Stellenbosse musiekstudente op wêreldverhoog

Ses musiekstudente aan die Universiteit Stellenbosch (US) het vroeër vandeesmaand in die Carnegie Hall in New York opgetree as deel van die African United Youth Orchestra (AUYO).Dit is volgens amptelike kommunikasie van die US wat in Julie uitgereik is.

Luidens die kommunikasie, is dié ses studente uit meer as 200 aansoekers gekeur om in die AUYO te speel. 

Van links na regs, Carina Naudé (violis), Gilah Kellner (konsertmeester), Courtney Sampson (horingspeler), Catherine Stiff (medekonsertmeester), Ricardo Hiniker (violis) wat deel was van die African United Youth Orchestra (AUYO) wat in New York se Carnegie Hall opgetree het. Die AUYO het uit 65 lede bestaan, volgens Stiff. FOTO: Maliza Adendorff

Die AUYO is ’n inisiatief van die Mzansi Nasionale Filharmoniese Orkes, het Catherine Stiff, die medekonsertmeester van die AUYO, gesê. 

Hierdie jeugorkes bestaan uit 65 lede uit verskillende lande in Afrika, het Stiff aangevoer. Die ses US-studente wat Suid-Afrika in dié orkes verteenwoordig het, is Gilah Kellner, konsertmeester, Catherine Stiff, medekonsertmeester, violiste Gretna Heynike, Ricardo Hiniker, Carina Naudé en Courtney Sampson, ’n horingspeler. 

Volgens Hiniker, violis en derdejaar BMus-student, is die AUYO die eerste Afrika-orkes wat in die Carnegie Hall gespeel het sedert die konstruksie van die gebou in 1891 voltooi is. 

Ses musiekstudente aan die Universiteit Stellenbosch (US) het hierdie jaar as deel van die African United Youth Orchestra (AUYO) hul debuut in die Carnegie Hall in New York gemaak. Dit is die eerste keer dat ’n jeugorkes uit Afrika hiérdie verhoog betree. Dit is volgens Ricardo Hiniker, BMus-student en violis in die AUYO. FOTO: Verskaf/Catherine Stiff

“[Dit] is [ook] die eerste Afrika-orkes in die Carnegie Hall en dis die eerste keer is dat [musikale werke] in Afrikaans, Xhosa en Zulu in Carnegie Hall opgevoer is,” het Naudé, violis en derdejaar BMus-student aan die US, gesê. 

Volgens Stiff, was die konsert deel van die Wêreld Orkes Week (WOW) wat jaarliks in New York aangebied word. WOW is hierdie jaar tussen 1 en 7 Augustus aangebied. 

Musiek meer toeganklik

“Geleenthede soos [WOW] maak orkesmuskiek meer toeganklik,” het Stiff oor die internasionale orkesweek gesê. Sy het ook aangevoer dat deelname in orkeste soos AUYO doelwitte vir jong musikante word om na te streef. 

Courtney Sampson, ’n horingspeler en derdejaar BMus-student aan die US, het gesê dat jongmense op internasionale verhoë ander mense vanuit hul gemeenskappe kan bemagtig en inspireer. 

“Terwyl ek groot geword het, het ek nie jongmense van my eie ouderdom [in orkeste] of op verhoë gesien nie,” het Sampson gesê. 

“Vir mense wat musiek deur middel van gemeenskapsprojekte leer, is dit ’n inspirasie om [hul] eie mense op só ’n verhoog te sien,” het Sampson gesê. “Dit is ook motivering vir [musikante] om aan te hou oefen en hard te werk.” 

Buiten die ses musiekstudente aan die Universiteit Stellenbosch (US), wat tussen 1 en 7 Augustus in die African United Youth Orchestra (AUYO) in die Carnegie Hall in New York opgetree het, lewer die US-konservatorium ook drie musiekstudente wat in die BRICS-jeugorkes in Moskou sal speel. Dit is volgens ’n plasing op die konservatorium se Instagramblad. FOTO: Maliza Adendorff

Volgende stop: Moskou

Sampson is ook gekies om deel te wees van die BRICS-jeugorkes. Dié jeugorkes bestaan uit musikante uit lande deel van die BRICS-interregeringsorganisasie; naamlik Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika. 

Twee ander US-musiekstudente, Zoë Coetzee en Ethan Lawson, sal volgens ’n Instagram-plasing deur die US se konservatorium, saam met Sampson, as deel van die BRICS-jeugorkes na Rusland reis. 

Courtney Sampson, ’n musiekstudent aan die Universiteit Stellenbosch (US), is ook genooi om as deel van die BRICS-jeugorkes in Rusland te gaan optree. Dit is volgens ’n Instagram-plasing deur die US Konservatorium. FOTO: Maliza Adendorff

Volgens Sampson, het sy nie ’n oudisie afgelê om deel van die BRICS-jeugorkes te word nie. ’n Horingspeler wie deel is van die Johannesburg Filharmoniese Orkes, het haar oor sosiale media genader en genooi om in dié jeugorkes te speel. 

Sampson het aangevoer dat dié geleentheid in die Zaryadye opelug konsertruimte soortgelyk is aan WOW, en dat die jeugberaad kulturele uitruiling bevorder. 

Die konsert vind op 18 Augustus in Moskou plaas. 

, , , , ,