Stellenbossers traag om getel te word

Daar is verlede week ’n dringende beroep op Stellenbossers en inwoners van die wyer Kaapse Wynland Distrik (KWD) gedoen om aan vanjaar se sensus deel te neem. 

“Op hierdie stadium het slegs 57% van die inwoners in die KWD deelgeneem,” het dr Elna von Schlicht, uitvoerende burgemeester van die KWD-munisipaliteit, per e-pos aan MatieMedia gesê.

Dit kom na aanleiding van die trae verloop van vanjaar se sensusopnames in die Wes-Kaap waar die dataversamelingstydperk met twee weke verleng is tot 14 Mei, volgens ’n mediaverklaring deur Statistieke Suid-Afrika (SSA) van 28 April. 

“Nasionaal is 88% van huishoudings al getel terwyl die Wes-Kaap steeds by die 60% merk trek,” lui nog ’n mediaverklaring deur SSA van 3 Mei. 

sensus

“[Die] nasionale regering gebruik die inligting van die sensus om te bepaal waar projekte soos klinieke of polisiestasies gebou moet word,” het dr Elna von Schlicht, uitvoerende burgemeester van die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit, per e-pos aan MatieMedia gesê. “Wanneer jy en jou gesin deel vorm van die opname, beplan jy vir jou toekoms.” GRAFIEK: Karla van der Merwe

Stellensbossers steeks vir sensus

sensus

Volgens Duren Coetzee, ’n veldwerktoesighouer by die Stellenbosse sensusspan, sukkel veldwerkers om mense te kry om deel te neem aan die dataversamelingsproses. “Die Wes-Kaap sal onder die gevolge lei omdat mense nie saam met ons wil werk wanneer dit by die tel van mense kom nie,” het hy gesê. FOTO: Karla van der Merwe

Volgens Celia de Klerk, hoofdirekteur: strategie, bedrywighede en organisatoriese ontwikkeling by SSA, is hulle “hard besig om die mense van Stellenbosch te tel”. Sy het egter genoem dat slegs 52% van die Stellenbosch-munisipaliteit tot dusver gedek is. Sy het die rede hiervoor aan mense se onwilligheid om hulle deure vir die veldwerkers oop te maak, toegeskryf. 

“Die ander probleem is dat mense aandui dat hulle wel aanlyn die vraelys sal invul, maar ongelukkig nie deurvoer met die belofte nie,” het De Klerk per e-pos gesê.

Agt veldwerktoesighouers en 81 sensusveldwerkers is vanjaar binne die Stellenbosch-munisipaliteit betrokke, volgens De Klerk. 

“Ek wil graag vir ons inwoners ook vra om die veldwerkers met respek te behandel en hulle met egte wynland-gasvryheid te ontvang,” het Von Schlicht gesê. 

Veldwerkers samel al sukkelend in 

sensus

Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) se webwerf kan sensusveldwerkers “geïdentifiseer word deur hulle amptelike SSA-identifikasiekaart waarop die SSA-logo, hulle foto en unieke veldwerkersnommer verskyn”. FOTO: Karla van der Merwe 

Nog ’n moontlike rede waarom veldwerkers sukkel is omdat die publiek nie vanjaar ten volle ingelig is oor die sensus nie, meen Duren Coetzee, ’n veldwerktoesighouer by die Stellenbosse sensusspan.

Hy het gesê hy verstaan dat die hoë misdaadsyfer van onlangse jare inwoners ontmoedig om vir vanjaar se sensusveldwerkers oop te maak. Hy het ook verwys na vorige jare waar mense na bewering as sensusveldwerkers opgetree het om by mense se huise in te breek as iets wat inwoners verder ontmoedig. 

“Ons kan sien mense is meer versigtig om die beamptes in te laat alhoewel ons identifikasiekaarte en [persoonlike beskermende toerusting] het,” het Coetzee gesê.

, , , ,