Ná ’n kwarteeu in die diereparkbedryf, weet Esther van der Westhuizen dat eksotiese diere waardeer, maar nie aangehou moet word nie. Daarom vorm die bewaring van hierdie diere die kern van haar werk by Klapmuts se Exotic Animal World.
Wanneer Esther van der Westhuizen net na 10:00 by Exotic Animal World in Klapmuts aankom, het haar werksdag reeds ure vantevore begin. Sy het vroeër van haar huis in Milnerton vertrek met ’n babakat wat iemand ’n paar dae vantevore in die sentrum se tuin gelos het. So ’n situasie is egter niks vreemds vir Esther nie: Alhoewel Exotic Animal World toegespits is op eksotiese diere, en nie gewone huisdiere nie, het dit vir die publiek – soos vir die katjie se vorige eienaar – ’n laaste uitweg geword wanneer hulle nie meer na hul troeteldiere kan omsien nie.
Vandag, 25 jaar ná Butterfly World se opening, is Esther steeds mede-stigter en besturende direkteur. Haar ma en mede-stigter, Matty Pretorius, is afgetree en nie meer aktief deel van die park nie, maar haar liefde vir diere is vroeg reeds by Esther vasgelê. “My ma-hulle is baie lief vir die natuur,” sê sy. “Dit het seker maar ’n uitwerking op ons as kinders gehad.” FOTO: Anri Matthee
’n Familieprojek begin
Die werk wat tans by Exotic Animal World gedoen word, getuig van Esther se liefde vir diere, wat spruit uit haar gesin se gereelde Kruger Wildtuin-besoeke tydens haar grootwordjare net buite Pretoria.
Esther se dierepark het in die vroeë 1990’s begin gestalte kry toe haar ma, Matty Pretorius, vir Esther se suster oorsee gaan kuier het. Sy is betower deur die tropiese skoenlapperparke in Kanada, en het teruggekeer na Suid-Afrika met die droom om een plaaslik te begin.
Esther, met haar agtergrond in ekologie en ’n meestersgraad in dierkunde van die Universiteit Stellenbosch, het op daardie stadium vir nege jaar reeds dierkunde gedoseer aan die Universiteit van Wes-Kaapland.
“Toe my ma met die idee kom, toe dink ek eers sy is nuts,” sê sy.
Maar Esther en Matty het besluit om “al [hulle] polisse te laat uitbetaal” en ’n reis na Maleisië te onderneem om te gaan kyk hoe die skoenlapperparke daar bestuur word.
Terug op eie bodem, het dié ma-en-dogter-span aanvanklik hul oog gehad op grond naby die Victoria & Alfred Waterfront. Maar toe hulle die beskikbare eiendom in Klapmuts ontdek wat hul sak beter pas, het hulle “kans [gesien] om hier iets te begin”, sê Esther. Nadat die eiendom van net onder twee hektaar in 1995 aangeskaf is, het die park in November 1996 geopen onder sy aanvanklike naam, Butterfly World. Vandag, 25 jaar later, is Matty afgetree en dien Esther steeds as die stigter en besturende direkteur.
Esther van der Westhuizen stap in die skoenlappertuin by Exotic Animal World wat tans, weens die pandemie en invoerkomplikasies, nie soos gewoonlik kleurvolle tropiese skoenlappers huisves nie. Dié tekort aan skoenlappers het die skoenlapperparkbedryf wêreldwyd geknoei, volgens Esther, en is een van die redes waarom die park se naam verlede jaar van Butterfly World na Exotic Animal World verander het. “Ons sal maar sien of [die bedryf] gaan herstel ná die pandemie,” sê sy. FOTO: Anri Matthee
Bekende gesig, nuwe naam
Esther en haar span het oor die laaste 15 jaar hul fokus begin verskuif na ’n breër groep eksotiese diere en dierebeskerming, aangesien hulle die fasiliteite en hulpbronne het om te “weet wat om met [die diere] te doen”.
Die sentrum staan sedert verlede jaar as Exotic Animal World bekend. Esther sê dat gesprekke rondom hierdie naamverandering al in 2015 begin het. Komplikasies rakende die invoer van skoenlapperpapies vanuit die Filippyne tydens inperking het egter die span opnuut laat herbesin het om die naam meer verteenwoordigend van hul park te maak.
“Die uitstalling van die skoenlappers is 5% van ons uitstalling,” verduidelik sy. “Butterfly World sê vir jou daar is skoenlappers, maar Exotic Animal World sê vir jou daar is baie meer.”
“Ons het die besluit geneem dat mense by ons nie regtig slegte nuus gaan hoor nie.”
Onverwagse gaste welkom
Esther verduidelik dat die skuif na dierebewaring en -redding nie ’n strategiese keuse was nie, maar ’n “organiese” ontwikkeling.
“Ons het nog nooit beplan om enige van hierdie diere te hê nie,” sê sy. “[Hulle] kom by ons voordeur in.”
Luidens hul webtuiste, spog die sentrum vandag met meer as 700 eksotiese insekte, spinnekoppe, slange, voëls, visse en soogdiere wat almal – behalwe die skoenlappers – aan die sentrum geskenk is. Dié versameling sluit alles van ringstertlemurs en baarddrake, tot piranhas en tarantulas in. Die diere bly dan by die sentrum totdat hulle, soos Esther dit stel, “oor die reënboogbruggie geloop het”.
Behalwe die ingevoerde skoenlappers, word al die diere by Exotic Animal World – insluitend dié ringstertlemur – nie gekoop of geteel nie, maar aan die park geskenk, sê Esther. “Dit hang net van ons af om vir hulle dan ’n gemaklike plek te gee om te bly,” sê sy. FOTO: Anri Matthee
Iets wat wel ’n intensionele besluit was, is die ervaring wat die sentrum vir besoekers wil bied.
“Ons het die besluit geneem dat mense by ons nie regtig slegte nuus gaan hoor nie. Hulle hoor genoeg daarvan,” verduidelik sy. “As die mense by ons was, dan moet hulle uitgaan met ’n positiewe gesindheid.”
Exotic Animal World werk met ’n netwerk van ander skuilings, welsynsorganisasies en boerderye om te verseker dat diere wat by hulle beland nie vasgevang raak in ’n “spiraal van dierehandel nie”, sê Esther. Die sentrum kyk ook na onwettige diere wat deur natuurbewaring gekonfiskeer word. Sy sê dat sy nooit ’n dier of ’n eienaar sal wegwys nie, maar dat sy eerder die regte plek vir die dier binne haar netwerk soek.
Meer as net ’n werk
Die personeel by die sentrum, wat meestal Klapmuts-inwoners is, stap al ’n lang pad met Esther. Sedert sy en Matty destyds besluit het om die sentrum in Klapmuts te open, het hulle ook in die gemeenskap begin belê.
Weens die Covid-19-pandemie kon die sentrum tussen Maart en September 2020 nie voluit bedryf word nie. Esther vertel hoe sy gedurende hierdie tydperk noodgedwonge die Lockdown Relief Campaign moes begin om deur skenkings die diere te versorg en uitgawes te dek. Só het Esther daarin geslaag om haar hele span van 18 werknemers regdeur die inperking te ondersteun.
Anette Williams (links) en Alicia Ambrose (regs) berei vrugte en groente vir die diere voor en is reeds vir 13 en 7 jaar, onderskeidelik, deel van Esther se span. Volgens Esther, was baie aanpassings nodig om haar 18 werknemers deur die inperking te ondersteun. “Selfs my kelners [en ontvangspersoneel] het ingekom en diere kos gegee,” sê Esther. FOTO: Anri Matthee
“Hulle is fantasties. Hulle het regtigwaar hulle kant gebring,” sê sy. “Klapmuts het ’n verskriklike hoë werkloosheidsyfer, so ek kon net eenvoudig nie my mense laat gaan nie.”
Nog ’n uitdaging tydens inperking was die gebrek aan besoekers, veral toeriste en skoolgroepe. Die opvoeding van die volgende generasie lê vir Esther na aan die hart, aangesien Matty vroeër ’n laerskoolonderwyseres was.
Met die hulp van Helani Briers – ’n oudonderwyseres en Exotic Animal World se opvoedkundige bestuurder – word werkkaarte en lesings vir skoolgroepe aangebied wat by hul kurrikulums inskakel. Helani glo dat hierdie program effektief is, omdat dit nie soos ’n klaskamerles voel nie.
“Ek is uit die onderwys uit hiernatoe, [want] ek dink dis ’n heerlike manier van onderrig en dis hoogs relevant,” sê sy. “Ons probeer dit lekker maak.”
Die pad vorentoe
Op die korttermyn, is Esther daarop gefokus om die pandemie te oorleef. Daarna wil sy die “masjien wat reeds gebou is” verder verfyn en verbeter. ’n Langtermyndoelwit is die stigting van ’n dieresorgsentrum wat aan ’n trust sal behoort, met haar personeellede as trustees. Hierdeur kan Exotic Animal World ook “húlle besigheid raak” en kan hulle “begin insae kry in hulle eie besigheid”, sê sy.
Charlie, ’n witfkuifkaketoe, is een van Esther se suksesverhale. Toe hy ná sy eienaar se dood verlede jaar by Exotic Animal World aangekom het, het hy aanvanklik dag-en-nag-sorg benodig, vertel sy. Deesdae verwyl hy egter sy tyd deur die houtpale in sy kampie te verniel – gedrag wat, volgens Esther, ’n aanduiding is dat hy nie meer angstig en gespanne is nie. FOTO: Anri Matthee
Met ’n kwarteeu se ervaring op haar kerfstok, erken Esther dat die bedryf waarin sy haar bevind nie altyd maklik is nie. Een van die groot lesse wat sy geleer het, is dat geduld en empatie van onskatbare waarde is.
“Elke persoon met wie jy in aanraking kom, werk op ’n ander vlak as wat jy werk,” verduidelik sy. “Jy moet uitvind waar hulle sterkpunte is en jy moet daarvolgens werk.”
Esther vertel dat haar personeel óók hierdie geduld en empatie moet uitoefen, omdat die mense wat van hul diere afskeid neem dikwels getroos moet word.
”Ek glo nie ’n mens moet mense ooit veroordeel omdat hulle die [eksotiese] diere aanhou nie,” sê sy. Wanneer die diere eers by Exotic Animal World is, kan Esther en haar span immers vir die dier ’n beter, meer gepaste tuiste vind.
“Ons versorg hulle en ons het sover nog altyd vir hulle huise gekry,” sê Esther.
Die katjie wat sy vanoggend saamgebring het, sê sy, het ook ’n huis gekry.