Die grootste biologiese, ultra-filtrasie membraan-rioolsuiweringswerke in Suid-Afrika, is gister in Devon Valley, Stellenbosch, onthul.
Die opgradering van die rioolsuiweringswerke (WWTW) volg nadat die hidroliese kapasiteit van die aanleg nie kon byhou met die inkomende vraag nie. Dit het gevolglik gelei tot die swak gehalte van afvalwater wat uit die Veldwachtersrivier gevloei het.
Die projek, wat nagenoeg R4 miljoen beloop het, is die grootste infrastruktuurprojek wat Stellenbosch Munisipaliteit nóg aangepak het.
“Die opgradering van die WWTW het die kapasiteit van die aanleg grootliks verbeter. Die gebruik van innoverende tegnologie sal toekomstige opgraderings vergemaklik en kostes bespaar,” het Gesie Van Deventer, burgemeester van Stellenbosch, in ’n verklaring aan MatieMedia gesê.
“Die opening van die fasiliteit gedurende my termyn as burgemeester is werklik ’n hoogtepunt. Die WWTW was een van die eerste kwessies wat onder my aandag gebring is toe ek in 2016 as burgemeester ingetree het. Wat ek egter gevind het was kommerwekkend en het gegrens aan ekonomiese- en omgewingsprobleme. Om hierdie rede het ons dié projek geprioritiseer,” het Van Deventer verder gesê.
Omgewingsbewaring is van die grootste uitdagings wat ons vandag in die gesig staar, het Michael Webster, uitvoerende direkteur van Water en Sanitasie van Kaapstad, gesê. “Een van die belangrikste dinge wat ’n munisipaliteit kan doen om die negatiewe impak op die omgewing te verminder, is om doeltreffende rioolsuiweringswerke te ontwikkel en in werking te stel. Dit sal sorg vir gesonder ekosisteme en ’n afname in gesondheidsrisiko’s,” het Webster gesê.
“Die aanleg het regtig ’n impak op die nabye omgewing,” het James Beukes, bestuurder van Water en Watersuiwering van Stellenbosch Munisipaliteit, gesê. “Ek kan met trots sê dat – nadat ons in Desember 2017 die eerste fase van die aanleg in werking gestel het – een van die boere stroom-af my gebel het en gesê het: ‘Jong, James. Die lewe kom terug in die rivier’,” het Beukes gesê.
Die munisipaliteit het reeds met die opgradering van talle ander rioolsuiweringswerke begin om aan die hoë vereistes en hoë gehalte van dienslewering te voldoen.