Paul Roos herhaal geskiedenis met onoorwonne rugbyseisoen

Paul Roos Gimnasium (PRG) het vanjaar se rugbyseisoen onoorwonne afgesluit nadat hul Grey College tydens hierdie jaar se interskole 36-3 gewen het. Dit is volgens Frans Le Roux, PRG-bemarker en -fondsontwikkelaar. 

Volgens die Skolerugby Suid-Afrika se webtuiste, was PRG voor Saterdag 17 Augustus se wedstryd teen Grey College, laas in 1991 se rugbyseisoen onoorwonne.

Corné Uys, Paul Roos Gimnasium hoofafrigter van rugby, het gesê dat hy geweet het sy span het baie potensiaal, maar baie beplanning en harde werk moes gedoen word om hulle rugbyseisoen se sukses te laat realiseer. FOTO: Mandisa Maphisa 

Uit die skare

Corné Uys, PRG hoofafrigter van rugby, vertel dat vanjaar se wen “iets is om van te droom” en dat die span die vrugte van harde werk pluk.  

“Ek was werklik bly vir die groep seuns omdat daar baie werk agter die skerm ingesit is,” het Uys gesê. 

Volgens die Skolerugby Suid-Afrika se statistieke het die PRG-rugbyspan die grootste nederlaag in die geskiedenis aan Grey College uitgedeel, met ’n punteverskil van 33. 

Zeeko Alexander, PRG oud-leerling, het gesê dat dit ’n baie goeie gevoel is om te weet dat sy skool weer die beste rugbyskool in Suid-Afrika is.

Alexander vertel dat PRG-rugby in die laaste paar jare moeilike seisoene gehad het. 

“As old boys het ons gedink PRG is nie meer so sterk en kompeterend soos in vroeër jare nie en die gevoel en gees het gedaal,” het Alexander gesê. “Ons is weer bo-aan die punteleer waar ons hoort.” 

Harde werk word beloon

Uys glo dat hy nie alleen die krediet kan neem vir die sukses van die rugbyseisoen nie. 

“Dis nie danksy my of die spelers dat ons nou op ’n beter plek is nie. Dit is te danke aan die skool, die topbestuur, die hele Paul Roos-gemeenskap en -sisteem,” het Uys gesê. “Ons het geweet ons span het potensiaal, maar om dit te laat realiseer is daar baie beplanning en harde werk gedoen.” 

Die feit dat die eindstryd ook ’n tuiswedstryd was, het in PRG se guns getel, het Uys gesê.

Volgens Uys het hul voorseisoenrugbytoer na Ierland ’n baie groot rol in hul voorbereiding gespeel. “Goeie vriendskappe is gevorm en rugby teen opposisiespanne het gehelp met die druk omstandighede op die veld,” het Uys gesê.

Volgens Alexander het PRG se rugby die naweek diepte getoon. PRG se onder-14 tot onder-18 spanne het altesaam 28 wedstryde teen Grey College te speel, waarvan hulle 24 gewen het, drie verloor het en een gelykop gespeel het, volgens die Skolerugby SA webtuiste.

 Die sukses van Paul Roos Gimnasium (PRG) se pas-afgelope rugbyseisoen is te danke aan die skool, die hele PRG-gemeenskap en -sisteem, het Corné Uys, Paul Roos Gimnasium hoofafrigter van rugby, gesê. FOTO: Mandisa Maphisa