Volgens Save the Rhino se webblad het daar meer as 8 800 renosters in die afgelope dekade gesterf weens renosterstropery. Tussen 2013 en 2017 was die stropingsgetalle veral skrikwekkend, met meer as 1 100 renosters wat per jaar gesterf het aan die hand van stropers.
Metodes om renosterstropery teen te werk was, volgens prof. Thomas Niesler wat verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US) se departement elektriese en elektroniese ingenieurswese is en as een van twee skripsieleiers vir hierdie projek gedien het, meestal reaksionêr van aard, byvoorbeeld bemanningstasies in parke, heinings, helikopters en hommeltuie. Min tegnologie is gebruik om stropings vooruit te skat en dus te voorkom.
Dr. SP le Roux, wat verlede jaar sy doktorsgraad in Elektroniese Ingenieurswese aan die US verwerf het, wou die anti-stropingsveldtog help deur tegnologie te ontwikkel wat hierdie metodes na ’n volgende vlak toe neem.
“Ek was nie tevrede om net te weet dat die dier dood is nie,” sê Le Roux. Hy het toe gevra of hulle nie “bietjie vooruit” kan kyk nie.
Só het die intydse masjienleertoestel ontstaan. Hierdie toestel is, volgens ’n mediavrystelling deur die US, binne-in die mikroverwerker van ’n biotelemetrieplaatjie ingebed wat dan aan die dier vasgemaak word. Dit verskaf “elke 6,5 sekondes bygewerkte inligting oor waar die renoster homself bevind en of dit staan, loop of lê”.
Niesler verduidelik dat as daar ’n stropery plaasvind, weet die diere lank voor die tyd dat iets nie pluis is nie.
“Hulle raak onrustig in hulle gedrag. En as jy dit kan optel kan jy baie vroeër weet daar is iets fout. Ons wou ’n vroeë waarskuwingstelsel bou,” sê hy.
Hierdie projek is egter volgens Le Roux, asook Niesler, as ’n spanpoging beskryf. “SP se projek is een faset van ’n baie groter projek,” verduidelik Niesler.
Daar is ander studente en navorsers by die seinprosesseringslaboratorium wat steeds daaraan werk om hierdie toestel, wat nog nie in praktyk gebruik word nie, te verbeter.
Bykomend tot die kleiner toestel, wat Le Roux onlangs ontwerp het, is daar byvoorbeeld ’n student wat daarna kyk om deur middel van kinetiese energie die toestel se kragopwekking selfonderhoudend te maak.
“As ek moes raai sou die groep fokus op die kommunikasie-netwerk en die energie-ontginning deur middel van kinetiese energie,” só sê Le Roux oor verdere verbeterings waarop hy glo die groep sal fokus.
Arrie van Deventer, die stigter en besturende direkteur van The Rhino Orphanage, waar hierdie toestel al twee keer in die veld getoets is, is dié soort tegnologie waardevol in die stryd teen renosterstropery.
“Enigiets wat vir ons so gou as moontlik enige stres by ’n dier kan weergee, of dit nou bloeddruk of hartklop is, gee vir ons ’n kans om by die dier uit te kom voordat iets gebeur met hom. Al hierdie goed dien as hulpmiddels wat ons regtig baie kan help,” sê hy.
Volgens Le Roux spandeer sommige bewaringsparke, asook individue wat renosters aanhou en bewaar, miljoene per maand in die stryd teen renosterstropery. Om deur hierdie projek ryk te word, is egter glad nie sy fokuspunt nie. Dit gaan eerder vir hom oor die liefde vir die saak.
“Ek hoop nie om geld hieruit te maak nie; vir my gaan dit oor die dier,” sê hy. “Ek sal graag wil hê dat die tegnologie gebruik moet word vir dit waarvoor dit ontwerp is. Om die probleem op te los. As dit nie gebruik gaan word om renosters te help nie, kon ek dit net sowel gelos het.”
Van Deventer meen dat hierdie probleem een is wat almal raak en dat die mensdom as geheel hulle kragte moet inspan om nie toe te laat dat die renosterspesie uitsterf nie. Iets wat, in sy opinie, wel besig is om te gebeur.
“Nie een persoon, organisasie en nie eens een land sal hierdie renosterstropery stopsit nie. Ons het die hulp en ondersteuning van elke mens op hierdie planeet nodig om hierdie oorlog te wen, want dit is ’n oorlog. Dit is wat dit is, niks anders nie,” sê hy.
Niesler beskryf die kwessie in ’n soortgelyke lig as Van Deventer in die sin dat die diere se bewaring die belangrikste moet wees.
“Die parke is in Suid-Afrika. Dit is hier naby ons. Ons moet dit vat en self doen. Dit is ons diere, niemand anders s’n nie. Die tyd is reg en die plek is reg om so iets te kan doen.”