RESENSIE: Die halwe huis neem gehoor op ‘onthou-reis’

Brandon “Bumper” Jansen beplan om sy lewe te beëindig. Dit is nie die eerste keer wat hy poog om ’n einde aan alles te bring nie. Hy weet nou al – jy moet áf sny. Nie dwars nie. Áf. Terwyl hy voorberei vir die niet, wil hy eers sy storie met die gehoor deel. Dít sodat hulle sy besluit kan verstaan. Hy vertel van liefde gewin, en verbrokkel, gewelddadigheid, misbruik en die dood.

Die stel van die eenmanstuk wat deur Ricardo Arendse geskryf is, is eenvoudig opgestel en bestaan uit ’n paar sementblokke, boeke, ’n bank en bottels met alkohol wat half gedrink is. FOTO: Nazley Wilschutt

In dié eenmanproduksie, Die halwe huis, vertolk Marlo Minnaar die rol van Bumper skitterend. Dié karakter neem die gehoor op ’n reis deur sy ontstuimige lewe: Van sy kinderdae op Oudtshoorn tot sy tienerjare op die Kaapse Vlakte, en uiteindelik sy grootmensdae in Johannesburg.

Die eerste van vier van die produksie se vertonings is op 13 Oktober by Hoërskool Stellenbosch voor ’n volgepakte venue opgevoer as deel van vanjaar se Toyota US Woordfees.

Bumper

Die halwe huis het verskeie temas aangespreek, insluitend die patriargie, geslagsgebaseerde geweld, verslawing, armoede, hartseer, die dood, liefde, verwerping, en ontvlugting. FOTO: Nazley Wilschutt

Minnaar gee teks lewe

Alhoewel die produksie ernstige temas aanspreek, kry Minnaar dit reg om die stukkies humor moeiteloos, met grasie en egalig in die produksie in te werk. 

Die gehoor het geskaterlag vir Minnaar se uitbeelding van die speletjies wat Bumper met sy hondjie en die ander kinders geniet het, die danspassies van sy pa, en die karate-gebare wat hulle nageboots het.  

Bumper se pa het altyd aan die dans gegaan wanneer hy te veel gehad het om te drink. Híer wys Marlo Minnaar, dié karakter se akteur, van sy pa se danspassies. VIDEO: Nazley Wilschutt

Ricardo Arendse se teks het lewe gekry met Minnaar se vertolking daarvan. Die oorgang van karakter tot karakter was bestendig en met elke storie was die gehoor tjoepstil, behalwe wanneer iemand van tyd tot tyd na hul asem gesnak het. Dit was duidelik dat die gehoor aanklank gevind het by die gebeure en stories wat Bumper vertel het.

Lee-Ann van Rooi, die regisseur van die produksie, het aan MatieMedia gesê dat die regie nie ’n maklike taak was nie. “Dit was baie moeilik, want baie van die scenarios is obviously waar. En dit is ons mense, ons gemeenskap en dit is wat die skrywer en die karakter sê: dat om te onthou bedoel dat jy weer alles moet herleef,” het Van Rooi gesê.  

Bumper

Marlo Minnaar het hom goed van sy taak gekwyt in die eenmanstuk, Die halwe huis en het die gehoor vasgenael gehou. FOTO: Nazley Wilschutt

‘Ietsie vir almal’

Tydens Minnaar se monoloog word die gehoor met verskeie relevante temas gekonfronteer, insluitend die patriargie, geslagsgebaseerde geweld, verslawing, armoede, hartseer, die dood, liefde, verwerping, en ontvlugting.

Minnaar kwyt hom goed van sy taak met die beskrywings en uitbeeldings van die karakters deur wie dié temas onderskeidelik uitgebeeld word en wat bygedra het tot sy vorming as volwassene en sy depressie. Soos sy Ouma Bettie wat ’n gelowige vrou was en sy Oupa Kerneels wat vir hom mooi laat verstaan het dat ’n “regte man” die hoof van die huis is.

Van Rooi sê dat dit ’n mooi storie is. “Ek is baie, baie happy. Ek dink dis ’n beautiful storie en dit is ietsie vir almal,” het sy gesê.