SU registrateur verkoop eie kuns om pasiënte met seldsame siektes te help

Kunswerke wat ontwerp is deur die registrateur van ʼn navorsingsgroep aan die Universiteit van Stellenbosch (US), word tans opgeveil om fondse in te samel vir genetiese toetse en diagnose vir pasiënte met seldsame siektes. 

Dr Cumine van Tonder, die registrateur van mediese genetika by Tygerberg Hospitaal, by een van haar kunswerke. Die fondse wat ingesamel word, word gebruik vir die diagnose en behandeling van seldsame siektes in minderbevoorregte gemeenskappe in Suid-Afrika. FOTO: Verskaf/Cumine van Tonder

Dr Cumine van Tonder, registrateur van mediese genetika by Tygerberg Hospitaal en deel van die Seldsame Siekte Genomika navorsingsgroep, het aan SMF News gesê dat sy ook ʼn kunstenaar is. Sy het 22 van haar eie kunswerke geskenk vir die navorsingsgroep. 

“My werk as ʼn mediese genetika registrateur is veeleisend en verg toewyding en akkuraatheid, waar kuns vir my meer ʼn manier is om myself kreatief op ʼn geestelike en emosionele vlak uit te druk. My werk en kuns inspireer mekaar,” het Van Tonder gesê. 

Dr Cumine van Tonder, die registrateur van mediese genetika by Tygerberg Hospitaal, se gewildste kunswerk tot dusver. Die kunswerk is getiteld “Vir die liefde van Genetika”. FOTO: Verskaf/Cumine van Tonder

Die kunswerke is tussen 14 Januarie en 28 Februarie aanlyn opgeveil, waarna die fondse dan gebruik sal word om minderbevoorregte Suid-Afrikaners wat aan seldsame siektes ly, te help met die diagnose en behandeling daarvan, het Van Tonder gesê. 

Indien al die kunswerke op die aanlyn veilingsplatform teen ʼn minimum prys opgeveil sou word, sou die projek ongeveer R23 000 insamel. Teen 28 Februarie het die Bidpro-webblad aangedui dat is daar is alreeds reeds R25 600 deur die projek ingesamel is. 

Die gemiddelde koste per genetiese toets beloop volgens die Kankervereniging van Suid-Afrika ongeveer R7450. Indien al  Dr Cumine van Tonder se kunswerke opgeveil word teen ʼn minimum prys, kan dit ongeveer 3 gesinne help. 

Die hoogste bod op ʼn enkele kunswerk, was op 26 Februarie R3500, volgens die Bidpro webblad. 

Die meeste van die kopers was tot dusver mediese beroepslui, het Dr Marianne Gush, ʼn sielkunde navorser wat namens die navorsingsgroep die veilingsblad bestuur, gesê. 

Van Tonder het gesê dat haar ma en haar hoërskool kunsonderwyseres, Natasha Pretorius, haar liefde vir kuns help ontwikkel het. 

Pretorius onthou vir van Tonder as “ʼn selfaangedrewe leerder” wat hoë standaarde vir haarself gestel het. 

“Sy het haar projekte met soveel insig voltooi en nie geskroom om reuse kunswerke aan te pak nie. Sy was beslis linker- en regterbrein baie goed ontwikkel,” het Pretorius gesê.

Dr Cumine van Tonder, die registrateur van mediese genetika by Tygerberg Hospitaal, se kuns illustreer ʼn samesmelting van die natuur en menslike anatomie, wat die diepgaande konneksie tussen die menslike liggaam en die wêreld om ons simboliseer.