ʼn Plaaslike studentevereniging hoop om vanjaar te fokus op ʼn tema wat studente nader aan hul huistaal kan bring. Dit is volgens Mari Koegelenberg, voorsitter van die Vereniging vir Afrikaansstudente (Ver[R]as) se kommitee.
Ver[R]as het die jaar op 5 Maart 2025 afgeskop met hul jaarlikse poësie-vertoning, en met “gemeenskap” as die tema vir die jaar, het Koegelenberg gesê.
Volgens Koegelenberg het Ver[R]as uit die Departement Afrikaans en Nederlands by die Universiteit Stellenbosch (US) ontstaan. Dié vereniging bied deur die loop van die jaar talle geleenthede vir studente aan om Afrikaans as gemeenskapstaal te versterk, het sy gesê.
Die Vereniging vir Afrikaansstudente (Ver[R]as) se eerste openbare geleentheid vir die jaar was baie gewild, met kaartjieverkope wat byna verdubbel het teenoor verlede jaar, het Mari Koegelenberg, voorsitter van die Ver[R]as-komitee, gesê. Foto: Nadia Swart
Om mense bymekaar te kry
“Ons noem dit sosiale geleenthede, want dis eintlik enigiets met Afrikaans. So basies met hierdie jaar se tema wat “gemeenskap” is, probeer ons rêrig net die mense bymekaar kry,” het Koegelenberg gesê.
Kaartjieverkope het vanjaar, vir die spesifieke geleentheid, feitlik verdubbel teenoor verlede jaar, volgens Koegelenberg.
“Ons het [vanjaar] sowat 70 inskrywings gekry en verlede jaar 45,” het sy gesê. “Dit wys definitief dat daar wel ʼn belangstelling is. Ek dink Afrikaans het ʼn gemeenskap van mense wat lojaal is aan die taal.”
Bring mense nader aan hul huistaal
Die doel van vanjaar se tema was om mense nader aan hul huistaal te bring, het Koegelenberg gesê. “Ons is so verskillend, maar die ding wat ons saam bring, is ons liefde vir ons taal. Alles hier is belangrik om eenheid te vind in Afrikaans,” het Danelle Jacobs, ’n digter, by die poësie-vertoning gesê.
Volgens Koegelenberg het 12 digters vanuit die 2024 Penseel-uitgawe tydens die geleentheid hul poësie en prosa aan die gehoor voorgelees. “Penseel is die jaarlikse bundel wat deur die Departement Afrikaans en Nederlands gepubliseer word,” het Rua Mostert, BAHons Frans-student gesê.
Lara van Heerden, een van die deelnemers aan ʼn paneelbespreking het tydens vanjaar se poësie-vertoning gepraat oor hoe dit voel om in jou huistaal te skryf. Sy beplan om vanjaar slegs op haar skryfkuns te fokus, het sy gesê . FOTO: Nadia Swart
Benewens die voorlesings, was daar ook ʼn paneelbespreking oor kwessies rondom skryf in Afrikaans, asook ʼn sogenaamde open mic-geleentheid, het Koegelenberg gesê.
Vanjaar se poësie-vertoning was ʼn groot sukses, aangesien die tema van “gemeenskap” deur die geleentheid beklemtoon is, volgens Tamlyn Lewies, ’n digter by die geleentheid.
Die deelnemers van die onlangse Ver[R]as poësie-vertoning: [Van links na regs, agter] Mari Koegelenberg; Lara van Heerden; Emma Olivier; Danelle Jacobs; [Van links na regs, voor] Tamlyn Lewies; Zandri van Greunen; Suné Mostert; Kabous de Wet. FOTO: Nadia Swart
“Ons is maar ʼn klein taal en daar is soveel variante, en die feit dat ek dit kan deel met my universiteit, met my land […] laat my net voel of ek deel is van die Afrikaanse gemeenskap,” het Lewies gesê.
“Daar is goed wat jy net in Afrikaans kan sê,” het Zandri van Greunen, een van die deelnemers aan die paneelbespreking, gesê.