Ses ongewone wenke vir ingenieurs om toetsweek te oorleef

Met die Ingenieursfakulteit se toetsweek minder as 48 uur weg, voel mens die figuurlike skadu’s van ’n spanningswolk in Banghoekstraat. Die reuk van paniek, Red Bull en Sterkteleer-handboeke hang in die lug.

Dit is ’n harde week, maar dit is doenbaar, veral met die hulp van gesoute ingenieurs se wyshede en wenke. En voor jy jouself kry, is toetsweek verby en hou jy partytjie terwyl BSc-studente toetse skryf en BA-studente sukkel met 3000-woord opstelle.

Dink twee maal voor jy daardie irriterende Whatsapp-groep verlaat

Elke student weet hoe frustrerend dit kan wees om op 15 verskillende Whatsapp-groepe te wees. Sit jou foon af, en ’n uur en ’n half later sit jy met 98 boodskappe.

Volgens Hein Wessels (25), ’n gegradueerde Meesters-student in Elektriese Ingenieurswese wat tans by CubeSpace Custom ADSC Solution in Stellenbosch werk, moet jy mooi dink voor jy sommer die akademiese Whatsapp-groepe verlaat.

“Deur die kwartaal is die groepe dalk vol klagtes oor hoe moeg almal is en hoe moeilik die werk is, en memes wat net ingenieurs sal verstaan, maar tydens toetsweek is dit ’n goudmyn,” sê Wessels.

Dit is op sulke groepe waar mede-studente vrae vra oor goed wat jy nie geweet het eens bestaan nie, en waar jy ’n uur voor jou toets herinner word om te hersien hoe ’n sekere formule toegepas word.

IMG_20180901_163358.jpg

Stellenbosch Universiteit se Ingenieurswese-studente se toetsweek begin komende Maandag. Studente swoeg en sweet om voor te berei vir die week se toetse. FOTO: Grethe Bestbier

Gaan krap deur die argiewe vir ou vraestelle, al is dit iemand anders se argiewe

Elke student ken die waarde van vorige vraestelle. Daar is selfs studente wat beweer dat hulle slegs ou vraestelle leer, en nie handboeke gebruik nie. Tog meen Wessels dat ’n kombinasie van goeie notas en ou vraestelle die beste opsie is.

“Daar is altyd een persoon met die mees gedetaileerde notas na wie almal draai. Bonop het hulle gewoonlik toegang tot die pre-historiese ou vraestel argiewe wat terugstrek na die dae van tikmasjiene.” sê Wessels. “Hierdie is die fondasie en ruggraat wat meeste ingenieurs op staatmaak om kop te hou in toetsweek.”

Christoff Heunis (26), ’n gegradueerde Megatroniese Ingenieurswese Meesters-student wie tans sy PhD in Nederland aanpak, stem saam.

“Jy sal nooit ’n hele handboek kan leer nie, so spot,” beveel Heunis aan. “Met die hulp van ou vraestelle sal jy kan sien wat die algemene vrae gaan wees. Onthou, professors is uiters lui, so hulle sal heel moontlik nie ’n nuwe vraestel opstel nie.”

Blaas borrels vir breinkrag

Heunis glo ook in die krag van iets wat in die neurowetenskappe na verwys word as “relational memory”. Dit is die naam vir die deel van die geheue wat die verhoudings stoor en onthou tussen twee of meer waarnemings.

Heunis stel voor dat jy ’n sekere geur kougom kou terwyl jy alles neerskryf of tik wat jy leer. Dan, wanneer jy jou vraestel skryf, kou jy dieselfde kougom. Die brein maak die konneksie tussen wat jy geleer het en die smaak, en volgens Heunis help dit jou onthou.

4087572289_aae8d8371d_o.jpg

Heunis sê om ’n sekere geur kougom te kou terwyl hy studeer, en dit weer te kou as hy toets skryf, help hom sy werk onthou. FOTO: Creative Commons

Maak jou badkamerbreuk jou studiebreuk

Dit is algemeen bekend dat water nie net goed is vir jou liggaam nie, maar ook vir jou verstand. Volgens Louis de Villiers (22), ’n finale jaar Bedryfsingenieurswese-student, kan die voordele van water drink nog ’n stap verder geneem word.

“Wanneer jy gaan swot, maak seker jou glas bly vol water. Vat dan slegs ’n break as jy toilet toe móét gaan,” sê De Villiers.

Dit help vir jou om nie te gereeld ’n breuk te vat nie, maar ook nie te min nie.

“Soms sit ’n mens te lank agter die boeke en vergeet om te breuk. Maar mens kan nie bly knyp nie, so dan forseer dit jou om te breuk,” sê hy.

IMG_20180901_162615.jpg

Nie net is water belangrik vir hidrasie en konsentrasie nie. Om water te drink kan ook dien as ’n natuurlike horlosie om jou studiebreuke aan te dui. FOTO: Grethe Bestbier

Jy gaan dalk rol teen die einde van die week, maar dit is nie die einde van die wêreld nie

Tydens eksamens en toetsweke vind studente soms hulself in ’n spiraal van selfveroordeling. “Ek het nog nie een maal geoefen die week nie.” “Ek was al drie keer by McDonald’s en dit is nou eers Dinsdag.” “Ek dink ek is verslaaf aan koffie.”

Maretha Bester (24), Megatroniese Ingenieurswese Meesters-student, sê dit is belangrik om al vóór die week begin vir jouself vry te spreek van hierdie soort veroordeling – dit gaan jou net slegter laat voel.

“Jy gaan heelmoontik elke dag sjokolade eet en ses koppies koffie drink,” sê sy. “Dit gaan net beter wees vir jou as jy vooraf besluit om nie kwaad vir jouself te word nie.”

Daarby sê Bester dat as jy gewoond is daaraan om elke dag te oefen, doen dit gerus. Alhoewel, as jy normaalweg net een maal ’n week oefen, moenie die illusie skep dat daaglikse oefening in toetsweek dit vir jou noodwendig soveel makliker gaan maak nie.

Jy het nie ’n sosiale lewe in toetsweek nie: maak seker almal om jou weet dit!

Volgens Bester is dit ook maklik om gedurende toetsweek verlei te word deur ‘n sosiale koffie-drink-uitnodiging. Staan sterk teen dit, sê sy.

Maak dit duidelik vir almal, vóór die week begin, dat jy nie beskikbaar is nie.

“Baie keer wil mense gaan koffie drink in toetsweek en dan stem ek in,” sê Bester. “Op die einde van die dag sit dit net soveel ekstra druk op my en is dit nie eens lekker vir die ander persoon nie. Jy moet net jou kop neersit en werk.”

IMG_20180901_160533.jpg

‘n Paar bonus-wenke om toetsweek meer draaglik te maak.

 

,