In 2008 was Stellenbosch se deftige Dorpstraat verdrink in ’n rooi gloed. Die stamme van 393 akkerbome is met kilometers se rooilap toegedraai. Strijdom van der Merwe (58) het homself tόé gevestig as ’n kunstenaar om dop te hou. Hy is die man wat verantwoordelik is vir een van die mees revolusionêre oomblikke in die kunswêreld.
’n Groot glimlag en ’n wuif van die hand is wat my groet soos wat ek op De Warenmarkt se stoep sit en wag, vir waarskynlik die wêreld se beste landskapkunstenaar. Van der Merwe is regoor die wêreld bekend vir sy unieke en estiese uitstekende landskapkuns.
Junie en Julie is van die stilste maande toeris- en besigheidsgewys in Stellenbosch. Baie besighede maak selfs toe en laat die werknemers met vakansie gaan. “Die Dorpstraat se besigheidsverenigingkomitee” soos wat Van der Merwe dit sommer noem, het na hom toe gegaan en ’n versoek gemaak rakende dié ikoniese straat. Hul doel was om iets te doen dat daar meer lewe en besigheid in Dorpstraat sal wees gedurende daardie tyd.
Van der Merwe beskryf stralend hoe mooi Dorpstraat eintlik vir hom is in die winter. “Al die bome het hul blare afgegooi en hul stamme kontrasteer dan so mooi teen die wit geboue, veral as dit gereën het,” vertel hy. Die rooi van die lap wat Van der Merwe en sy kunsstudent-assistente om die bome gedraai het, het die bome meer laat uitstaan en veral mooi laat lyk teen die wit agtergrond van die geboue.
Die toeriste kantoor van Stellenbosch Munisipaliteit hou boek oor hoeveel geld uitgegee word deur toeriste. In die maand waarin die bome in rooi toegedraai was, was daar R8 miljoen meer spandeer as vorige jare in Stellenbosch. “Dit is dus ’n baie goeie voorbeeld van hoe instellasie-kuns kan geld maak,” sê Van der Merwe. Na die tyd is die lap geskenk aan vrouens in Khayelitsha, sodat hulle die lap om hul lywe kon draai en hul babas daarin kon dra.
Sy ontwerp word gereeld herhaal op die lanings van wynplase en in dorpe se strate, om maar net ’n paar voorbeelde te noem. Hy voeg by dat mens altyd vir hom vra hoekom hy dit nie patenteer het nie.
“Maar hoe weet jy watter ding gaan soos ’n veldbrand versprei? Dis die tipe goed wat ek die heeltyd doen en mens weet nie watter een gaan mense mee hardloop nie,” verduidelik Van der Merwe.
Hy vertel dat hy ’n vriendin by die Universiteit van Kaapstad se regsdepartement het en hoe hy destyds met haar gesels het oor die kunswerk. Sy sê toe vir hom dat mense nie ook bome mag toedraai nie, aangesien dit sy intellektuele eiendom is. Van der Merwe se toestemming moet dus gevra word, hy moet die bome self kom toedraai of die mense moet hom dan betaal.
Van der Merwe vertel glimlaggend hoe hy by ’n wynplaas ingery het en hul bome gesien het wat in rooi toegedraai is. Met selfvertroue het hy vir die eienaar die die saak en verseistes gestel. Die eienaar se antwoord was egter dat hy dan net die bome in geel sal toedraai. “Daar val my hele argument plat en ek weet toe nie wat om vir die ou te sê nie,” lag Van der Merwe.
Met ’n warm, vriendelike en oop gesig, is Van der Merwe plat op die aarde. Tydens ons twee uur lange gesels, was daar nie een woord van sy kant af van die vele toekennings wat hy al verwerf het nie. Van die toekennings sluit in die Jackson Pollock-Krasner Foundation Grant, Prince Claus Grant vanuit Amsterdam en vele ander internasionale ere-vermeldings.
Van der Merwe het grootgeword op ’n plaas buite Johannesburg, maar is deesdae ’n trotse Stellenbosser. Pulp Cinema, die landskap en die Konservatorium is van sy gunsteling aspekte van Stellenbosch. Die US-Koor se middagete vertonings is ook ’n hoogtepunt. “Stellenbosch het ’n klein dorpie-gevoel,” sê Van der Merwe terwyl hy genotvol uitkyk op Rynveldstraat.
“Vir my en my vrou is dit die wonderlikste ding om elke dag koffie te gaan drink by ’n koffiewinkel nadat ons die kinders afgelaai het by die skool.” Hy verduidelik dat dit vir hulle soos ’n rykdom is. “Ek is eerder ’n arm persoon in Stellenbosch, as ’n ryk persoon in Brackenfell of Kraaifontein. Die omgewing het so ’n invloed op jou…nie dat daar fout is met daardie plekke nie…ek dink as ’n kunstenaar soek mens net daardie inspirasie van al die mense en dinge wat rondom mens gebeur. Dit hou mens lewendig en aan die gang.”
Van der Merwe was een van die amptelike grafiese kunstenaars by die Universiteit van Stellenbosch (US) vanaf 1984 tot 1990. Vanaf 1993 tot 1995 was hy egter ’n grafiese dosent. Toe ek hom oor laasgenoemde vra, het hy gelag en sy kop geskud. “Ja, dis eintlik ’n snaakse en oulike storie.”
Digitale ontwerpe het stadig maar seker ’n verskyning begin maak. Van der Merwe sê dat hulle groepie kunstenaars toe vir die universiteit gesê het dat hulle nie hul grafiese studente kan uitstuur sonder dat die studente nie weet hoe om grafiese ontwerpe op rekenaars te doen nie. So is hy toe as dosent aangestel.
“Ek het die klasgee nooit geniet nie,” bieg Van der Merwe. “Vir my om die basiese goed wat ek reeds weet en dan vir ander te leer, werk net nie.” Soos vir meeste kunstenaars het die idee van ’n kantoor ook nie té goed geklink nie. “Die buitelug het my net absoluut geroep.”
Een van Van der Merwe se werke is al uitgestal voor die Smithsonian museum in Washington, VSA. Dit was die eerste keer wat hulle vir ’n kunstenaar die geleentheid gegee het om die sypaadjie voor die museum te verander in ’n kunswerk. “Ek het daar ’n werk gedoen wat ek dink fantasties en wonderlik is, maar dit het nie vreeslik aandag van die publiek gekry nie. Ek dink ek het te veel Suid-Afrikaans gedink en te min Amerikaans,” vertel Van der Merwe. “As ek dit kon oordoen sou ek dit op ’n ander manier gedoen het, maar ek is glad nie spyt nie.”
Daar kan van Van der Merwe se werke gesien word op kampus, soos die swaai bo in Victoriastraat. Van der Merwe werk baie keer saam met die munisipaliteit en Riaan van Zyl van die Tree Doctor op sulke projekte. Daar staan ’n boom voor Irene waar die takke soos potlode lyk. By die ingenieurswesegebou staan daar ook ’n boom wat se potlode weer alles rooi is. Al drie genoemde bome is al dood en in plaas daarvan om dit af te kap, gee Van der Merwe dit weer nuwe lewe. Dit skakel dus in met die idee dat landskapkuns die landskap se eie estetiese waarde verhoog en verbeter.
Hy beskryf homself as ’n minimalis. “Met ander woorde om alles weg te vat tot net die laaste element oorbly,” sê Van der Merwe. Daardie laaste element is dus krities. Hy hou van stilte, rustigheid en alleen wees. Hy vertel dat woestyn is dus sy heel gunsteling omgewing is om in te werk. Dit is die perfekte beeld van hom ook as persoon: rustig, kreatief en plat op die aarde.
“Enige een kan [kuns] eintlik doen. Dit is waar die geheim van van goeie kuns vandaan kom; die konsep is so sterk, maar niemand het daaraan gedink nie,” vertel Van der Merwe.