’n Man van vele woorde

“’n Energieke en joviale leier wat nie alleenlik gereeld met nuwe, innoverende planne vorendag kom nie, maar ook die pas aangee in die uitvoering daarvan.” Só beskryf dr Gerda Odendaal, mederedakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), vir dr Willem Botha.

Botha is tans hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die WAT, en tree aan die einde van die jaar af. Hy het met MatieMedia se Karla van der Merwe gesels oor sy ervaringe by die WAT. 

woordeboeke

Dr Willem Botha, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), tree vanjaar af. Hy het in 1988 by die WAT se redaksie aangesluit. FOTO: Karla van der Merwe

As Afrikaansonderwyser, het dr Willem Botha sy werk “ontsettend bevredigend” gevind, maar na ’n ruk het hy begin voel dat dit tyd was om aan te beweeg. 

“Ek het begin voel ‘ek het hierdie werk al beter behandel’,” sê Botha oor klasgee. “As ’n mens iets te veel keer doen dan begin jy eintlik dit swakker doen.”Hy het in 1988 by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) begin werk. Die werk het vir hom interessant gelyk het en hy het reeds mense daar geken. In 2004 is Botha as die woordeboek se hoofredakteur aangestel.

Terugkeer na die Eikestad

Botha

Hierdie uitstalling in die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal beeld die verskillende wyses waarop inskrywings oor die jare geskryf is, uit. FOTO: Karla van der Merwe 

Vir Botha was een van die WAT se groot “trekpleisters” dat hy na Stellenbosch kon terugkeer. Dit is hiér waar hy sy skooljare, hoofsaaklik by Paul Roos Gimnasium, en sy studentedae aan die Universiteit Stellenbosch (US), deurgebring het. 

“Ek het uitgesien om weer op Stellenbosch te wees, weer dieselfde koffieplekke te besoek en deur die akkerblare te loop in die winter,” sê Botha, oor sy skuif na die WAT toe destyds.

Hy het ook gevoel dat dit makliker sou wees om sy doktorsgraad te voltooi as hy in Stellenbosch se akademiese atmosfeer in die nabyheid van die biblioteek en sy promotor kon wees. Botha het aanvanklik sy doktorsgraad onder leiding van prof Fritz Ponelis, die voormalige voorsitter van die US se Departement Afrikaans en Nederlands, probeer behaal terwyl hy nog ’n onderwyser was. Hy vertel dat hy dit egter “net onmoontlik” gevind het. 

“En natuurlik, prof Rufus Gouws was ’n ander krag wat my getrek het omdat hy saam met my op die universiteit was en sy spesialiteitsgebied die leksikografie is,” vertel Botha. “Ek het toe my doktorsgraad onder hom gedoen as promotor.”

Gouws, tans ’n dosent aan die US se Departement Afrikaans en Nederlands en ondervoorsitter van die WAT-direksie, meen dat dit een van sy lekkerste ervarings was toe Botha sy doktorsgraad onder sy studieleiding gedoen het.

“Tydens ons eerste afspraak het hy gesê daar is iets waaroor ons duidelikheid moet hê: Wanneer hy na my kantoor kom om oor sy doktorsgraad te praat, is hy my student. As ons by die kantoor uitstap, is ons weer vriende,” sê Gouws. “Dit het tot ’n baie lekker werksverhouding gelei.”

Gouws sê dat hy en Botha op voorgraadse vlak saam klasgeloop het. Hulle paaie het egter tydens hul honneursjaar geskei. Gouws vertel dat Botha – “’n vrolike en laggende student met ’n lekker bos blonde krulhare” – eenmaal tydens hulle honneursjaar ’n klas van prof DJ Opperman saam met hom wou bywoon. Botha het egter vergeet om vooraf met Opperman te reël.

“Midde-in die klas het Opperman die groepie studente om die tafel getel en besef daar is een meer as wat daar moet wees,” vertel Gouws. “Hy sê toe: ‘Ons het ’n spioen in ons midde. Wie is dit?’ Heel verleë het Willem Botha toe sy hand opgesteek.”

VERMIS 

Botha

Dié vermis-plakkaat is in Dr Willem Botha, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), se kantoor te siene. Die Buro van die WAT is in Stellenbosch gesetel. FOTO: Karla van der Merwe

In Botha se kantoor naby die deur hang ’n vermis-plakkaat met ’n foto van ’n WAT-boekdeel daarop. Botha vertel dat die WAT met elke nuwe boekdeel vir Gouws ’n paar kopieë gee sodat sy honneursstudente die woordeboeke in die klas en by die huis kan bestudeer en dan sekere aspekte in die klas kan bespreek. Volgens Botha het dit toe eenmaal gebeur dat ’n student haar kopie verloor het en huilend by Gouws se kantoor aangekom het.

“Toe het sy dié plan bedink: Sy het ’n foto van die woordeboek van ons webtuiste af gekry en dit as ’n verlore artikel geadverteer op al die kennisgewingborde en dit nooit teruggekry nie,” vertel Botha. “Dis soos Rufus [Gouws] sê, dis soos ’n Bybel wat weggeraak het; ’n mens hoop dat dit ter stigting van die persoon is wat dit neem.”

Gouws voeg by dat Botha die plakkaat gesien het en die student se woordeboek uiteindelik vervang het.

’n Baas soos min 

Botha

Dr Willem Botha, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, vertel dat sy gunsteling woord in die woordeboek “karnuffel” is. FOTO: Karla van der Merwe

“’n Mens weet altyd waar dr Willem Botha in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal se kantoorgebou is, want jy kan hom altyd oor ’n afstand hoor lag,” sê dr Gerda Odendaal, mederedakteur van die WAT.  “Hy het altyd tyd vir ’n grappie of ’n snaakse staaltjie en geniet dit altyd met oorgawe!”

Odendaal meen dat dit lekker is om saam met iemand soos Botha te werk wat eerder voorvat met projekte as om vir ander voor te sê wat om te doen. Sy is die afgelope ses jaar ’n mederedakteur by die WAT en is hoofsaaklik “gemoeid … met woordeboekskryf”. “Ek werk egter ook nou saam met Botha aan verskeie ander projekte wat die WAT en Afrikaans raak,” vertel Odendaal. “Ten aanskoue van sy onverdrote ywer vir en toewyding tot die WAT en Afrikaans, kan ’n mens nie anders as om daardeur geïnspireer te voel nie. Dr Botha besiel ’n mens dus om die werk aan die WAT met dieselfde geesdrif aan te pak.”

Van L tot SRP-SZONDI…

Botha

Die volledige bestek van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) strek oor 16 boekdele. Soos die bykans een miljoen woorde van die Afrikaanse woordeboeke oor die jare sedert 1926, aldus die WAT se webwerf, bewerk word, word dit geleidelik en gedeeltelik alfabeties in aparte boekdele vrygestel. 

Volgens dr Willem Botha, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die WAT, is daar in 2018 besluit dat hulle die woordeboek binne tien jaar tot by Z moet voltooi. FOTO: Karla van der Merwe

Die eerste WAT-boekdeel waarby Botha betrokke was, is die negende boekdeel en behels woorde wat met L begin. Hy beskryf die oomblik toe hy daardie woordeboek die eerste keer in sy hande kon vashou, as ’n “ongelooflike ervaring”. 

“Hier is die tasbare bewys van jou arbeid. Dit is besonder bevredigend,” sê Botha.

Hy verduidelik dat dié boekdeel die eerste een was van wat hy as die “nuwe, getransformeerde WAT” beskryf. “Die verskil tussen L en die voorafgaande agt dele is ooglopend – baie korter, minder sitate, [en ’n] baie meer leesbare aanbod,” verduidelik Botha.

Botha is egter ook die laaste redakteur wat ’n tasbare nuwe boekdeel van die WAT in sy hande sal kan vashou aangesien daar besluit is dat die volgende afdelings ná SRP-SZONDI nie meer gedruk gaan word nie. “Dit is ’n hartseer gevoel, maar die besluit is geneem op grond van werklikhede,” meen Botha. 

Buiten dat die druk daarvan te duur geword het en verkope afgeneem het, sê Botha dat die elektroniese woordeboek gebruikers “soveel beter soekfasiliteite [bied]”.

Maryna Adshade, ’n honneursstudent aan die US se Departement Afrikaans en Nederlands wat vanjaar haar navorsing in leksikografie doen, meen dat dit interessant is om waar te neem hoe die ouer boekdele intussen aangepas is vir die aanlyn weergawes daarvan “om meer geskik te wees vir die huidige politieke en sosiale konteks waarin ons is”.

“[Botha] het al aan my verduidelik hoe die leksikograwe teruggegaan het en veral baie rassistiese woorde herbewerk het en hoe die WAT se personeel tans daaraan werk om meer variëteite van Afrikaans in te sluit,” vertel Adshade.

Botha meen dat die enigste nadeel van die aanlyn woordeboek is dat ’n mens slegs die woord en die daarbygaande bewerking wat nageslaan is, sien. “In die boek blaai jy rond en die verskynsel van toevalligheid, die goeie Engelse woord serendipity, bring baie onverwagse vondse, en dit verloor jy in die elektroniese woordeboek,” sê Botha. “Ek sou graag wou sien dat die slim mense ’n aanlyn woordeboek ontwikkel waarin jy kan blaai en waar die woorde voorafgaande en volgende op die spesifieke woord [ook gesien kan word].”

… tot by Z

woordeboeke

Dr Willem Botha, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, staan hier saam met die eerste en die laaste fisiese boekdele waarby hy betrokke was. FOTO: Karla van der Merwe

“Ek tree aan die einde van die jaar af,” sê Botha. 

Hy voeg tong in die kies by dat hy en sy dogter besluit het dat hy eersdaags as ’n barista opgelei moet word. “Ek hou van mense, ek hou van gesels, dit sal vir my baie lekker wees,” grap Botha.

Odendaal beaam dat Botha ’n sterk belangstelling in mense en hulle persoonlike stories het. “Ek is seker hy ken omtrent 80% van die mense in Stellenbosch! Hy skroom nie om ’n geselsie met ’n vreemdeling in ’n koffiewinkel of op straat aan te knoop nie en het só al talle interessante mense met unieke lewensverhale leer ken,” sê sy. “Ek is seker hy sal al ’n boek kan skryf oor al die besondere karakters wat hy oor die jare ontmoet het. Hy is ’n ware mensmens.”   

Botha vertel dat hy ook ’n aanbod ontvang het om klas te gee by ’n vliegskool naby die Stellenbosch Vliegklub. “Dit gaan ’n gewone WKOD-skool wees, maar met twee vakke en ’n praktiese afdeling wat die leerders in staat gaan stel om ’n vlieglisensie op 16 te kry,” verduidelik Botha. 

Sy raad aan die jonger generasie is, onder meer, om te glo in iets groter as jouself. “Wees goed vir ander mense, wees dankbaar, en kry oefening! Dis goed vir die gees en die liggaam.”

, ,