Die Studenteraad van die Universiteit Stellenbosch (US) sal homself vanjaar aktief daarvoor beywer om studente se universiteitservaring te vergemaklik. Dit is volgens die nuwe voorsitter van die Studenteraad, Lewis Mboko.
In die verlede het studente dikwels gekla dat die Studenteraad se rol op kampus onduidelik is, en dat die Studenteraad weinig doen om studente te help.
“Een van ons grootse doelwitte is om ʼn hegte band met studente te vorm en ons kan dit slegs doen deur sigbaar te wees daar waar studente die meeste van hulle tyd deurbring, soos in die Neelsie,” het Mboko gesê oor die visie wat hy en sy span vir 2020 het.
Die US se Studentebestuur het in kommunikasie aan MatieMedia gesê: “Die Studenteraad se rol sluit in dat hulle moet deelneem aan die instansie se besluitemingstrukture. Raadslede moet adviseer en ondersteun deur die nodige dienste aan studente te lewer. Lede moet ook die verantwoordelikheid neem om die studente op verskillende vlakke te verteenwoordig.”
Die Studenteraad moet egter ook alle studente laat welkom voel – ongeag hul agtergrond, het Mboko gesê.
“Dit is ʼn geleentheid om studente te bemoedig en te verseker dat hulle ʼn positiewe ingesteldheid behou gedurende hulle studies. Ons rol is om na die studente te luister sonder om te diskrimineer,” het Mboko gesê.
“Die Studenteraad is soos ʼn brug wat die weg vir studente na hulle sukses makliker maak sonder om enige student uit te sluit,” het Wama Ngoma, ondervoorsitter van die Studenteraad vir 2020 gesê.