Die universiteitsmuseum was Dinsdagaand in rep en roer soos Stellenbosse studente van regoor kampus op soek was na antwoorde op komplekse kwessies by die “Kleurling-identiteitsgesprek” wat deur die BA-studentekomitee en Monika-vrouekoshuis gereël is.
“Deur die jare was daar baie vrae oor hierdie onderwerp; oor wat dit behels om Kleurling te wees in terme van fisieke voorkoms, sowel as kulturele en sosio-ekonomiese omstandighede en wie binne daardie groep val,” het Farren Barnes (21), ’n BA-student en bestuurslid van die BA-studentekomitee in haar openingstoespraak gesê.
Die gesprek het sensitiewe onderwerpe opgelewer, insluitend armoede, erfenis, stereotipering en rassisme.
Op die paneel was Khadija Heeger, ’n bekende digter van die Kaapse Vlakte, John Fredericks, skrywer van Skollie, Edward Jacobs, ’n regstudent aan die Universiteit Stellenbosch (US), dr. Riaan Oppelt, dosent aan die Engelse Departement van US en ook Haji Dawjee, skrywer van Sorry not Sorry: Experiences of a Brown Woman in a White South Africa.
Minaaz Allie (21), aanbieder van die gesprek en Monica-huiskomiteelid, het ’n “ontstellende” aanhaling van Suid-Afrikaanse komediant Trevor Noah se boek, Born a Crime, aangehaal waar hy skryf dat Kleurlingmense geen “duidelike erfenis het om na terug te gaan nie” en dat hul taal, geloof en die instellings wat hul kultuur gevorm het, van Afrikaners afkomstig is.
Dawjee meen egter dat Noah sy rol as komediant misbruik.
“Komedie is ’n saad wat die komediant aan die massas voer om politiek meer aanvaarbaar te maak. Dit is ’n magtige hulpbron en ons miskyk dit dikwels. [Maar] gaan na ’n witmens se huis op Kersfees en jy sal sien hoe hulle Trevor Noah kyk terwyl hulle ’n jol het. [Sy materiaal] versterk stereotipes en oningeligte opinies,” sê Dawjee.
Video: John Fredericks vertel ’n storie van sy ervaring in die Apartheidsera. Ross Michaels
Oor die onderwerp van “Kleurling-identiteit”, verduidelik Heeger waarom sy ontnugter word deur die woord “Kleurling”.
“Die probleem [met Kleurling-identiteit] is met die baie nou en konserwatiewe idee van wie mense is. Daar is geen suiwer Xhosa, daar is geen suiwer Zulu, daar is geen suiwer wit nie; hierdie dinge bestaan nie eens nie. Wil jy weet wie is Kleurling?” vra die digter. “Ons almal in hierdie spasie is. As ‘Kleurling’ verwys na gemengde herkoms, dan is ons almal Kleurling.”
Tydens die gesprek, wat vir bykans drie uur geduur het, het gehoorlede gebruik gemaak van hul geleentheid om antwoorde te kry oor komplekse kwessies.
Onder diegene was Lwando Nkamisa (25), voorsitter van die US-studenteraad en ’n meesterstudent in landbou-ekonomie, wat raad wou inwin oor die aftakeling van stereotipes.
“Wie is die armste studente by hierdie universiteit? Jy sal dalk dink dit is die swart student, maar in werklikheid is die meerderheid van kwantiel een-, twee- en drie skole eintlik kleurling-studente. So hoe vertel ons die waarheid, terwyl ons steeds ons solidariteit as mense van kleur behou?” wou Nkamisa weet.
Volgens Allie was die aand “veel beter as wat [sy] verwag het” en het daar selfs mense van Muizenberg deurgery om die geleentheid by te woon.