Die nie-winsgewende organisasie, The Shackbuilder, het twee watertenks in Freedom Farm, ’n informele nedersetting in Belhar, geïnstalleer om sodoende dié gemeenskap se toegang tot water tydens die Covid-19 pandemie te verbeter.
Dié projek volg nadat Quinton Adams, voormalige Opvoedkunde-dosent aan die Universiteit Stellenbosch (US) en stigter van dié organisasie, verneem het van dié gemeenskap se probleme met watertoevoer. Adams se organisasie het intussen twee watertenks, van 2 500 liter elk, van donateurs ontvang.
Een van die voorsorgmaatreëls om die verspreiding van Covid-19 te bekamp, is om gereeld en deeglik hande te was.
“Hierin lê alreeds ʼn uitdaging vir miljoene Suid-Afrikaners omdat baie meningsvormers, gesondheidspersoneel en regeringslui aanneem dat almal toegang tot skoon water het,” het Adams aan MatieMedia gesê.
Toegang tot water in informele nedersettings is ’n groot uitdaging vir inwoners omdat die krane stukkend is, die waterpype nie behoorlik werk nie en die vloei van water as gevolg van swak waterdruk stadig is, het Adams gesê.
“Die waterpompie loop baie stadig en dan moet mense in rye staan. Soms loop die waterpompie glad nie,” het Francois du Preez, ’n inwoner van Freedom Farm, gesê.
Volgens Du Preez ervaar hul gemeenskap al vir jare lank dieselfde probleme met betrekking tot watervoorsiening.
Buiten die negatiewe impak wat die onvoldoende watertoevoer op persoonlike higiёne in dié gemeenskap het, word die veiligheid van vroue en kinders ook geraak, het Willy Matthys, ’n aktivis vir persone met gestremdhede en ongelykheid in informele nedersettings, gesê.
“Behalwe vir die ongerief van die lang afstande, is daar ook die gevaar-element – veral vir vroue en kinders wat die risiko loop om aangerand of verkrag te word terwyl hulle ver afstande moet stap om water te kry,” het Matthys gesê.
Charlyn Dyers, professor aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) het een van die tenks geskenk. Volgens Dyers dra The Shackbuilder by tot die herstel van inwoners se menswaardigheid.
“Ek ondersteun The Shackbuilder vir die afgelope twee jaar, omdat dit ʼn tasbare poging [aanwend] om die lot van behoeftiges in hierdie land aan te spreek,” het Dyers gesê.
Stad Kaapstad Metropolitaanse Munisipaliteit was teen die tyd van publikasie nie beskikbaar om MatieMedia se vrae met betrekking tot waterverskaffing na dié gebied te beantwoord nie.