Ou Landbousaal aan herstel ’n jaar na vloede

Die herstel van die fondasies van die Ou Landbousaal in Stellenbosch behoort voor die einde van Julie hierdie jaar voltooi te wees. Dit is volgens Johan Fullard, senior bestuurder van paaie, vervoer, stormwater en verkeersingenieurswese by Stellenbosch Munisipaliteit. 

Oorspronklik sou hierdie konstruksiefase teen die einde van Junie voltooi wees, maar volgens Fullard, het reën en oorstromings van die Eersterivier die proses vertraag. 

Die Ou Landbousaal het groot skade aan sy fondasies en struktuur opgedoen na vloede in Stellenbosch gedurende Junie 2023, soos berig deur SMF News

Tydens hierdie vloede het die Eersterivier ook deur sy oewers gebreek. (https://bit.ly/3VEx2Yt

“Die rivier het ’n gedeelte van die wal weggevat en toe kom die water tot teen die gebou en [die rivier] het die fondasie en klippe onder die gebou weggevat,” het Anna Kruger, stigtersdirekteur van Crafts Alive Stellenbosch en iThemba-kunsgalery in die Ou Landbousaal, gesê. 

“Daarna het die gebou begin sak.” 

“Die eerste [konstruksie]-fase sluit net die herstel van die fondasies en oewer in,” het Fullard gesê. 

“Na dié fase sal strukturele ingenieurs die struktuur van die Landbousaal assesseer en herstelwerke as deel van ’n tweede fase doen.”

Daar is, volgens Fullard, egter nog nie datums vasgestel vir wanneer die herstel aan die Ou Landbousaal se struktuur sal begin nie. 

Herstelwerk aan die fondasies van die Ou Landbousaal in Stellenbosch behoort voor die einde van Julie hierdie jaar voltooi te wees. Dit is volgens Johan Fullard, senior bestuurder van paaie, vervoer, stormwater en verkeersingenieurswese by Stellenbosch Munisipaliteit. 

FOTO: Maliza Adendorff

‘Nêrens om heen te gaan nie’

Die Ou Landbousaal is volgens Stellenbosch se erfenisstigting tussen 1875 en 1899 op die oewer van die Eersterivier gebou. 

Die gebou huisves tans Aunty Sophie se Kombuis, iThemba-kunsgalery en Stellenbosch Roetefonds.

Die bestuurder van Aunty Sophie se Kombuis, Marÿke Wyngaard-Brooks, het gesê dat twee vertrekke in die Landbousaal weens strukturele skade nie gebruik kan word nie.

“[Dis belangrik] dat die gebou herstel word,” het Kruger gesê. 

“As ons die gebou verloor, het ons nêrens om heen te gaan nie.” 

Twee vertrekke in die Ou Landbousaal kan op die oomblik nie gebruik word nie. Dit is volgens Marÿke Wyngaard-Brooks, bestuurder van Aunty Sophie se kombuis, ’n restaurant binne die Ou Landbousaal. FOTO: Maliza Adendorff 

Herstel en rehabilitasie van die Eersterivier

Hoewel vloede nie vir die komende reënseisoen voorspel word nie, is dit steeds nodig om die infrastruktuur van die Eersterivier in stand te hou, het Fullard gesê.

“Daar word deurlopend werk gedoen om die rivier te rehabiliteer om dit terug in sy oorspronklike toestand te kry,” het Johan Fullard, senior bestuurder van paaie, vervoer, stormwater en verkeersingeneurswese by Stellenbosch Munisipaliteit, gesê. FOTO: Maliza Adendorff

“Mens kan nie net [skade aan infrastruktuur] los nie,” het Fullard gesê. 

Die herstel en rehabilitasie van die Eersterivier is volgens Fullard ’n langtermyn-projek. 

“Daar word deurlopend werk gedoen om die rivier te rehabiliteer om dit terug in sy oorspronklike toestand te kry.” 

“Die vloede van verlede jaar gebeur miskien een keer in 100 jaar,” het Fullard gesê. 

“As daar weer oorstromings is, sal ons dit weer aanspreek.” 

, , , ,