Stellenbosse pendelaars moet nóg ’n week wag vir treine

Stellenbos pendelaars moet tot 18 Maart vanjaar wag om weer van ’n beperkte treindiens in die omgewing gebruik te maak. Die Passasierspooragentskap (Prasa) het in ’n persverklaring wat op 29 Februarie uitgereik is, aanvanklik aangedui dat dié treindiens reeds teen 11 Maart hervat sou word.

Volgens ’n persverklaring wat Prasa op 8 Maart uitgereik het, sal Stellenbosch se treinstasie op 18 Maart vanjaar sy deure vir ’n beperkte treindiens oopmaak. FOTO: Maliza Adendorff

Die Wes-Kaapse Metrorail het op 29 Februarie hierdie jaar ’n trein getoets as deel van die veiligheidstoetse en herstelproses aan die Eersterivier-Stellenbosch-spoorlyn. Luidens die persverklaring, het die herstelproses die opgradering van stasies en die rehabilitasie van spoorweginfrastruktuur op hierdie spoorlyn ingesluit. 

’n Trein wat op 29 Februarie op die Eersterivier-Stellenbosch-spoorlyn getoets is. FOTO: verskaf (Facebook [Metrorail WC])

Indien die spoorlyn aan al die veiligheidsstandaarde en regulasies voldoen het, sou ’n beperkte treindiens op 11 Maart hervat word, het Prasa in ’n persverklaring wat op 29 Februarie uitgereik is, verklaar. 

Prasa het egter op 8 Maart die herinstelling van die Eersterivier-Stellenbosch-spoorlyn tot 18 Maart uitgestel. 

Metrorail moet toestemming gee

“Die sentrale spoorlyn [in die Wes-Kaap] is al in Maart 2019 toegemaak,” het Herschel Smith, Prasa se waarnemende senior bestuurder in die Stellenbosch streek, gesê. “Die Eersterivier-Stellenbosch-spoorlyn was laas in Maart 2020 operasioneel.”

“Hulle [Metrorail Wes-Kaap] is nog steeds besig met veiligheidstoetse, dan moet die spoorwegveiligheidsreguleerder vir ons toestemming gee om die stasies oop te maak,” het Smith gesê. 

Volgens Smith is daar nog nie ’n datum vasgestel vir wanneer die spoorlyne weer volledig oop sal wees nie.

Indien die Eersterivier-Stellenbosch-spoorlyn aan die nodige veiligheidsregulasies voldoen, sal pendelaars weer van die treindienste in die Stellenbosch-omgewing gebruik kan maak, het Herschel Smith, die waarnemende senior bestuurder van Prasa in die Stellenbosch streek, gesê. FOTO: Maliza Adendorff

Inwoners hoop treine bring verligting op paaie

“Spitsverkeer is nou al van 05:00 in die oggende [op die N1 en N2] en natuurlik is daar die uitdaging van gereelde ongelukke, spesifiek met minibustaxi’s,” het Calvyn Heynes, die eienaar van CL Heynes Shuttle & Tours, vertel. Hy meen dat die herinstelling van treine die druk op nasionale paaie na Kaapstad sal verlig en dat dit die goedkoopste beskikbare openbare vervoer is. 

“Ek betaal R300 per week vir my seun se bus van Idasvallei tot in die stad [Kaapstad],” het James Dickson, ’n drywer by CL Heynes Shuttle & Tours, gesê. Heynes het ook beweer dat ’n mens tot R80 per dag kan betaal om met ’n taxi van Kayamandi tot in Kaapstad te kom. 

Daarenteen dui die Kaapstad Metro Vervoerinligtingsentrum aan dat ’n weeklikse treinkaartjie voor die Covid-19-pandemie ’n pendelaar R80 gekos het. 

Die direktoraat van stedelike mobiliteit van die Stad Kaapstad Munisipaliteit, het op 25 Mei 2023 ’n omvattende vervoerplan uitgereik en het daarin verklaar dat 60 000 passasiers in 2020 daagliks van openbare vervoer, spesifiek van spoorweë, gebruik gemaak. Volgens dié plan het 95% van die mense wat in 2020 van openbare vervoer gebruik gemaak het, in die lae- tot lae-tot-middelklas-inkomstegroep geval.