Nuwe strafpuntstelsel en jou rybewys – dít is wat jy moet weet

Die oorhoofse doel van die nuwe padverkeerswetgewing en strafpuntstelsel lyk wel goed op papier, maar dit sal moeilik wees om effektief geadministreer te word. 

Só het professor Krige Siebrits, van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Ekonomie, gesê. Siebrits is ook deel van ’n interdissiplinêre navorsingsgroep aan die US wat die effektiwiteit van padverkeerswetgewing ondersoek. 

Dié verkeerswetgewing, die Wysigingswet op die Administratiewe Beregtiging van Padverkeersoortredings (Aarto), poog om verkeersoortredings te dekriminaliseer en dit deur ’n administratiewe stelsel te hanteer, volgens Siebrits. 

Die eerste fase van dié wetgewing is op 1 Julie 2021 landwyd geïmplementeer. 

“Dit sal wonderlik wees as mens bloot deur ’n administratiewe proses ’n klomp van die goed kan hanteer, sonder dat dit hofsake word,” het Siebrits gesê.

Gegewe dat daar egter “bitter min munisipaliteite [is] wat hul eie finansies behoorlik kan bestuur”, is die kanse baie swak dat die strafpuntstelsel geïmplementeer sal kan word, meen Siebrits, wat ook navorsing in die veld van owerheidsfinansies doen.

Aarto sou aanvanklik vanaf 1 Julie 2021 ten volle van krag wees. Fikile Mbalula, minister van vervoer, het egter op 1 Julie in ’n persverklaring aangekondig dat die Aarto-wet in fases ontplooi gaan word, met die omstrede strafpuntstelsel wat eers teen 1 Julie 2022 geïmplementeer gaan word.

Tydens fase 1 van die Aarto-wet, wat op 1 Julie 2021 in werking getree het, sal selfoontoepassings, aanlyn dienste, en sewe dienspunte geskep word om die administrasie rondom die strafpuntstelsel te hanteer. 

Fase 2 van die strafpuntstel word op 1 Oktober vanjaar geïmplementeer. Volgens Mbalula se verklaring sal 67 metro’s in hierdie fase deel word van die Aarto-stelsel, en sal 18 dienspunte geskep word. Die beoordelingsproses van die meriete van klagtes en die Aarto-appéltribunaal sal ook dan in werking tree.

Die oorblywende 144 munisipaliteite sal tydens Fase 3, van 1 Januarie 2022 tot 30 Junie 2022 by die Aarto-stelsel aansluit.

Fase 4, met die strafpuntstelsel en ’n meegaande “rehabilitasieprogram” vir padoortreders,  sal volgens Mbalula op 1 Julie 2022 in werking tree. Tydens hierdie fase sal 20 selfdienskiosks gevestig word.

strafpuntstelsel

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het op 1 Julie in ’n persverklaring aangekondig dat die strafpuntstelsel eers op 1 Julie 2022 volledig geïmplementeer gaan word. GRAFIKA: Carla Visagie

Só werk die nuwe strafpuntstelsel

Die verkeerswetgewing, en die strafpuntstelsel wat daarmee gepaard gaan, sal strafpunte aan bestuurders toeken afhangend van die aard van die verkeersoortreding, volgens die Aarto-webtuiste

strafpuntstelsel

Strafpunte sal toegeken word afhangend van die aard van die oortreding, volgens die Padverkeersoortredingsagentskap (RTIA). GRAFIKA: Carla Visagie

Alle motoriste sal op 1 Julie 2022 met nul strafpunte begin, volgens Alta Swanepoel, ’n konsultant in pad- en verkeerswetgewing wat ook betrokke was by die ontwerp van die Aarto-wysigingswet. Wanneer ’n bestuurder se strafpunte ’n telling van 15 oorskry, sal daardie bestuurder se lisensie opgeskort word. Vir elke enkele oorskrydingspunt (bó 15), sal lisensies met drie maande opgeskort word, volgens Swanepoel.

“Die persoon se strafpunte sal elke drie maande met een punt verminder as hy/sy nie verdere punte aanteken nie,” het Swanepoel gesê.

As ’n motoris vir ’n derde keer 15 strafpunte oorskry, word hul lisensies permanent opgeskort en moet hulle van nuuts af hul leerlinglisensie en rybewys slaag, volgens die Aarto-webtuiste.

Implikasies vir vervoermaatskappye

Strafpunte sal nie net aan motoriste toegeken word nie, maar ook aan voertuigeienaars, volgens Swanepoel. 

“As die eienaars nie oortredings heradresseer aan bestuurders nie, sal die strafpunte ook teen die lisensieskyfies en operateurskaart aangeteken word. As die voertuig meer as 15 punte het, sal dit vir drie maande per punt [wat 15 strafpunte oorskry] nie gebruik mag word nie,” het Swanepoel gesê.

Die strafpuntstelsel sal nie ’n wesenlike effek hê op die US se voertuigpoel nie, aangesien “boetes aan bestuurders heradresseer word”, volgens Pieter Wever, US se direkteur van vervoerdienste. 

strafpuntstelsel

Die US se voertuigpoel sal nie geaffekteer word deur die strafpuntstelsel nie, meen Pieter Wever, US se direkteur van vervoerdienste. FOTO: Carla Visagie

Terwyl vervoermaatskappye verkeersoortredings aan die bestuurder kan heradresseer, moet dit  volgens die Aarto-webtuiste binne 32 dae nadat die kennisgewing van die oortreding ontvang is, gebeur. Anders word die boete en strafpunte aan die eienaar van die voertuig oorgedra.

Die US het egter in die verlede uitdagings met die administrasie van heradresserings by verkeersowerhede ervaar, aangesien “weinig verkeersowerhede versoeke vir heradressering hanteer het”, volgens Wever.

“Ons [is] genoodsaak om [’n] paar jaar gelede ’n diensverskaffer… aan te stel wat namens ons inligting op [die] e-Natis[-vervoerdatastelsel] kon laat aanpas,” het Wever gesê.