Sag, maar ferm ‒ Stellenbosch SAPD se Kaptein Martin gesels oor 30 jaar se diens

Toe Kaptein Nathalie Martin in 1991 by die Stellenbosch-tak van die Suid-Afrikaanse Polisiediens begin werk het, het sy gou besef dat dit nie in haar aard is om mense in hegtenis te neem nie. Dertig jaar later, is sy egter steeds by die tak, en dien sy die gemeenskap op veel meer vlakke as slegs mediaskakelbeampte. 

Dit is ’n stil en sonnige dag in Stellenbosch. By Du Toitstraat 23 is daar egter reeds bedrywighede. Dit is die plaaslike kantoor van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) waar Kaptein Nathalie Martin die laaste 30 jaar werksaam is. 

SAPD

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se Stellenbosse stasie in Du Toitstraat 23. FOTO: Candice Jantjies

Martin, die mediaskakelbeampte by die Stellenbosse SAPD, se kantoor is ruim met baie natuurlike lig. Die kantoor het ’n uitsig oor die binnehof van die stasie, waar sowat ses mense in ’n ry buite die aanklagkantoor hul beurt afwag. Dit is by dié aanklagkantoor waar Martin in 1991 haar diens by die SAPD begin het.

Sy beduie na ’n tweede stoel aan die oorkant van haar lessenaar en glimlag soos sy háár sitplek inneem.

Martin

Kaptein Nathalie Martin, mediaskakelbeampte van die Stellenbosse SAPD, in haar kantoor. FOTO: Candice Jantjies

SAPD

Die Stellenbosse SAPD se gemeenskapsdienssentrum (links) en die aanklagkantoor (regs). Kaptein Nathalie Martin, mediaskakelbeampte van die Stellenbosse SAPD, het in 1991 as student aan die SAPD in dié kantoor begin leer hoe om sake te vat en op te teken. FOTO: Candice Jantjies

Martin is in 1970 op Cloetesville gebore. Sy woon steeds daar, vertel sy. Sy het haar laerskoolloopbaan aan Pieter Langeveldt Primêr en haar hoërskoolloopbaan aan Cloetesville Hoërskool voltooi. Op skool het sy uitgeblink in atletiek en het op die ouderdom van tien Boland Lusassa-kleure in die 80-meternaelloop behaal. Met dié prestasie het sy een van die eerste kinders in Cloetesville geword om dié vlak te bereik, sê sy. Op hoërskool, waar sy ook vir twee agtereenvolgende jare as sportmeisie van die jaar aangewys is, het sy soortgelyke prestasies in die 100- en 200-meternaelloop behaal.

Ná matriek het sy vir ’n jaar sakebestuur studeer aan wat vandag bekend staan as die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (CPUT). Daarna het sy vir ’n ruk by ’n modesalon in Parow gewerk. 

“En toe besluit ek, nee – winkelassistent is nie vir my nie,” vertel sy.

Sy het toe aansoek gedoen by die SAPD, waar sy aanvaar is. “As jy aansoek doen by die polisie, dan begin jy as student,” vertel sy. Blootstelling begin “onder in die aanklagkantoor”.

Sy verduidelik dat die mense wat in die aanklagkantoor werk, die “sigbare polisie” is wat daagliks in die veld staan. Sy het dadelik aangevoel dat dié tipe werk nie vir haar bedoel is nie en dat sy na ’n ander eenheid moes skuif. 

“Ek is ’n baie emosionele mens,” sê sy. “Ek kan nie mense toesluit nie.” Dit was ook nie vir haar lekker om dit te sien gebeur nie.

Martin het daarna vir ’n lang tyd as hofordinans gewerk, voordat sy na die polisiestasie teruggekeer het, en vir nagenoeg tien jaar by die sosiale misdaadvoorkomingseenheid gewerk het.

Na die dood van die vorige mediaskakelbeampte, het Martin vir sowat vyf jaar dié rol vertolk. In 2011 is sy permanent tot mediaskakelbeampte bevorder.

“Omdat sosiale misdaadvoorkoming en kommunikasie so hand aan hand loop – ons doen amper dieselfde goed, behalwe dat ek alleen met die media praat – was dit vir ons stasiekommissaris in daai stadium die beste bet om vir my te skuif,” vertel sy. 

Emosioneel én ferm

Hoewel die kaptein ’n emosionele mens is, is sy ook “baie reguit” en “ferm”. Dít is volgens Sersant Jason Rhoda, haar kollega by die Stellenbosse SAPD.

“Dít is hoe ek vir haar leer ken het,” sê Rhoda, wat baie nou saam met Martin werk. Martin is dalk nie “die operasionele tipe” in die SAPD nie, sê Rhoda, maar sy is juis die tipe mens wat die polisiediens – veral in die huidige klimaat – selfs meer nodig het. “Die een wat nie net klagtes doen nie, maar wat leiding en inligting gee.” 

Martin beskou haar emosionele karakter as ’n pluspunt in die eenheid waar sy tans werk, omdat dit daartoe bydra dat sy die “ekstra myl stap”. 

“Ek sal byvoorbeeld op ’n Saterdag uitgaan en ’n praatjie gaan doen in my aftyd,” sê sy.

Hoewel sekere gemeenskappe, insluitend Cloetesville, buite haar gebied van dienslewering by die Stellenbosse SAPD val, verleen sy steeds hulp aan mense vanuit daardie gemeenskappe, onder meer wat betref maatskaplike kwessies of raad wat betref dwelmmisbruik by kinders, sê sy. As sy nie antwoorde het nie, sal sy hulle verwys na mense of instellings wat hulle wel kan help.

Van goue knope tot respek

Buiten haar liefde vir die SAPD se destydse ligblou vroue-uniform met goue knope, was die respek wat mense tóé aan die polisie toegeskryf en getoon het, vir haar ’n groot trekpleister om by die SAPD aan te sluit.

“Ek kan amper vir jou sê dit was ’n elite werk,” sê sy. “As jy ’n polisieman of ’n polisievrou [was]… mense het respek vir jou gehad.”

Martin

Kaptein Nathalie Martin, mediaskakelbeampte van die Stellenbosse SAPD. FOTO: Verskaf/Nathalie Martin

Sy meen dat die polisie vandag gebrekkige respek en samewerking van die gemeenskap geniet. Dít skep dikwels groot uitdagings vir die polisie, sê sy.

“Ek sê nie die polisie het nie foute nie – of ek praat hulle nie goed nie – maar ek dink dit is ’n uitdaging vir hulle; die feit dat mense nie respek vir hulle het nie,” sê sy. “Sê nou hulle wil iemand in die vangwa laai en daai een besluit hy gaan nou oproerig raak. Nou begin die mense ook oproerig raak,” verduidelik sy. In so ’n situasie, sê sy, is daar kort voor lank ’n samedromming wat dit vir die amptenare moeilik kan maak om hul taak uit te voer. 

Een met die gemeenskap

Martin is veral passievol oor vrouebemagtiging. Dít is volgens haar kollegas Sersant Rhoda en Cheryl Faro, adjunkvoorsitter van die Stellenbosse SAPD se Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF). Faro werk ook saam met Martin by CALEB Ontwikkeling, ’n vrouebemagtigingsorganisasie in Jamestown buite Stellenbosch. 

Martin is volgens Faro vir die afgelope paar jaar veral as raadgewer by CALEB Ontwikkeling betrokke. “Sy het ’n goeie begrip van wat vroue in die dorp deurgaan in terme van, kom ons sê maatskaplike geweld,” sê Faro. “En sy het ’n goeie verwysingsraamwerk om vroue te kan ondersteun en te verwys.”

Martin dien ook op die ABBA Netwerk, ’n vroeë ingrypingsinisiatief in die gemeenskap wat veral op dwelm- en alkoholmisbruik toegespits is. Sy sal byvoorbeeld iemand wat verslaaf is aan dwelms of drank na dié netwerk verwys, terwyl sy ’n mishandelde persoon na CALEB Ontwikkeling sal verwys, sê sy.

Dryfkrag

Martin dien vanjaar vir 30 jaar in die SAPD. “As ek terugkyk op my loopbaan in die SAPD, was daar baie afdraande. Maar daar was ook baie mooi goed in my lewe waarvan die SAPD nie weet nie, maar waarvan ék weet,” sê sy. 

Martin noem drie dinge wat haar aan die gang hou – haar familie, haar geloof en om te sien dat haar werk in die gemeenskap vrugte afwerp. Dit is veral lonend wanneer mense met wie sy “’n pad gestap het”, haar voorkeer en bedank vir haar hulp; en waar sy kan sien dat sulke individue se situasies verbeter het. “Daai is vir my lekker en ek dink [dit] hou my nog aan die gang – as ek ’n vrou sien wat regtig [mishandel en afgeskeep] is en ek sien die verandering,” sê sy.

Haar familie, wat onder meer haar eggenoot, kinders en ouers insluit, is haar ondersteuningsnetwerk. “Sonder hulle sou ek dit nie kon doen nie,” sê sy. “My man was ook in die polisie – hy het bedank. So, hy weet hoe die setup werk.”

Ná 30 jaar

Martin het ná 30 jaar in die SAPD ’n hele paar “af dae” gehad. Sy beplan egter nie om binnekort uit haar posisie as mediaskakelbeampte af te tree nie, sê sy. “Ek het vir myself belowe ek gaan nie hier uitloop op emosies nie,” sê sy. “Ek is regtig wagtend op die Here. Hy moet vir my kan sê my seisoen is om. En voor my seisoen nie om is nie, gaan ek nie beweeg nie.”

Kaptein

Ná 30 jaar in die SAPD en ’n hele paar “af dae”, is Kaptein Nathalie Martin, mediaskakelbeampte van die Stellenbosse SAPD, nie van plan om binnekort uit haar posisie af te tree nie. “Ek het vir myself belowe ek gaan nie hier uitloop op emosies nie,” sê sy. FOTO: Candice Jantjies

, , , , , ,