Alkoholadvertensies is vandeesmaand ’n twispunt onder kenners nadat die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) se parlementslid Ntombovuyo Mente ’n omstrede wetsontwerp voorgestel het wat die advertering van alkohol wil verbied.
Volgens Mente word veral jongmense nadelig beïnvloed deur alkoholbemarking.
“Ons stuur ons kinders na universiteite so jonk soos wat hulle is, maar daar is net een ding wat hulle cool vind en dit is alkohol, want hulle sien dit op die TV as ’n aanvaarbare praktyk in die samelewing,” sê Mente.
“Alkohol is hoe jongmense voorgestel word aan egbreuk en deur alkohol word hulle aan dwelms blootgestel, want wanneer mens onder die invloed van alkohol is dan word verskeie euwels maklik aan daardie persoon oorgedra.”
Indien die voorgestelde wetsontwerp aangeneem sou word, sal alkoholbemarking im alle vorms van media, soos advertensies in tydskrifte en koerante, onwettig wees, en sal daar verpligtende waarskuwings van die gevare van alkoholinname op alkoholprodukte gevoeg word.
Prof. Neo Morojele, adjunkdirekteur van die navorsingsheenheid oor alkohol, tabak en ander dwelms aan die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, is van mening dat hierdie verbod op alkoholadvertensies die drankkultuur onder jeugdiges sal inperk.
“Hierdie advertensies is baie aanloklik vir jongmense,” sê Morojele.
“As ons nie soveel van hierdie advertensies gehad het nie, sou daar minder aanmoediging vir jongmense wees om alkohol te drink. Advertensies beeld alkohol as ’n aantreklike middel uit, maar hulle wys nie die negatiewe kant van drankinname nie.”
Volgens ’n 2016-studie is oormatige alkoholinname ’n reuse risiko vir ’n reeks sosiale euwels in Suid-Afrika, insluitend padongelukke, fetale alkohol sindroom, geweld, misdaad, MIV en die gepaardgaande las op die ekonomie.
Tóg meen Wihan Lategan, ’n PhD-student aan die US se Departement Bydryfsielkunde wat tans die drankkultuur onder Stellenbosse studente navors, dat enige verbod op alkoholadvertensies nie die kwessie van alkoholmisbruik sal ontmoedig nie.
“Ek dink nie alkoholadvertensies dra by tot oormatige drankinname nie. Vir dít om die geval te wees sal advertensies oortollige drankinname of harde partytjies moet uitbeeld, wat dit nie doen nie. Inteendeel voer alkoholmaatskappye en -handelsmerke (soos Heineken en Castle) verantwoordelike drankveldtogte as deel van hul hoofstroom bemarking,” sê Lategan.
“Een metode waarvan ek ’n voorstander is, is die maatskaplike normsveranderingsstrategie wat deur ’n nie-winsgewende organisasie in Kanada geïmplementeer is. Hulle maak gebruik van ’n opvoedingsveldtog om verbruikers bewus te maak van die skadelike gevolge van oormatige drankinname.”
Volgens die Instituut van Alkoholstudies, is daar talle lande wat advertensies met betrekking tot alkohol verban. Noorweë en Swede verbied advertensies van alkoholdrankies wat meer as 2.5% en 3.5% alkoholvolume onderskeidelik bevat.
Die Minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, het probeer om die bemarking van alkohol in 2013 te verbied, maar sowat vyf later is dit steeds nie deur die kabinet goedgekeur nie.
Volgens Mente is die redes hiervoor onduidelik, maar geniet die huidige wetsontwerp ondersteuning onder nie-winsgewende organisasies wat alkoholomisbruik veg.
Die publiek kon tot 3 November kommentaar op die drankwysingswetsontwerp te lewer.