Stellenbosch Woordfees-kortverhaalbundel SPEEL vanjaar

Meer as 350 skrywers het deelgeneem aan vanjaar se Woordfees-kortverhaalkompetisie. Dit is volgens Candice Jantjies, die bestuurder van publisiteit en kommunikasie vir Woordfees en Woorde open Wêrelde (WOW).

Vanjaar se Woordfees vind plaas van 28 September tot 6 Oktober. Woordfees feesgidse kan verniet by Stellenbosch Munisipaliteit se biblioteek of op die Woordfees se webtuiste verkry word. FOTO: Duné van Jaarsveld

Dit titel van vanjaar se bundel, is SPEEL, in oorleg met die tema van vanjaar se Woordfees wat van 28 September tot 6 Oktober in Stellenbosch aangebied sal word. 

“As titel vir die bundel gebruik ons altyd die feestema, wat vanjaar SPEEL is,” het Suzette Kotzé-Myburgh, die sameroeper van die bundel se keurpaneel, aan SMF News gesê.

Die Woordfees se 2024-tema is op 8 Julie op onder meer die Woordfees se sosiale media-platforms bekendgestel.

Volgens Jantjies het 368 skrywers kortverhale ingestuur vir vanjaar se kompetisie, en is 22 kortverhale gekies om in die bundel opgeneem te word. 

Terwyl die name van hierdie skrywers reeds bekend is, sal die wenner van die kompetisie eers gedurende die Woordfees bekend gemaak word, het Kotzé-Myburgh.

“Die [bundel se] bekendstelling vind plaas op 28 September, waar die wenner van die kontantprys van R30 000 ook aangekondig sal word,” het Kotzé-Myburgh gesê.

Voorheen gepubliseerde skrywers soos Frederik de Jager, die bekende joernalis Murray La Vita, en Daneel Jantjies se verhale verskyn vanjaar in SPEEL, het Kotzé-Myburgh gesê.

Pret op die voorblad

Die bundel se voorblad word deur die grafiese ontwerper Fred Viljoen ontwerp. Die setwerk en verdere uitleg word deur Heléne Booyens gedoen, het Viljoen gesê.

“Hierdie jaar se tema was baie pret om mee te werk, en soos elke jaar probeer ons dit op ’n unieke manier interpreteer. [Vanjaar se] bundelontwerp word definitief geïnspireer deur die Woordfees-tema, en vorm deel van die groter visuele taal wat geskep is rondom die 2024-fees,” volgens Viljoen.

“Die konsepsualisering en skepping van die karakters en speel-wêreld was ook ’n proses van speel om by ’n oplossing uit te kom. Dit was pret om te sien hoe die proses ontwikkel en ’n lewe van sy eie kry,” het Viljoen gesê. 

“Die woord ‘speel’  kan dui op speletjies speel, musiek speel, toneel speel, of sommer net speel speel – om die lewe nie te ernstig op te neem nie,” het Fred Viljoen, die ontwerper van vanjaar se Woordfees-kortverhaalbundel se voorblad, gesê oor die tema van vanjaar se Woordfees. Die woord “speel” is ook die titel van vanjaar se Woordfees-kortverhaalbundel. FOTO: Duné van Jaarsveld

Meer oor die mense agter die bundel

SPEEL is die negende uitgawe van die Woordfees se kortverhaalbundel, volgens die Woordfees se webtuiste. 

Vanjaar se keurders sluit in Valda Jansen, ’n bekende Suid-Afrikaanse skrywer, Marius Swart, akademikus en vertaler van die Universiteit Stellenbosch se Afrikaans en Nederlandse departement en Suzette Kotzé-Myburgh, het Jantjies gesê.

Die wenner van die 2023-kontantprys was Rina Bester, terwyl Lynthia Julius die vorige jaar met die prys weggestap het. Dit is volgens die Woordfees se webtuiste.

“Sodra die bekendstelling verby is, sal die bundel dus by die fees se verkooppunt vir boeke te koop wees,” het Kotzé-Myburgh gesê.

Vanjaar het 368 skrywers ingeskryf vir die Woordfees se kortverhaal-kompetisie, terwyl 22 van hierdie stories vir publikasie gekies is, het Candice Jantjies, bestuurder van publisiteit en kommunikasie vir Woordfees en Woorde open Wêrelde (WOW) gesê. INFOGRAFIKA: Duné van Jaarsveld