Studenteleiers span tegnologie in vir hegter Matie-gemeenskap

Studenteleiers aan die Universiteit Stellenbosch (US) poog om ’n hegter Matie-gemeenskap te skep deur ’n slimfoontoepassing, of app, deel van die alledaagse studentelewe te maak.

Team App sal nou inwoners aan US-koshuise en Private Studente-organisasies (PSO’s) toegang bied tot dokumente, foto’s, huiskomitee- (HK) portefeuljes en ander inligting van hul onderskeie studentegemeenskappe, alles op een platform.

[infogram id=”12c1c0c4-c869-487c-b9f5-731b3c7669d0″ prefix=”UDH” format=”interactive” title=”Wat is Team App?”]

GRAFIKA: Arleen Stone

Hoewel party koshuise reeds van die toepassing gebruik maak, fokus lede van die Studenteraad (SR) en Primkomitee (PK) veral op PSO-studente.

“Die toepassing is nodig vir PSO-studente omdat almal nie op ’n sentrale punt bly nie,” het Deoran Wessels (22), PK-voorsitter en ’n BRekLLB-student, gesê.

Een van dié projek se baasbreine, Minette Sieberhagen (24), ’n SR-lid, PK-ondervoorsitter en honneursstudent in Besigheidsbestuur, meen die toepassing is gepas vir die selfoon-gerigte leefstyl van hedendaagse studente.

minette-1467976573-1527414166345.jpg

Minette Sieberhagen (24) sê sy hoop dat hierdie toepassing beter kommunikasie onder Maties sal meebring. FOTO: Arleen Stone

“Dit sal fantasties wees as jy jou PSO’s en studenteverenigins op ’n toepassing kan hê, maar ook etes kan bespreek, COB kan laai en eksamenuitslae kan sien. Dit sal ideaal wees.”

Die ander baasbrein, Esona Mangcaka (21), het die eerste keer met die toepassing kennis gemaak as die vroue HK-lid by Eendrag-manskoshuis. Sy het as die PSO-studente-assistent en die PK se finansiële bestuurder gedink dat Team App verskeie kommunikasieprobleme weens verouderde PSO-webtuistes kan oplos.

“As PSO’s wou ons een platform hê waar ons kon saamwerk en al die nodige inligting uitgee, maar waar geen persoonlike inligting meegedeel word nie,” het Mangcaka gesê.

Esona-2918954156-1527414229760.jpg

Esona Mangcaka (21) meen die toepassing kan vir verskeie entiteite binne die Universiteit Stellenbosch (US) ontwikkel word. FOTO: Arleen Stone

“As daar een algemene toepassing is waar jy al die inligting kan kry, dink ek dit sal better kommunikasie en meer belangstelling in aktiwiteite genereer. Dit spaar eenvoudig tyd en is effektief.”

Volgens Sieberhagen was die PSO’s opgewonde oor dié tree na beter kommunikasie en blootstelling.

Dit is hoeveel US-koshuisinwoners en PSO-lede reeds deel van Team App is:

[infogram id=”6715cce7-aa97-4f49-a0e8-f31bf8db8f81″ prefix=”gaG” format=”interactive” title=”Hoeveel koshuisinwoners en PSO-studente is deel van Team App”]

GRAFIKA: Arleen Stone

’n Konsultant by die Institute for Business Efficiency in Pretoria, Pauli van der Mescht (24), het die PSO’s en sommige koshuise gehelp om hulle toepassings volgens hul unieke behoeftes te ontwerp.

“Team App is aanvanklik vir sportklubs gebruik en is ontwerp om kommunikasie te verbeter. Omdat ek self pas met universiteit klaargemaak het, het ek gedink dat studente by so ’n platform kan baat.”

Screenshot_2018-05-27-11-21-31

’n Skermgreep van die Team App-toepassing. FOTO: Arleen Stone

Die kommunikasiekoördineerder vir die US se Afdeling Studentesake, JC Landman (24), sê daar word tans met Korporatiewe Kommunikasie oor die moontlikheid van so ’n toepassing vir die US gepraat.

“Ek dink dat ’n eenstop-toep [toepassing] ’n briljante idee is. Ons almal gebruik deesdae toeps vir alles en dit maak die lewe veel makliker. Soveel te meer vir studente wat tegnologie tot die beste kan benut binne die kurrikulêre en ko-kurrikulêre omgewings van die US,” het Landman gesê.

KAART: Arleen Stone

“Die US het onlangs ’n interne kommunikasie-oudit gehad en ek sien uit daarna om die resultate te sien, want eers dan sal ons weet hoe studente wil hê die US met hulle moet kommunikeer. Ek dink egter dat ’n US-toep fantasties kan wees.”

Sieberhagen het gesê met genoegsame ondersteuning beoog hulle om teen die einde van volgende jaar se verwelkomingstydperk ’n onafhanklike toepassing te laat ontwerp waarby die universiteit moontlik as ’n geheel sal kan baat.

KYK: Hoe om Team App te gebruik

VIDEO: Arleen Stone

– Arleen Stone