Stellenbosch kore vaar goed by ATKV-Applous se eindrondte

Paul Roos Gimnasium en die Hoër Meisieskool Bloemhof (HMBS) van Stellenbosch se kore het onderskeidelik tweede en derde in die “prestige” kategorieë van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) se Applous koorkompetisie gekom. Paul Roos se koor het ook ’n toekenning vir die uitvoering van die beste voorgeskrewe werk ontvang. 

Kaapstad se stadsaal was stampvol in die finale rondte van die ATKV-Applous kompetisie wat tussen 24 en 27 Julie plaasgevind het. Dit was, volgens Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV, die 47ste keer dat hierdie kompetisie plaasgevind het. FOTO: Maliza Adendorff

Dié twee Stellenbosse kore het in die kategorieë “Hoërskool: Prestige Seuns” en “Hoërskool: Prestige Meisies” deelgeneem. 

Die Afrikaanse Hoër Seunskool (AHS) se koor, onder leiding van AJ Maree, het hierdie jaar die kategorie “Hoërskool: Prestige Seuns” gewen. 

“Ek is heeltemal oorweldig. Om met hierdie klomp jong manne te werk is absoluut amazing,” het Maree na hul oorwinning gesê.

HMBS se koor, onder leiding van Marijke Roos, het derde van vier kore in die finaal gekom in die kategorie “Hoërskool: Prestige Meisies” met ’n finale persentasie van 88.49%, slegs 0.29% agter die naaswenners. 

HMBS se koor het gedurende die Junie-Julie wintervakansie aan die Musica Orbis koor- en orkesfees in Praag deelgeneem waar hulle ’n trofee losgeslaan het, soos vroeër berig deur SMF News. 

Paul Roos se koor, onder leiding van Stephan Bezuidenhout, was naaswenners in hul kategorie en behaal ’n goud en ook ’n toekenning vir die uitvoering van die beste voorgeskrewe werk.  

Strawwe kompetisie

Die ATKV-Applous kompetisie is die oudste skoolkoorkompetisie in die land en is hierdie jaar vir die 47ste keer aangebied. Dit is volgens Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV. 

Laerskool- en hoërskoolkore van regoor die land het tussen 24 en 27 Julie in Kaapstad se stadsaal aan hierdie kompetisie deelgeneem. Daar was altesaam 111 Hoërskoolkore wat deelgeneem het. Slegs 10 van dié kore was vir die prestige kategorie ingeskryf. Dit is volgens inligting wat deur die ATKV aan SMF News verskaf is. 

Die Afrikaanse Hoër Seunskool (AHS) het van Pretoria af gereis om aan die ATKV-Applous kompetisie deel te neem, maar na hul eersteplek in die kategorie “Hoërskool: Prestige seuns”, was die reis volgens AJ Maree, AHS se koorleier, die moeite werd. FOTO: Maliza Adendorff

Hannelize du Plessis, een van die paneel se ses beoordelaars, het gesê dat daar dié jaar baie strawwe kompetisie tussen die kore in die verskillende kategorieë was. Die kore se uitslae in die eindrondte het nie met baie verskil nie. 

“Die kore se kwaliteit was goed en die standaarde was baie hoog,” het Du Plessis gesê. 

Du Plessis het ook gesê dat kore tussen die streeksuitdunne en die finale rondtes baie verbeter. “Dirigente en kore gebruik regtig al die kommentaar wat hulle by die streeksrondtes kry en pas dit toe teen die tyd dat hulle by die eindrondte kom.” 

“Dit is net soveel jou oorwinning as myne,” het André van der Merwe, dirigent van Hoërskool Stellenberg se koor, vir een van sy koorlede gesê, na hul oorwinning in die ATKV Applous se kategorie “Hoërskool: Prestige Meisies”. FOTO: Maliza Adendorff

Hoërskool Stellenberg se koor, onder leiding van André van der Merwe, ook die dirigent van die veelbekroonde Stellenbosse universiteitskoor, het met die louere in dié kategorie weggestap. Hulle het ’n finale persentasie van 92,71% behaal. 

“Vanjaar was ons 20ste algehele wen,” het van der Merwe gesê. “Dit klink onwerklik en [dit verg] jare se toewyding en ’n goeie sisteem en ondersteuning.”

, , , , ,