Die studenteproduksie Kansel sal Saterdagaand in die finaal meeding om die posisie as topproduksie by die Universiteit Stellenbosch (US) Dramadepartement se Première Toneelfees.
Dié debuutfees bied die geleentheid vir jong stemme in die teaterbedryf om hul selfgeskrewe tekste op die planke te bring.
Marichje de Necker (23), ’n honneurs dramastudent, en Wynand Kotze (25), ’n tweedejaar dramastudent, deel nie alleenlik die verhoog in Kansel nie, maar was ook beide betrokke by die skryfproses.
Die stuk ondersoek temas rakende vriendskap en seksualiteit en handel oor twee beste vriende wat besluit om te trou ten spyte van die feit dat hulle nie seksueel aangetrokke is tot mekaar nie.
Alhoewel beide Kotze en De Necker se persoonlike verhale aanvanklik ingespoel het in die teks, het die narratief baie verander tydens die werkswinkelproses.
Dié twee akteurs, wat reeds in 2015 kragte saamgespan het, meen hoewel hulle dikwels as ’n kreatiewe span verskil, hulle altyd hul eie vriendskap as basis gebruik in die skryfproses.
“Ons verstaan mekaar wat beteken dat die spasie waarin ons skep, veilig is en belaai is met deernis,” sê Kotze. “Ons gee mekaar ruimte om foute te maak en ontdek saam nuwe stories.”
Volgens De Necker, wend dié tragikomedie geen poging aan om ’n politieke standpunt te maak nie, maar fokus dit eerder op die konsep van vriendskap.
“Of jy gay is of nie, jy kan vereenselwig. Baie mense was al in die posisie waar hulle verlief was op hul beste vriend en die vrees gehad het dat hulle dinge kan opmors,” meen De Necker.
Carla Smith (20), ’n derdejaar dramastudent, is reeds vroeg in die produksieproses genader om die regisseurstoel oor te neem.
Smith, wat ook vanjaar ’n toekenning ontvang het as beste opkomende kunstenaar by die Woordfees, meen dit was ’n uitdaging om ’n storie, wat by tye “heilig was vir die akteurs”, op ’n manier aan te bied wat nie subjektief en eendimensioneel is nie.
Volgens Petrus du Preez, ’n beoordelaar en dekaan aan die US Dramadepartement, het die produksie daarin geslaag om “ ’n sentiment oop te boor”.
“Dit was vir my baie lekker om hierdie verskriklike snydende, wrede komedie te sien. Die wreedheid is besonders amusant en verskriklik hartseer,” meen Du Preez. “ ’n Mens lag met ’n traan en dis ’n goeie voorbeeld van waar komedie werk.”
Saartjie Botha, ’n beoordelaar en Direkteur van die Woordfees, beskryf Kansel as ’n tipe “dans” wat daarin geslaag om patos (‘n kwaliteit wat hartseer ontlok) te skep.
Cornelia Faasen, ook ’n beoordelaar en Uitvoerende hoof van die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (Nati), meen die “naturalistiese” spel van die akteurs neem die gehoor op reis saam met hulle.
Volgens Caitlin Wiggill (23), ’n dosent aan die US Dramadepartement, slaag die stuk veral daarin om ’n bekende tema op ’n boeiende wyse aan te bied.
“Dit was baie interessant om ’n stuk jong literatuur te sien wat praat oor LGBTQ-kwessies; nie op ’n direkte of prekerige manier nie, maar op ’n manier wat gebaseer is op eerlike ervarings.”
S.Z. Minnaar (23), ’n geesteswetenskappe-student aan die US, meen dis juis dié interessante uitbeelding van seksualiteit wat die produksie so uniek maak.
“Ek hoop regtig die stuk kry die geleentheid om nog by baie feeste te speel,” sê Minnaar.
Die drie beste produksies van die week, waaronder Deurmekaar, This Again? en Kansel, sal Saterdagaand by die gala-geleentheid in die US Lab-Teater optree waarna die wenner sowel as die prys, bekendgemaak sal word.
[infogram id=”20af8aee-50d9-4a48-bd4a-d79bfb2f4dde” prefix=”Hgr” format=”interactive” title=”Flow Light”]