Drie Stellenbossers is onlangs in ’n nuwe televisiereeks beloon vir hul onbaatsugtige dade tydens die Covid-19-pandemie.
Johan de Jager, Hajiera Arnolds en Leatitita Solomons het elk R10 000 in die eerste episode van die VIA-reeks, Die Koevert, ontvang vir hul liefdadigheidswerk in en om Stellenbosch.
Volgens Izelle Venter, VIA se kanaalhoof, sentreer dié program rondom ’n “pay it forward”-konsep.
In elke episode word ’n koevert met R10 000 aan ’n individu geskenk vir hul aktiewe bydrae gedurende die Covid-19-pandemie. Met ’n tweede koevert sal dié individu ’n volgende weldoener nomineer en so gaan dit aan. Dít word moontlik gemaak deur die finansiële steun van VIA, sowel as Netwerk24.
“Dit is ’n ongelooflike inisiatief – jy raak bewus van die groot nood wat daar in ons land is en hoe ver só ’n gebaar gaan,” het Johan de Jager, areabestuurder van die Hanna Charity and Empowerment Foundation, aan MatieMedia gesê.
- Johan de Jager, areabestuurder van die Hanna Charity and Empowerment Foundation, ontvang ’n koevert van Marciel Hopkins vir dié organisasie se aktiewe bydrae tot Smartie Town tydens die Covid-19-pandemie. FOTO: Verskaf/VIA
- Hajiera Arnolds spandeer baie tyd aan die opheffing van haar eie gemeenskap, Cloetesville. Sy bestuur onder meer ’n sopkombuis vanuit haar eie huis. Sy pak ook gereeld kospakkies óf deel komberse en klere uit waar sy kan. FOTO: Verskaf/VIA
- Leatitia Solomons meen dat sy weens die aard van haar beroep as taxibestuurder, direkte toegang tot haar gemeenskap het. Dus is die impak van Covid-19 vir haar duidelik. In ’n tyd van groot werksverlies en armoede help sy waar sy kan. FOTO: Verskaf/VIA
De Jager het die reeks se eerste donasie ontvang vir dié organisasie se liefdadigheidswerk in Smartie Town, Cloetesville. Dit sluit onder meer die bestuur van ’n biblioteek en ’n sopkombuis in.
Hy is deur Marciel Hopkins, internasionale model en aanbieder van die eerste episode, genomineer.
Arnolds, ’n werknemer by Cash Crusaders Stellenbosch, is deur De Jager genomineer. Sy het met die aanvang van die inperkingstyd haarself gerig tot die nood in haar eie gemeenskap, Cloetesville.
Sy het onder meer ’n sopkombuis vanuit haar huis begin, wat tans steeds families in die omgewing voed.
“Liefdadigheid begin op jou voorstoep,” het Arnolds gesê. “Waar ek nood sien, help ek.”
Solomons, ’n taxibestuurder by Uncle Solly’s Taxi’s, ondersteun ongeveer vyf gesinne met gereelde kruideniersware en verleen finansiële hulp aan werklose mense in haar gemeenskap. Arnolds het haar genomineer.
“Jy hoef nie baie te hê om te deel nie,” het Solomons gesê.
De Jager, Arnolds en Solomons het reeds te werk gegaan om hul onderskeie R10 000-belonings terug te ploeg in hul gemeenskappe.
Volgens Venter hoop hulle dat dié program kykers sal inspireer om ’n bydrae te maak in enige vorm – ás en wáár hulle kan.
Die promosie-video van die nuwe VIA-reeks, Die Koevert. Dié program verskyn Donderdae om 18:00 op DStv-kanaal 147. VIDEO: Verskaf/VIA