Nuwe leeskamer ’n Afrikaanse erfenisbate

leeskamer

Die Oude Leeskamer, op die hoek van Dorp- en Drostdystraat in Stellenbosch, huisves tans Jannie Mouton se boekversameling. Die Jannie Mouton Stigting se kantore is ook in hierdie gebou gesetel, en so ook die De Eetkamer-restaurant, ’n kunsgalery en ’n skrywerskamer, volgens Maryke van Velden, die kreatiewe bestuurder van die leeskamer. FOTO: Karla van der Merwe

’n Unieke boekversameling, bestaande uit hoofsaaklik Afrikaanse werke, is vroeër vandeesmaand in Stellenbosch oopgestel aan die publiek. 

Die Oude Leeskamer, wat op 26 April sy deure vir die publiek oopgestel het, bevat die boekversameling van die Suid-Afrikaanse sakeman en miljardêr, Jannie Mouton. 

Die leeskamer word tans deur die Jannie Mouton Stigting bestuur, en vorm deel van ’n “erfenisbate” wat Mouton graag wil agterlaat, het Maryke van Velden, kreatiewe bestuurder van die leeskamer, gesê. 

Mouton en sy vrou, Deidré Mouton, het besluit dat hulle ’n kultuursentrum wou skep “waar ’n mens die kunste en letterkunde kan bevorder”, het Van Velden verduidelik. 

leeskamer

Maryke van Velden, die kreatiewe bestuurder van die leeskamer. Een van haar gunstelingboeke in die versameling is Die Worcester Asporcester en ander lustige limericke deur Philip de Vos. FOTO: Karla van der Merwe

’n Literêre skatkis

Die versameling beskik, volgens Van Velden, hoofsaaklik oor romans en poësie en sluit verder verskeie boeke oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis, baie naslaanwerke en -reekse, versamelstukke soos eerste uitgawes en getekende boeke, en ’n amper volledige versameling van Hertzogpryswenners in. 

“Ek het nog nooit soveel Hetzogpryswenners bymekaar gesien nie. Dit is ’n voorreg,” het prof Ilse Feinauer, ’n dosent aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Afrikaans en Nederlands, per e-pos aan MatieMedia gesê.

Jannie Mouton het versoek dat daar geen kinderboeke, handboeke of hygromans in die leeskamer se versameling geplaas moet word nie, het Maryke van Velden, die kreatiewe bestuurder van die leeskamer, gesê. FOTO: Karla van der Merwe

Feinauer beskryf die leeskamer as “’n absolute kultuurskat” en “’n kamer waar mens jou gewoon kan verloor in die ruim skat van Afrikaanse romans, digbundels en dramas”. Sy meen verder dat dit studente, dosente en navorsers in die Afrikaanse letterkunde sal kan help om moeilik bekombare boeke op te spoor. 

“Dit is ’n wonderlike bate vir die letteregemeenskap en vir diegene uit die meer eksakte wetenskapsomgewing wat lief is vir Afrikaanse boeke,” het Feinauer gesê. “Dit is iets unieks in die sin dat daar min sulke ruimtes in Suid-Afrika is.” 

“Dit is amper asof dit meer as ’n honderd jaar van erfenis, van geskiedenis, van akademiese verryking, van letterkundige verryking is, wat opgesluit is in die leeskamer,” het Joanna Gouws, ’n honneursstudent aan die US se Departement Afrikaans en Nederlands, gesê. 

Die publiek kon vanaf 26 April die Oude Leeskamer besoek. “Die idee is dat ’n persoon hier sou kon kom sit en dat jy óf vir ontspanning sal lees óf dat jy vir navorsing die fasiliteit sal gebruik,” het Maryke van Velden, die kreatiewe bestuurder van die leeskamer, gesê. Die leeskamer is van Dinsdae tot Saterdae oop. FOTO: Karla van der Merwe

Gouws was een van die honneursstudente betrokke by die argivering en sortering van die boeke in die leeskamer. Hulle moes ook al die boeke myn vir uitknipsels, kwitansies en briefies wat Mouton daarin gelos het, het Gouws gesê. 

“As ek so die boeke optel en vinnig deur hulle gaan om te sien of daar ’n dokument is wat gemyn moet word, en my oog vang daar ’n paar reëls of ek besef die skaarsheid van ’n betrokke boek, dan voel dit vir my daar is nie genoeg tyd in die hele wêreld om te lees wat ek alles wil lees nie,” het Gouws gesê.

  • leeskamer
  • leeskamer
  • leeskamer
  • leeskamer

Die bekendstelling van die Oude Leeskamer is gevier met ’n kunsuitstalling, wat ten doel gehad het om hulde te bring aan Jannie Mouton vir die inisiatief, het Maryke van Velden, die kreatiewe bestuurder van die leeskamer, gesê. 

Die fonds | vonds-uitstalling het die inhoud van die leeskamer as vertrekpunt gebruik, volgens Van Velden. Die werke was óf teksgebaseerd, soos werke uit Willem Boshoff se KykAfrikaans-reeks (Foto’s 3 en 4), óf het te doen gehad met elemente vanuit die versameling, soos Marjorie Wallace se skildery van Jan Rabie (Foto 1) wat as inleiding tot die uitstalling gedien het. Van die koerantuitknipsels (Foto 2) en ander dokumente wat uit die boeke gemyn is, was ook ten toon gestel. FOTO: Karla van der Merwe

, ,