Sou Stellenbosch as ’n Afrikaanse dorp van letterkunde verklaar word, sal dit tot die voordeel van die dorp, asook die lewenskragtigheid van Afrikaans, strek.
Dit was volgens Dr Willem Botha, uitvoerende direkteur en hoofredakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT).
Botha se kommentaar volg op ’n bod by die wêrelderfenisorganisasie, Unesco, om Stellenbosch as ’n Afrikaanse dorp van letterkunde te laat verklaar. Dr Darryl David, opvoedkundedosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), het die bod ingedien.
Coetzenburg-stadion: Dr Darryl David, opvoedkundedosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), het ’n bod by die wêrelderfenisorganisasie Unesco ingedien om Stellenbosch as ’n Afrikaanse dorp van letterkunde te laat verklaar. FOTO: Verskaf/Darryl David
“As [die bod goedgekeur word], het Afrikaanse letterkunde ’n tuiste vir die res van ons dae,” het David gesê. “Dit maak nie saak wat mense sê of wat die taalbeleid by die Universiteit [Stellenbosch] is nie, want Afrikaanse letterkunde sal bevorder word. Hierdie projek is soos ’n beskermende engel vir die Afrikaanse letterkunde veral.”
In sy motivering vir die bod, het David onder meer Stellenbosch se kunsryke kultuur as rede gelys vir waarom dié dorp wêrelderfenisstatus “waardig” is.
Ondanks onlangse omstredenheid oor die Universiteit Stellenbosch (US) se hersiene taalbeleid ten opsigte van Afrikaans as onderrigtaal, het die bod ondersteuning van die universiteit ontvang, het David beweer.
In ’n bod om Stellenbosch as ’n spilpunt vir Afrikaanse letterkunde by die wêrelderfenisorganisasie Unesco te laat verklaar, verwys Dr Darryl David na die gerekende Afrikaanstalige skrywer, Marita van der Vyver, se artikel oor die “beskermengele” van die African Book Festival (ABF) in Berlyn. David meen dat die toeskrywing van dié status aan die dorp ’n “beskermende engel” vir Afrikaans kan wees. FOTO: Inge du Plessis
“Unesco-status sal sekerlik waardevol wees vir die Woordfees en WOW, omdat dit die aansien van Stellenbosch as ’n belangrike spilpunt van Suid-Afrikaanse letterkunde sal verhoog,” het Danie Marais, mediaskakelbeampte vir Woordfees, gesê. “Dit sal ook ’n bydrae lewer om die dorp op die literêre wêreldkaart sigbaar te maak.”
Dit sal ook voordelig wees vir die bevordering van Afrikaanse onderrig, meen Fiona van Kerwel, projekbestuurder van Woordfees se Woorde Open Wêrelde (WOW)-projek.
“[Die goedkeuring van die bod] gaan vir die akademie oral oor baat, want ons almal weet dat kinders wat goed kan lees, kan op alle ander gebiede goed verstaan,” het Van Kerwel gesê.
Sou die bod goedgekeur word om Stellenbosch as ’n Afrikaanse dorp van letterkunde by die wêrelderfenisorganisasie Unesco te verklaar, sal Afrikaanse letterkunde bevorder word. Dit is volgens Dr Darryl David, ’n opvoedkundedosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) wat die bod ingedien het. FOTO: Inge du Plessis
Sou die bod goedgekeur word, sal Stellenbosch een van 39 letterkundestede in die wêreld word en wêrelderfenisstatus met stede soos Dublin, Edinburgh, Seattle en Praag geniet.
Die uitkoms van die bod sal in die eerste week van November vanjaar aangekondig word, volgens David.