Reinet Barnard is een van twee mense op die vasteland wat ’n internasionaal-gekwalifiseerde boccia-skeidsregter is. Barnard se paaie het aanvanklik toevallig met dié paralimpiese sport gekruis. Sy het met Stefani Terblanche van SMF NEWS gesels oor haar loopbaan.
Reinet Barnard dra haar boccia-hemp met trots. FOTO: Stefani Terblanche
“Boccia is ’n ongelooflike sport,” sê Reinet Barnard. “Dit is die grootste tentoonstelling van bemagtiging van gestremdhede wat jy enige plek sal sien, want niks is onmoontlik in boccia nie.”
Barnard se pad het in 1999 die eerste keer met dié paralimpiese sport gekruis, toe sy genooi is na ’n geleentheid waar boccia plaaslik bekendgestel is.
Vandag is sy een van slegs twee mense in Afrika wat gekwalifiseerd is om op internasionale vlak as boccia-skeidsregter op te tree.
Die pad na boccia
Barnard het BSc (Fisioterapie) aan die Universiteit van Pretoria studeer, en het in haar vierde jaar by die Nuwe Hoop-skool, ’n skool vir kinders met fisiese en leergestremdhede, gaan werk.
Sy was “mal” daaroor en het besluit om nagraads in neuro-ontwikkelingsterapie te spesialiseer. Sy wou veral fokus op kinders met fisieke gestremdhede, en die behandeling van hoë risiko-babas vir vroeë intervensies.
Sy het vir ’n paar jaar ’n privaat-praktyk gehad, maar dit was “glad nie lekker nie”, onthou sy.
In 2004 het sy op skolevlak by boccia betrokke geraak, daarna op distriksvlak as die sportsadministrateur vir Pretoria, en toe provinsiaal vir Gauteng. “Boccia is ’n binnenshuise sport,” verduidelik sy. “Dit is baie soos rolbal, maar dit is nie rolbal nie…”
Wat is boccia? Boccia is kompleks met 27-bladsye reëls wat jaarliks opgedateer word om meer spesifiek te wees en strenger gereguleer te word. In kort het elke span ses balle, of rooi of blou. Die span wie se balle die naaste aan die wit bal, ook bekend as die Jack-bal, kom, kry die meeste punte. Daar is egter verskeie tegnieke, en vir die spelers wat nie kan praat nie, is die verhoudings met hul assistente, oftewel ramp-operateurs, verskriklik belangrik. INLIGTING: Reinet Barnard |
Sy het intussen Wes-Kaap toe verhuis en is tans voorsitter van die Wes-Kaapse Provinsiale Sportsvereeniging vir fisieke gestremdhede (WPSAPD) – als op ’n vrywillige basis.
Reinet Barnard (regs) ontvang hier ‘n sertifikaat vir “Service Above Self” van Moekie Grobbelaar, die president van die Suid-Afrikaanse Sportvereniging vir Liggaamlik Gestremdes. FOTO: Verskaf/Reinet Barnard
Sy werk die laaste agt jaar as fisioterapeut by Paarl Skool, en woon in ’n huis op die skoolgronde. Dié skool fokus spesifiek op kinders met fisieke- en leergestremdhede, en bied verskeie sportsoorte aan. Dit sluit in para-atletiek, dans, tafelkrieket, rolstoel-basketbal en boccia.
’n Lewe gerig op sport
Barnard was as kind reeds lief vir sport, en het van jongs af saam met haar ouers op staptoere gegaan. Op hoërskool was sy ’n ballerina en het aan verskeie atletiek-items deelgeneem. Sy wou juis fisioterapie studeer om op sportsbeserings te fokus.
“Dit kombineer my belangstelling van die mediese wêreld, asook my passie om met mense te werk,” vertel Barnard.
“Dis die pad wat die Here met my gestap het om my bloot te stel aan sport, en mense met gestremdhede. En my te plaas by boccia en om te werk met die atlete en kinders,” verduidelik sy.
Hier is Reinet Barnard as skeidsregter by ’n boccia-toernooi. FOTO: Verskaf/Reinet Barnard
Werk met ’n wonderkind
Die kinders met wie Barnard werk, inspireer haar.
“Om te sien watter gestremdhede hulle het en hoe hulle niks in hulle weg laat staan nie,” sê sy. “En hoe hul hulself aanvaar: ‘Dis wie ek is. Ek aanvaar myself. Ek is lief vir myself vir wie ek is. En ek vat ’n uitdaging, en gaan met hom.’”
Barnard rig haar nou al vir meer as agt jaar af. Volgens Elanza se ma, Sandre Jordaan, het Barnard se hulp baie bygedra tot Elanza se groei in boccia.
“[Barnard] sal ten alle tye motiveer en slegs positiewe kritiek lewer,” sê Jordaan. “Sy het ’n baie belangrike rol gespeel in ons fisiese en emosionele voorbereiding op internasionale sport.”
Elanza beaam dit en noem dat, alhoewel Barnard ’n streng afrigter is, dit tot haar voordeel is.
“Dit het tot gevolg gehad dat ek my reëls ken, in beheer voel tydens boccia-wedstryde en weet dat elke boccia-bal ’n wenbal kan wees,” sê sy.
Elanza Jordaan en haar ma, Sandre, by die Toyota Suid-Afrikaanse Sportvereniging vir Liggaamlik Gestremdes (SASAPD) se nasionale toernooi vir fisieke- en gesiggestremdes wat in Maart gehou is. Hier help Sandre haar dogter, wat in die BC3-kategorie van boccia deelneem. Dié kategorie is vir mense wat min of geen funksie in hul hande het nie. FOTO: Verskaf/Sandre Jordaan
‘Jy is coach, jy is versorger’
Aangesien ’n beperkte hoeveelheid mense in Suid-Afrika by boccia betrokke is, moet ’n mens as afrigter meer as een rol speel, verduidelik Barnard.
“Jy is ’n coach, jy’s ’n versorger – jy bad, jy help by die toilet, jy help voer, jy help in en uit laai in stoele. Jy help hulle apparaat opstel,” sê sy. “Maar as jy nie onder begin nie, sal jy nie verstaan waardeur die atlete gaan nie. En as jy nie verstaan waardeur die atlete gaan nie, verstaan jy ook nie mooi wat jou rol is as ’n coach nie.”
’n Fokus op medemenslikheid
Barnard se passie vir boccia en sport is diep met haar persoonlike lewe verweef. Haar volgende droom is om ’n boccia-skeidsregter by die Paralimpiese Spele te wees.
Verdere prestasies Reinet Barnard was vir ’n hele paar jaar ’n nasionale boccia-skeidsregter, voordat sy in 2017 deur die beheerliggaam van die Boccia Internasionale Sportsfederasie (Bisfed), nou ook bekend as World Boccia, genomineer is om haar internasionale skeidsregterskursus te doen. Sy het in 2019 haar internasionale afrigterskursus vlak 1-erkenning ontvang. INLIGTING: Reinet Barnard |
Alhoewel vrye tyd maar min is, is sport iets wat Barnard altyd dra. Die dissipline wat ballet gebring het bly haar altyd by. Deesdae geniet sy dit om deel te neem aan verskeie toernooie, soos die Cape Town Cycle Tour, OUTsurance GunRuns en Two Oceans halfmarathon. Sy geniet dit ook om op staptoere met haar kinders te gaan.
Om op datum met die basiese fisioterapie-tegnieke te bly, werk Barnard sommige naweke by hospitale.
Barnard se lewe draai egter om twee dinge: boccia en kinders.
“[Ek] dink nie dis my prestasies nie, maar dis my atlete se prestasies wat my ongelooflik trots maak,” vertel sy. “Hulle voel soos my kinders. Jy raak so persoonlik by hulle betrokke.”
Haar grootste trots is haar eie kinders wat ook by boccia en sport betrokke is, sê Barnard.
“My oudste dogter is ’n nasionale skeidsregter en my jongste dogter is ’n ‘ramp-operator’. Ek is baie trots op hulle daaroor.”
Die Barnard-trio is almal by boccia betrokke. Hier is Reinet Barnard saam met haar oudste dogter, Madelein (links), en Leandri. FOTO: Stefani Terblanche
Barnard gesels oor die lesse wat sy deur die jare geleer het.
“Dit gaan nie altyd oor die fout nie, maar die verantwoordelikheid en vergewinsgesindheid daarvan,” verduidelik sy.
Sy maan teen ’n lewensingesteldheid wat te gejaagd of krities staan. Sy het geleer dat tyd, geduld en menslikheid belangrik is.