Suna Venter se nalatenskap leef voort

Die skrywer, Quinton Adams, het tydens die Suna Venter-gedenklesing by die Toyota US Woordfees 2020, op 9 Maart in Stellenbosch die publiek uitgedaag om die waagmoed en gewilligheid van Suna Venter voort te dra.   

Die bekende Drostdy Teater waar die Suna Venter-gedenklesing plaasgevind het. FOTO: Heidi-Jane de Wee

Die bekende Drostdy Teater waar die Suna Venter-gedenklesing plaasgevind het. FOTO: Heidi-Jane de Wee

Venter, ’n lid van die sogenaamde SAUK-agt, is in 2017 aan gebrokehart-sindroom oorlede. Dié toestand is vermoedelik die gevolg van trauma en lang periodes van hoë stres, wat veroorsaak is deur voortdurende intimidasie en teistering. “Die onmenslikingsproses is wreed, ongenaakbaar, vernietigend en dis die daaglikse marteling van die siel,” het Adams gesê.  

Adams het gesê dié gedenklesings is ’n geleentheid om woorde in aksie om te skakel. “Dit laat mense toe om weg te beweeg van gesprekke en kritiese denke wat nie transformasie voortbring nie. Suid-Afrika benodig individue met waagmoed om te spreek, te skryf en aksie te neem — volgens hulle persoonlike oortuigings,” het Adams gesê.

“Ek glo Suna Venter was iemand wat groot waagmoed gehad het. Sy was ook iemand wat nie gehuiwer het om radikaal te wees nie,” het Adams verder gesê.

 Skrywer, Quinton Adams, tydens die Suna Venter-gedenklesing. FOTO: Verskaf

Skrywer, Quinton Adams, tydens die Suna Venter-gedenklesing. FOTO: Verskaf

Adams is ook vir die afgelope 18 jaar aan die stuur van die Shackbuilding-projek, wat nuwe wonings bou vir mense in informele nedersettings. Hy het ’n begeerte gehad om transformasie te bewerkstellig en om mense se siening oor hulself te verander. 

“Ek het ʼn roete begin loop waar ek kon sien wat gebeur wanneer mense nie omgee vir dié wat in armoede leef nie. Ek het besluit dat ek moet opstaan vir dit waarin ek glo en ’n verskil moet maak,” het Adams gesê.

, ,