Nanette van Rooyen se reis na romans

Skryf vloei in Nanette van Rooyen se are. Sy het aanvanklik as ’n uitgewer gewerk en groot name in die Afrikaanse literatuur se werke die lig laat sien. Maar die laaste twee dekades is dit haar eie romans wat haar tyd in beslag neem.

Nanette van Rooyen het op skool begin skryf. Maar toe sy haar loopbaan in die uitgewersbedryf begin het en met “impossante mense” gewerk het, het sy eers haar eie skryfwerk opsygesit.

Van Rooyen het met “ghoeroes” soos Breyten Breytenbach en Abraham H. de Vries gewerk.

“Omdat ek met hierdie impressive mense gewerk het, was ek bang om self te skryf,” sê sy.
Sy het ’n “skelm laai” gehad waarin sy al haar eie tekste gebêre het. Slegs haar ma het van dié laai geweet.

Op die boonste ry van Nanette van Rooyen se boekrak, sal jy sien watter boeke sy die meeste liefhet. FOTO: Dominique Fuchs

Van Rooyen het aanvanklik as onderwyser gewerk, maar na ’n jaar in Umtata in die Transkei, het sy besef dat onderwys nie vir haar is nie.

“Wat ek toe doen, is ek vat die boeke uit die boekrakkie van my en kyk voorin wie is die uitgewers en wat is hulle adres.” En so het sy begin om aansoek te doen vir werk by uitgewerye in Kaapstad.

Sy het in 1986 werk gekry by Perskor in die Kaap en haar loopbaan as uitgewer daar begin.

Aanhouer wen

Toe Van Rooyen in 1999 moes trek, het sy die skelm laai uitgetrek en gesê: “Nou neuk ek al die goed weg.”

Daar was toevallig in daardie tyd ’n skryfkompetisie, die De Kat-vonkfiksiekompetisie, vir kort-kort fiksie – stories tussen 500 en 700 woorde lank. Volgens Van Rooyen is dit “van die moeilikste skryf wat daar is”.

Sy het ’n storie van sowat 800 woorde in die skelm laai gevind en hier en daar woorde uitgehaal.

“Toe pos ek die ding en smyt die ander goed weg. En wraggies wen ek die kompetisie,” sê sy. Daarna het sy gevoel dat as “een mens vir jou ’n klein kloppie op jou skouer gee, dan moet jy nie stupid wees nie”.

Nanette van Rooyen probeer soms om haar boekversameling uit te dun. “Dit is moeilik – dit is soos om jouself met ’n skalpel te sny.” Die hopie sal eers vir ’n maand lank só staan terwyl sy daaroor tob. FOTO: Dominique Fuchs

Terug voor die boeke

Van Rooyen het haar eerste roman, Chinchilla, in 2003 geskryf tydens haar meestersgraad in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. Die befaamde skrywer Etienne van Heerden was haar studieleier. Sy was in daardie stadium swanger met haar tweede dogter Leah en moes sydelings by die banke inskuif.

“Die jonger studente het dit verskriklik vermaaklik gevind,” onthou sy.

Sy meen dat haar skryfwerk uit daardie tyd van haar beste werk was. “Want daar was nie tyd om jouself te verneuk of grand te wees nie.”

Wanneer sy klaar Leah se doek aangesit het of haar gevoed het, het dit nie saak gemaak of dit “vyfuur die oggend of twaalfuur die nag is nie”.

“Dan gaan sit jy en skryf. En daai gekondenseerde stukkie is dan die eerlikste. Ek het bloed gesweet, maar ek besef nou dit het my net gebaat.”

Skrywersdissipline

Tans werk Van Rooyen meestal aan haar eie skryfwerk en met uitgewers op uitnodiging. Volgens haar moet ’n mens as skrywer geweldig gedissiplineerd wees.

“Dis moeilik [om te skryf], want jy het nie ’n poliesman wat agter jou staan of ’n dosent wat vir jou spertye gee nie. Dan raak ’n mens sleg. Veral as ek so wegraak in navorsing, dan besef ek dat ek eintlik twee dae laas iets geskryf het.”

“As jy regtig goed wil skryf oor mense, dan loer jy hulle af.”

Van Rooyen het nie ’n streng roetine nie, want “dit is moeilik om te skryf en ma te wees”. Sodra almal in die oggend uit die huis uit is en dit raak stil, gaan sit Van Rooyen en kyk terug na wat sy die vorige dag geskryf het.

“Die dissipline word ook gedryf deur die feit dat ’n mens nou vir jouself moet geld maak. En ’n mens kan nie sportmotors koop as jy ’n skrywer is nie.”

Van Rooyen verkies om in haar studeerkamer te skryf, al is koffiewinkels “vreeslik romanties”. Tog vaar sy na koffiewinkels toe om mense dop te hou.

“As jy regtig goed wil skryf oor mense, dan loer jy hulle af. Dis al hoe jy oortuigend kan skryf.”

Sy put ook baie inspirasie deur haar kinders se gesprekke “af te luister”. Sy sê sy leer ontsettend baie uit haar kinders se gesprekke.

Nanette

“Sy lees nie boeke nie. Sy vreet hulle op en dan verteer sy dit sodat dit deel van haar murg word. Sy is ’n onbeskaamde bibliofiel,” sê Johann Crous oor Nanette van Rooyen. FOTO: Dominique Fuchs

Volgens die joernalis en skrywer Gerrit Rautenbach het Van Rooyen uitstekende waarnemingsvermoë wat van haar die skrywer maak wat sy is. Rautenbach en Van Rooyen se vriendskap kom al byna twee dekades aan.

“Sy kies haar woorde fyn – elkeen moet hard werk, veral haar dialoog. Sy skryf vir slim mense, maar nie oor jou kop nie,” sê Rautenbach oor haar werk.

’n Heen-en-weer roman

Van Rooyen het op Sondag 19 September 2021 presies om 19:18 ’n kort paragraaf geskryf en dit aan haar vriend, die skrywer Johann Crous, gestuur. Hy het geantwoord en gesê: “Jy kan dit nie hier los nie.” Hy skryf toe ’n paragraaf oor daardie paragraaf en nou trek hulle al by bladsy 185 van hulle gesamentlike roman.

Crous en Van Rooyen skryf om die beurt tonele waarop die ander skrywer moet reageer. Volgens Crous raak die uitdaging al moeiliker, want jy weet nooit vooraf hoe die storielyne kan ontwikkel nie.

“Dis vrek moeilik, mens wil mekaar flou slaan met ’n plank, maar dit het my weer streng aan die skryf gekry,” sê Van Rooyen.

Volgens Crous is Van Rooyen uiters taktvol. “As ek sy was, het ek myself al lankal van die projek gefire,” sê Crous oor hulle projek.

“Nanette is soms geniepsig en gooi aspris ’n draaibal om my te laat afsien van my vooropgestelde idees. Sy is ’n goeie onnie!”

Nanette

“’n Kontemporêre boheemse romantikus met die wysheid van Athene en die kleurvolheid van ’n kaleidoskoop,” só beskryf die skrywer Johann Crous vir Nanette van Rooyen. FOTO: Dominique Fuchs

Volgens Crous skryf Van Rooyen uit haar “diepgewortelde arsenaal van oerkennis”. “Sy skryf in laslappies. Die stukkies val later inmekaar.”

“Nanette leef soos sy skryf. Haar karakters bly nooit tuis nie. Hulle word oral saamgesleep.
Hulle word deel van die geselskap en later maak hulle haar stil. Dan luister sy wat hulle wil sê. Hul wense word eerbiedig. Hulle skryf haar voor,” sê Crous.

Nie een van hulle is seker wanneer, of selfs óf die roman ooit klaar sal wees nie. Buitendien, sê Crous, “leef Nanette nie heeltemal in ons tyd nie”.

“Troosboeke”

Op haar bedkassie is daar altyd ’n versameling boeke wat Van Rooyen “troosboeke” noem.

“Daar sal altyd een digbundel wees en daar is nou ook ’n boek van Umberto Eco.” Sy is lief vir boeke wat goed geskryf is.

“Ek hou daarvan om boeke by my te hê waarvoor ek lief is,” sê sy. “Dit voel vir my dis soos ’n budgie of parkiet of kat waarvoor jy lief is – jy moet hom by jou hê.”

Nanette

Van Rooyen moet altyd haar gunstelingboeke naby aan haar hê. “Dit voel vir my dis soos ’n budgie of parkiet of kat waarvoor jy lief is – jy moet hom by jou hê.” FOTO: Dominique Fuchs

, , , , , , ,