Resensie: ‘Tabula Rasa’ ’n spieël teen stereotipes

Geen mens word gebore as ’n rassis of homofoob nie, die samelewing maak jou só. Kondisionering maak jou só. En wat gebeur wanneer ons “nee” sê vir daardie kondisionering? Wat is ons dan almal? En die antwoord is Tabula Rasa, ’n clean slate.

 

Foto 2 (1)

Die rolverdeling van ‘Tabula Rasa’ by vanjaar se US Woordfees. Marilize du Plessis,  Danya van der Merwe, Nicolette van Schalkwyk, Dijan Botha, Gizela Conradie, Kyla Jansen, Elizabeth van Vuuren en Veronique Jephtas. FOTO: Verskaf

Só verduidelik Nicolette van Schalkwyk, skrywer, samesteller en aktrise van die satiriese US Woordfees-verhoogproduksie Tabula Rasa.

Dié produksie gee kykers ’n blik op die ontmoeting tussen verskillende Suid-Afrikaanse identiteite om een tafel met die fokus op hoe die samelewing mense vorm om te wees wie hulle is.

Feesgangers word tot die besef gebring dat sekere gebeure in mense se lewens hulle vorm tot iemand wat hulle nie noodwendig graag sou wou wees nie. Die karakters wys ook dat hoewel dit omstrede kan wees om dit te erken, die samelewing tog ’n groot rol in menslike gedrag speel.

‘Tabula Rasa’ verwys na die idee dat mense gebore word sonder enige bestaande begrip of insig en dat alle kennis deur ervaring en persepsies verkry word.

Volgens Van Schalkwyk beeld hierdie toneelstuk dié konsep uit in ’n menslike eksperiment wat tipies met diere gedoen sou word. Elke karakter in Tabula Rasa verteenwoordig ’n tipe identiteit in Suid-Afrika en word dierlik uitgebeeld onder ’n wetenskaplike se mikroskoop.

Foto 1 (1)

Die idee van ’n menslike eksperiment word deur tonele met Dijan Botha en Kyla Jansen as wetenskaplikes uitgebeeld. FOTO: Verskaf

“Hierdie stuk gee almal die kans om te sien waar elke karakter se kondisionering vandaan kom deur terugflitse en die herlewing van sekere gebeure,” het Gizela Conradie verduidelik. Conradie vertolk die rol van ’n boemelaar en is tans besig met haar honneurs in regie aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Volgens Van Schalkwyk probeer die produksie nie om sekere Suid-Afrikaners te stereotipeer nie, maar eerder om te verduidelik hoekom sekere mense is soos wat hulle is.

“Die manier waarop die akteurs nie net hul eie karakters moet vertolk nie, maar ook op stadiums as mede-spelers in ander karakters se lewensverhale verskyn, dui daarop dat ’n persoon nooit net een rol in hul lewe vertolk nie,” het Van Schalkwyk gesê.

“Jy is ’n ma en iemand se kind, of jy is iemand se broer of suster. Dit gaan daarom om die diversiteit van elke persoon ten toon te stel.”

Elizabeth van Vuuren, ook ’n US honneursstudent in regie, beskryf haar twee rolle in dié toneelstuk as komplementêre karakters. Sy vertolk eerstens die rol van ’n mishandelde kind, waarna sy later ’n manlike karakter speel wat sy vrou fisies mishandel.

Hoewel die twee rolle nie dieselfde persoon in verskillende tydperke vertolk nie, dui dit wel daarop dat sekere gebeure mense se latere gedrag kan beïnvloed.

Foto 3 (2)

Die ‘Tabula Rasa’ akteurs oefen vir die Woordfees. FOTO: Verskaf

Volgens Dijan Botha, akteur en oudstudent aan die US Drama Departement, kan elke gehoorlid met ’n unieke ervaring van die produksie wegstap.

“Op die einde is elkeen se realiteit anders. Realiteit kom van binne af en nie van buite nie,” het Botha verduidelik.

Dié produksie ontgin wie elke karakter veronderstel is om te wees en sny dan hierdie stereotipes byna chirurgies oop om dit te ontleed. Die besef kom later dat persone nie aan hierdie voorgeskrewe identiteite hoef vas te klou nie.

Tabula Rasa dien as ’n ode aan menslike groei en verandering en bied ook ’n spieël vir sommige óf waarskuwing vir ander.

-Bonita Williams en Arleen Stone

,