die galery, dan kikker dit mense se dag op,” sê sy. FOTO: Karla de Bod
“Sy kuns maak mense gelukkig; ek sien dit daagliks in die galery. Ek dink dit is [as gevolg van] die helder kleure en omdat dit so vrolik is. Dis opbeurend. En dis hoekom ek ook daarvan hou,” vertel Viljoen.
Portchie sê die doel van die helder kleure in sy kunswerke is juis dié vreugde wat in die balans van kleure gevind word.
“Vreugde lê nie in vaal kleure nie; dit lê in die verskeidenheid van kleure en die balans van kleure,” sê Portchie. “Dit is die balans, en al die goed saam, wat jou iets van vreugde laat ervaar.”
Geseënd en geliefd
Portchie glo dat sy sukses te danke is aan sy geloof, en aan geliefdes in sy lewe.
Die Here se seën lê in my werk.
“Ek dink die grootste rede hoekom ek vandag suksesvol is, is omdat ek gelowig is en ek seën ervaar van die Here af. Die Here se seën lê in my werk,” sê Portchie.
Hy sê dat die geaardheid van sy kliënte hom verder toelaat om te groei in wat hy doen. Hy meen dat sy kliënte “heel mense” is. “Dis mense wat dit mooi maak rondom hulle en vir hulle vriende en familie. So, ek werk met ’n ontsettende mooi sirkel mense, en dit maak dat ek ’n brand kon opmaak met my werk.”
Portchie weet wie hy is en waar sy talente vandaan kom. Dít laat hom verder toe om sy werk betekenis te gee, vertel Portchie se goeie vriend Ds. Johan Els.
As Portchie Viljoen nie geskilder het nie, dan sou hy baie armer gewees het in gees, sê hy. “Ek sou altyd gehunker het na iets. Dit sou wees asof iets missing is.” FOTO: Karla de Bod
“Portchie is ’n ‘gee’ mens en ’n ‘oop’ mens. Hy het talente en gawes wat hy weet nie vanself kom nie. Alles wat hy is en wat hy nog gaan word, weet hy is net genade,” sê Els. “Dit is by geloof waar Portchie sy krag kry om elke dag te weet wie hy is en daarom nie te twyfel aan wat hy vir mense kan beteken nie.”
Els vertel dat Portchie ’n groot kapasiteit vir abstrakte en deurdagte denke het. Portchie het die vermoë om te leer en om emosionele kennis oor te dra – nie net deur sy verfkwas nie, maar deur sy kreatiwiteit in baie sfere, sê Els.
’n Perfekte, geskilderde wêreld
As Portchie die perfekte wêreld kon skilder, sê hy dat dit ’n wêreld vol blomme sou wees.
As die wêreld meer kleurvol is en daar meer harmonie is, dan sal mense meer gelukkig wees.
“As jy deur ’n veld vol blomme stap, doen dit iets aan jou siel. Dit maak jou vrolik en dit maak jou gelukkiger. Ek wil altyd hê mense moet gelukkiger wees,” sê Portchie. “As mense hartseer is, dan is dit nie maklik op my nie. Ek voel saam met mense… amper te veel. So, ek glo as die wêreld meer kleurvol is en daar meer harmonie is, dan sal mense meer gelukkig wees.”
Portchie Viljoen werk graag in sy kleurvolle sitkamer wanneer die winter aanbreek. “Dis warmer hier by die kaggel en lekker by die klavier. Mense kom sit rondom my en praat nonsens, en dis lekker,” sê hy. FOTO: Karla de Bod
Portchie kyk vir ’n oomblik op van die skildery waarmee hy besig is en beduie na die venster toe. Hy wys na die groen bome buite die venster en verduidelik hoe die rooi malvas wat daarop groei die prentjie afrond. Hy sê dit is kleur wat ’n mens alles in ’n ander lig laat sien en dat selfs mense só kleur kan wees.
“As ek ’n kleur was dan sou ek geel gewees het,” sê hy. “Ek is ’n sonneblom. Dit maak my vreeslik gelukkig; die uitwendigheid van ’n sonneblom. Dit draai altyd na die son toe.”
Portchie kyk na die bos sonneblomme in die glaspot oorkant hom. Hy glimlag amper asof hy iets besef het. Die skilder grawe vir ’n laaste keer in die hoop verfbuisies op die tafel langsaan hom. Die laaste blomkoppie op die skildery kry uiteindelik sy kleur: Geel. Helder, sonneblomgeel.