Ronelda Kamfer gesels oor ’n ander taal in ’n ‘accidental space’

Die skrywer Ronelda Kamfer het grootgeword in ’n kultuur van stories – stories wat spreek tot haar eie lewenservaringe, asook dié van haar naastes. Om deel van daardie wêreld te wees, wou sy al dié tipe stories neerskryf. Maar in die Afrikaanse letterkunde wat sy op hoërskool teëgekom het, het sy egter ’n gebrek aan verteenwoordiging daarvan ervaar. Toe sy begin skryf het, was dit dus vir haar belangrik om haar “eie life experience” in haar “eie taal” te laat hoor. 

Ronelda Kamfer

Ronelda Sonnet Kamfer is ’n bekroonde Suid-Afrikaanse skrywer. Sedert haar debuut in 2005, is sy ’n baanbreker in die Afrikaanse letterkunde – veral ten opsigte van taal. FOTO: Nathan Trantraal. Verskaf: Carolyn Meads/Kwêla-boeke

“Een ding van Grahamstown se weer is, dis aan en af,” sê Ronelda Sonnet Kamfer vanuit haar studeerkamer. “Dit het vanoggend bewolk gelyk, so nou is dit weer warm. So, dis baie soos die Kaap.” 

Sy glimlag en blaas sigaretrook uit. 

Kamfer, ’n bekroonde Suid-Afrikaanse skrywer, is op 16 Junie 1981 in die Macassar Daghospitaal in Kaapstad gebore. Sy het egter op Grabouw grootgeword by haar ouma en oupa. Haar grootouers was albei plaaswerkers. Sy beskryf dié tyd in haar lewe as idillies. 

“As jy die enigste kleinkind is… Dis idillies, want dis net jy en jy kry al die aandag wat jy benodig,” sê sy. “Alles is in die natuur – dis bome, dis plaaslewe, dis appelboorde en daai tipe goed.”

Dis só deel van ‘coloured culture – dat die grootmense vertel ál hulle stories, en hulle is net brilliant daarin.

Dit is haar ouma en oupa wat “van baie kleins af” by haar ’n belangstelling in die letterkunde gekweek het. 

“Dis só deel van ‘colouredculture – dat die grootmense vertel ál hulle stories, en hulle is net brilliant daarin,” sê Kamfer. Dít is hoe sy oor haar familiegeskiedenis geleer het – deur ’n kultuur van stories wat deur “incredible storytellers” van geslag tot geslag oorgedra is. 

“Dis net van sit en ek vra vir my ouma ’n simpel vraag van: ‘Hoekom hou julle so baie van visvang?’ Dan sal sy my ’n hele storie vertel van haar mense kom eintlik uit Arniston en hulle was vissers. En dan vertel sy vir my die hele geskiedenis van die plek en van haar life experience,” onthou sy.

Kamfer wou deel van daardie wêreld van “incredible storytellers” wees. Sy wou dié tipe stories neerskryf. Maar self het sy nie veel verteenwoordiging daarvan in Afrikaanse letterkunde ervaar nie – veral nie op hoërskool nie.

“Daar was niemand wat so snaaks was soos my oupa nie,” vertel sy. “Daar was niemand wat so hardegat was soos my anties of my niggies of my nefies nie.” 

Tog, in die letterkunde waarmee sy op skool te doene gekry het, was dit “altyd ‘coloured’ mense was óf die meid, óf ons is die tuinjong, óf ons het iemand se […] kinders grootgemaak. Daai was die literatuur wat vir ons voorgesit was.” 

Toe sy begin skryf het, was dit dus vir haar belangrik om literatuur te skep waarin sy haar “eie life experience” in haar “eie taal” kon skryf, sê sy. 

Om te voel… dié is die taal van arm mense, dié is die taal van mense wat nie educated is nie, gangsters praat so – al daai kind of inferior goed wat Standaardafrikaans op ons afgedwing het, was nie vir my normaal nie.

’n Ander taal

Hoewel sy in die letterkunde hoofsaaklik as ’n Kaapse Afrikaanstalige skrywer bestempel word, sê Kamfer dat sy nie haar taalrepertoire, óf die taalgebruik in haar skryfwerk, tot een variëteit van Afrikaans beperk nie. Omdat sy van jongs af baie blootstelling aan verskeie taalvariëteite gehad het, het sy nooit minderwaardig gevoel as spreker van Kaaps nie – ’n gevoel wat baie bruin sprekers daarvan op die Kaapse Vlakte wel ervaar, meen Kamfer.

“Om te voel… dié is die taal van arm mense, dié is die taal van mense wat nie educated is nie, gangsters praat so – al daai kind of inferior goed wat Standaardafrikaans op ons afgedwing het, was nie vir my normaal nie,” verduidelik sy.

Kamfer het veral die skeiding in die Afrikaanse taalgemeenskap opgemerk toe haar debuutbundel, Noudat slapende honde, in 2009 bekend gestel is. Dit was vir haar vreemd dat mense haar taalgebruik daarin interessant gevind het.

“Dis amper soos iets exotic vir hulle,” sê sy oor die Standaardafrikaanse gemeenskap se reaksie op die taalgebruik in dié bundel. “Ons kan Standaardafrikaans praat, maar julle maak asof ek ’n ander taal praat, terwyl ons in dieselfde language community exist.” 

Dit was dus vir haar belangrik om juis deur middel van taal ook hierdie dinamika in haar skryfwerk te reflekteer.

“Ek wou altyd skryf soos al die spaces wat ek inhabit het,” sê sy. “Ek wou altyd hê die taal moes daai reflekteer.”

Shock to the system

Toe haar ouma en oupa te oud geword het om na haar om te sien, moes Kamfer by haar ouers in Kaapstad gaan woon. Dáár het hulle ook ’n paar keer rondgetrek, vertel sy. 

“Ons was eers in Blackheath, toe trek my ma-hulle Eersterivier toe,” vertel sy. “Van Eersterivier af, toe trek ons terug Blackheath toe.”

Die lewe in Eersterivier was vir haar ’n “shock to the system”.

“Ons kom nie uit daai omgewing uit nie en ek het nie mense geken van die Cape Flats nie. So, Eersterivier was vir my ’n baie groot aanpassing,” vertel sy.

Vir Kamfer, wat vandag saam met haar gesin in Makhanda in die Oos-Kaap woon, is dit al hierdie ruimtes wat sy in haar grootwordjare ervaar het, wat ’n diverse identiteit as skrywer aan haar verleen het.

“Ek kan klomp spaces inhabit, want ek het klomp experiences gehad,” sê sy. 

Nuwe stem

Kamfer het haar poësiedebuut in 2005 gemaak toe van haar gedigte vir publikasie in die Nuwe Stemme 3-bloemlesing gekeur is, vertel sy. Dit is hiér waar sy die bekroonde Antjie Krog – een van haar grootste literêre invloede – ontmoet het, sê sy. Krog, wat ’n medesamesteller van dié bloemlesing was, het vir Kamfer aangemoedig om ’n bundel saam te stel en aan ’n uitgewer voor te stel. 

“Sy het basies gesê: ‘Ek dink jy kan skryf – skryf’,” onthou Kamfer. “En daai is basies wat ek gedoen het – ná Nuwe Stemme het ek my manuskrip klaargemaak en gestuur vir Kwêla. En daai is hoe my eerste boek gepubliseer was.” 

Kamfer het sedertdien drie ander bundels bekend gestel: grond/Santekraam in 2011, Hammie in 2016 en Chinatown in 2019.

Sedert sy haar debuut in die Nuwe Stemme 3-bloemlesing in 2005 gemaak het, het Ronelda Kamfer vier digbundels bekend gestel. Haar benadering met elke projek word beïnvloed deur haar groei as mens en as skrywer, sê sy. ILLUSTRASIES: Candice Jantjies. FOTO’S: Verskaf: Carolyn Meads/Kwêla-boeke

Dit was vir my uitdagend om te skryf in ’n way wat ek nie gemaklik is nie. Ek hoop… Ek weet mense gaan van dit hou.

’n Ander stem

Vir Kamfer is dit belangrik om haarself opnuut uit te daag met elke projek wat sy aanpak, en sodoende iets te skep wat haar groei as mens en skrywer reflekteer. Dié keer het sy haar tot ’n ander literêre genre aangewend. Kamfer se debuutroman, Kompoun, word in Oktober vanjaar bekend gestel. Sy beskryf dit as die uitdagendste, maar ook die mees “beautiful” literatuur wat sy nog ooit geskryf  het. Met die skryf van die boek, het sy ’n nuwe generasie lesers in gedagte gehou, sê Kamfer. 

“Dit was vir my uitdagend om te skryf in ’n way wat ek nie gemaklik is nie,” vertel sy oor dié skakel vanaf poësie na prosa. “Ek hoop… Ek weet mense gaan van dit hou.”

Sy glimlag opgewonde. 

Sy wil jong digters aanmoedig om ook hulself in hul skryfwerk uit te daag deur ander literêre genres aan te durf, want “in so ’n way leer jy jouself ken en jy sien waartoe jy in staat is as ’n skrywer”.

Kamfer beskryf haar toetrede tot die letterkunde as uniek. “Daar is nie 20 ander skrywers wat dieselfde tyd uitgekom het wat ek uitgekom het nie. So, dit is […] kind of ’n accidental space wat ek occupy,” sê sy oor haar baanbrekersposisie in die letterkunde – om te skryf waaroor en hoe sy wil. 

As “ouer skrywer” wil sy nou dié ruimte vir jong skrywers “wawyd” oophou. 

“Ek wil hê hulle moet allowed wees om te skryf oor goed wat hulle wil skryf en supportive wees van daai. En verstaan dat dit is nie my plek om vir julle te sê hoe julle moet voel oor goed nie,” sê sy. “Dis my plek om seker te maak dat dié space altyd wawyd oop is vir ons om te kan sê wat ons dink en hoe ons voel.”


Wawyd oop

Toe sy ’n “accidental space” met haar toetrede tot die letterkunde ingeneem het, was dié bedryf redelik onbekend vir die skrywer Ronelda Kamfer. 

“Ek het niemand geken wat skryf nie,” sê sy. 

Vandag is sy ’n gerekende skrywer en wil sy dié ruimte vir jong skrywers “wawyd” oophou om te kan sê wat hulle dink en hoe hulle voel. 

, , , , , , ,