Universiteit Stellenbosch (US) alumni het vanjaar groot sukses behaal by die SA Radio Awards, wat op 17 April 2020 digitaal plaasgevind het.
Alumni van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, Nicholas Archibald en Carla Mackenzie het beide met toekennings weggestap. Archibald is as die beste kampus-ontbytprogram aanbieder aangewys en Mackenzie as wenner van die beste ontbytprogram en gemeenskapsprojek.
“Vanjaar was die mees kompeterende jaar óóit. Die standaard van die ses minuut-lange klank inskrywings was uitstekend. Nie net in terme van inhoud en kreatiwiteit nie, maar ook in terme van klank kwaliteit en die vervaardiging daarvan,” het Taryn Westoby, uitvoerende hoof van Arena Events wat die SA Radio Awards bestuur het, gesê.
Nicholas Archibald het dié oomblik beskryf as een van die grootste oomblikke in sy lewe. Video: Nicholas Archibald
“Ek was baie opgewonde. Dit het gevoel asof die wêreld in daardie oomblik tot stilstand gekom het. Dit is regtig een van die beste oomblikke in my lewe, wat ek saam met my familie gevier het,” het Archibald aan MatieMedia gesê.
Beide Archibald en Mackenzie se passie vir radio het op Stellenbosch begin.
“My passie vir radio het by MFM 92.6 begin – dit het van daar af gegroei,” het Archibald gesê. “Soos wat ek meer geleer het, het ek meer verstaan van die medium én hoe om dit te gebruik.”
Mackenzie hou tans die digitale bootjie by die Breakfast with Martin Bester-ontbytprogram aan die stuur. Ook háár radioloopbaan het by MFM 92.6 begin. Sy het aan MatieMedia gesê dit het altyd gevoel asof dié kampus-en gemeenskapsradiostasie soos ’n kommersiële stasie bestuur is.
“Wanneer jy die sprong maak na ’n radiostasie met meer as ’n miljoen luisteraars, voel jy nie oorweldig nie,” het Mackenzie gesê.
Volgens Arnold van der Walt, programbestuurder by MFM 92.6, word elke aanbieder geleer om meer as nét ’n aanbieder te wees. Die radiostasie bied ook geleenthede aan individue om meer te leer oor die mediawêreld en die radio- en musiekindustrie.