Soos ’n vel vir ink

In die gange van ’n hospitaal ontmoet die dokter en die digter. Albei probeer sin maak van die tekortkominge van die menslike toestand.

Die kliniese wit gange van die Lifecare-Rosepark Hospitaal in Bloemfontein, kronkel van die een area tot die volgende. Soos enjambement. ’n Mens stap deur die apteek, verby ’n kafeteria, dan verby die nooddienste, verby die radioloë se kamers, op met die trappe en verder af in nog ’n gang, tot by ’n bordjie teen ’n muur waarop staan; “Dr. G.J. Gibson. Internis”.

Gilbert Gibson, ’n internis van Bloemfontein, is nie nét ’n internis nie, maar ook ’n kunstenaar, fotograaf en bekroonde digter, wat deur middel van digkuns “probeer sin maak van [sy] omgewing”. FOTO: Mlungisi Louw, GRAFIKA: Maliza Adendorff

Die eenvoudige plekwyser in die gang vertel egter nie die hele storie nie. Dr. Gilbert Gibson is nie nét ’n internis soos wat die bord hom aan jou voorstel nie. Hy is ook ’n kunstenaar, ’n fotograaf en ’n bekroonde digter, met digbundels Boomplaats (2005), Kaplyn (2007), oogensiklopidie (2009), VII (2013), Vry- (2015) en Die sin van die Hut (2017) wat uit sy pen verskyn het. Hy het in 2006 die Protea-poësieprys vir sy eerste bundel Boomplaats gewen. In 2016 het hy die ATKV-woordveertjie en die Media24 Elisabeth Eybers-prys vir poësie ontvang vir sy digbundel Vry-.

Om sin te maak

Daar hang houtskoolsketse teen die muur van die wagkamer, en ’n versameling van 100 hotel- en lughawe penne is op ’n houtbord monteer en netjies geraam. Die houtskoolsketse, verduidelik Gibson, is baseer op x-straalbeelde van pasiënte wat met Covid-19 gediagnoseer is.

Gibson het tydens die pandemie ophou skryf en begin eksperimenteer met houtskool om die Covid-19 virus uit te beeld. FOTO: Verskaf/Gilbert Gibson, en met sy goedkeuring hier gebruik.

“Ek dink as jy wel ’n kreatiewe streep het, gebruik jy dit om sin te maak van die onmoontlike,” sê Gibson oor dié kunswerke, sowel as sy digkuns.

Die kunswerke beeld die onvoorspelbaarheid van Covid-19 uit. Nie een Covid-pasiënt se longe lyk soos ’n ander s’n nie, merk Gibson op. Daar is geen patroon nie.

“Enige kreatiewe proses maak nie hierdie beter nie,” sê Gibson. “Die kreatiewe proses maak nie medisyne of wetenskap beter of enige so-iets nie. Glad nie.”

Dis sekerlik hiér waar die dokter en die digter ontmoet; om sin te maak van die mens se sterflikheid?

“As jy baie pyn in jou omgewing sien, soos ek, en baie smart, dan is ek geneig om te probeer sin maak daarvan. ’n Mens kan [dit] mos op geen manier logies verklaar nie.”

100 Penne wag op ’n pasiënt of besoeker soos hul by die wagkamer instap. FOTO: Verskaf/Gilbert Gibson, en met sy goedkeuring hier gebruik.

“…dis eintlik toeval”

Gibson merk op dat dit eintlik nie só spesiaal is dat hy as ’n internis ook dig nie. Inteendeel, die “duurste kompetisie [om voor in te skryf] vir digkuns” in Brittanje is die Hippokrates-inisiatief vir Poësie en Geneeskunde.  Dié inisiatief fokus op digkuns geinspireer deur die mediese beroep, die pasiënt se ervaring van ’n siekte en digkuns as terapie.

“Ek weet nie of ek regtig so uniek is met hierdie goedjies nie,” sê Gibson. “Ek dink baie mense doen dit met ’n mindere of meerdere mate van sukses.”

“Ek dink dis eintlik toeval, dit het meer met ongemak te doen en met pyn as die feit dat mens ’n dokter is. Dis nie die heling, die helende deel, wat nice is nie. Dis die ongemak wat [die kreatiewe proses] forseer.”

“Dis hoekom ek aanhou skryf; daar is heeltyd verliese.”

“Soos ’n vel vir ink”

Gilbert se digkuns word ook in die gedenktuin van die Breytenbach Sentrum in Wellington op ’n perspeksbord uitgestal. Anne-Ghrett Erasmus Coetzee, die kurator by die Breytenbach erken dat sy nie noodwendig vertroud is met Gibson se werk nie, maar dat sy gedigte vir haar moeilik is om te interpreteer.

Hoewel Gibson se werk as “moeilik” of “ondeurdringbaar” beskryf kan word, sê die digter dat hy nie aspris betekenis of inhoud probeer verberg nie. FOTO: Maliza Adendorff

Prof Andries Visagie, ’n professor in Afrikaanse Letterkunde by die Universiteit Stellenbosch beskryf Gibson se gedigte as “hermeties”, of dat dit “ondeurdringbaar” is.

“[Gibson] hou daarvan om sy leser uit te daag om aktief en aandagtig met die woorde op die papier om te gaan,” verduidelik Visagie.

Gibson sê dat hy nie aspris betekenis wegsteek nie. “Mense dink te maklik [digters] probeer hulle om die bos lei.”

“Ek dink mos nou nie daaraan om dit te verberg nie,” vertel Gibson van sy skryfproses. “As ek skryf, dink ek nie daaraan om iets weg te steek nie. Dit kom vanself.”

“Mense is ook ’n bietjie lui, hulle wil nie regtig dink oor hoe die [gedig] werk nie. Hulle kan mos bietjie moeite doen. Wat beteken daai woord? Gaan kyk dit op!”

Die penumbra: ’n Verhouding tussen die pen en om daarmee te skryf

Buiten die 100 penne wat op die houtbord monteer is, is daar nog ’n versameling van vulpenne, balpuntpenne, potlode en eksotiese inke in Gibson se laai. Hy verduidelik dat die skryfbehoeftes dien as “’n proxy tot die aksie.”  

“Selfs al word daar nie geskryf nie, is die pen nog altyd daar.”

Hy vergelyk die pen en die skryf van gedigte met ’n penumbra. ’n Penumbra verwys eintlik na die halfskadu of die ligomlyning om ’n soliede voorwerp, soos ’n helder randjie om ’n wolk.

Dr. Gilbert Gibson, ’n internis en digter van Bloemfontein maak graag skryfbehoeftes bymekaar. In sy laai is daar ’n versameling van verskillende penne, potlode, en eksotiese ink. FOTO: Verskaf/Gilbert Gibson, en met sy goedkeuring hier gebruik.

Erika Terblanche beskryf die verband van Gibson se versameling van die skryfbehoeftes en die penumbra miskien beter in ’n kort biografie oor Gibson wat op Litnet verskyn. Gibson se gewoonte om skryfbehoeftes bymekaar te maak staan in vir die skryfdaad self.  

[Kassie] “Penumbra” verwys na die halfskadu, of gedeeltelike beligting (soos in ’n maansverduistering) tussen die skadu en helder lig.

Gedigskrywery

Uit ’n vorige onderhoud, met Amanda Lourens in Versindaba in 2013, sê Gibson “[hy] dink nie gedigskrywery is so intuïtief soos mense dink nie”. Meer as 10 jaar later sê hy dat hy die skryfproses nou anders sou beskryf.

Aanvanklik is die skryfproses vir die digter Dr. Gilbert Gibson, wat ook in Bloemfontein praktiseer as internis, “100% intuïtief”. FOTO: Verskaf/Gilbert Gibson, en met sy goedkeuring hier gebruik.

Wanneer Gibson die pen nou optel en met die “skryfdaad” begin, is die skryfproses aanvanklik “100%” intuïtief. “Maar dan word dit werk. Harde werk!”

Gibson vergelyk die skryfproses met die proses om ’n stoel te ontwerp en te bou. “Dis maar soos om ’n stoel te bou,” sê hy. “Aanvanklik design jy, en is kreatief, maar daarna is dit tawwe werk.”

“Kyk, jy probeer eintlik in ’n gedig iets onthou wat jy vergeet het. So, dit is die proses wat jy volg om jou geheue weer te kry – jou onmiddelike geheue – selfs jou geheue in die toekoms.”

Daar is, volgens Visagie, temas wat in Gibson se werk voorkom, soos sy mediese kennis in die bundel Oogensiklopedie, militêre stryd, soos in Kaplyn en veral die beeld van die Vrystaat, waar hy grootgeword het en steeds woon.

Tog sê Gibson dat daar nie noodwendig onderwerpe is wat hom meer prikkel as ander nie. Inspirasie kan van enige iewers kom.

“Dikwels is [’n prikkel] net ’n woord, of iets wat jy lees of iets wat jy hoor. Dis totaal random…Jy moet net redelik ontvanklik wees daarvoor, nè.”

, , , , ,