Upington skole implementeer aanlyn onderrig

Die Covid-19 pandemie en die gepaardgaande landswye inperking het ’n ingrypende impak op onderwysers en leerders, met skoolgronde dwarsoor die land wat sedertdien gesluit is. Skole en onderwysers landswyd werk aan alternatiewe maniere om te verseker dat onderrig kan voortgaan. 

Die Noord-Kaap Departement van Onderwys het wél planne om die impak van die landswye inperking te minimaliseer. “Ons het gebeurlikheidsplanne in plek om te verseker dat die effek van die Covid-19 pandemie minimaal op die 2020 akademiese skooljaar is,” het Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die Noord-Kaap Departement van Onderwys gesê. 

Volgens Van der Merwe is daar metodes geïmplementeer vir aanlyn onderrig. “Onderwysers het WhatsApp-groepe gestig in distrikte – per vak – waar leermateriaal met leerders gedeel word. Ons het ook die uitsaai van lesse op ses van die gemeenskapsradiostasies moontlik gemaak vanaf Woensdag 8 April 2020, vir al nege vakke, spesifiek vir ons matrieks,” het hy gesê.

 “Ons moet onthou dat opvoeding ’n sosiale kwessie is en in tye soos hierdie moet almal hulle verantwoordelikheid besef as burgers van hierdie land,” het Van der Merwe verder gesê. 

Die uitdaging vir skole

In Upington, werk Hoёrskool Upington en Saul Damon Sekondêre Skool hard om aanlyn onderrig op sosiale netwerke vir leerders te implementeer. Dit volg nadat skole oorspronklik 31 Maart 2020 sou heropen. 

Hoёrskool Upington het reeds in 2015 die gebruik van tablette in hul onderrigplan geïmplementeer. Dit was deels om leerders beter voor te berei op ’n wêreld waarin tegnologie vinnig ontwikkel, en hulle op universiteitsvlak te bevoordeel. 

Hoёrskool Upington leerders besig met onderrig met die gebruik van tablette voor die aanvang van die landswye inperking. FOTO: Facebook/Hoёrskool Upington

Hoёrskool Upington leerders besig met onderrig met die gebruik van tablette voor die aanvang van die landswye inperking. FOTO: Facebook/Hoёrskool Upington

“Die skool het besef dat onderwys nie op dieselfde manier sal voortgaan nie. Ons wou een van die eerste skole wees wat ’n verskil op hierdie vlak maak en ons het nie besef watter voordeel dit nou sou inhou nie,” het Riaan Kotze, skoolhoof van Hoёrskool Upington, aan MatieMedia gesê.  

Hoёrskool Upington besef die erns van die omstandighede waarin die land gedompel is, maar probeer om positief te bly, het hy gesê. “Die pandemie is sleg vir die wêreld, ons land en vir Upington, maar miskien gaan dit Hoёrskool Upington herdefinieer,” het Kotze  gesê. 

 

Volgens Kotze ervaar die skool egter steeds uitdagings met aanlyn onderrig – een hiervan is leerders wat in informele nedersettings woon en nie toegang tot die internet het nie. “Vir leerders wat in informele nedersettings woon, moet ons ander planne maak. Hierdie gaan ʼn nuwe uitdaging wees,” het hy gesê.

Die onderwysers by die skool gebruik aanlyn onderrig so wyd as moontlik en op maniere wat tot voordeel van die leerders strek. 

“Ons het vir leerders die kwartaal se taaloefeninge vooruit gegee. Niks is nuwe werk nie. Ek het ook vir elke klas ’n Whatsapp-groepie wat kommunikasie vergemaklik,” het Gerda van Staden, onderwyseres by Hoёrskool Upington, gesê.  

Carol-Joy Bezuidenhoudt, matriekleerder by Hoёrskool Upington, sê dat leerders aanlyn onderrig geniet, ten spyte van die uitdagings. “Dis ’n aanpassing, want die werk wat ons gekry het voor die skool gesluit het was baie, maar dit is ook gerieflik omdat ons onderwysers vir ons baie hulpbronne stuur,” het sy gesê. 

ʼn Leerder van Hoёrskool Upington hard aan die werk deur die gebruik van aanlyn onderrig, tydens die landswye inperking. FOTO: Facebook/Hoёrskool Upington

ʼn Leerder van Hoёrskool Upington hard aan die werk deur die gebruik van aanlyn onderrig, tydens die landswye inperking. FOTO: Facebook/Hoёrskool Upington

Vir Saul Damon Sekondêre Skool op Upington is dit ʼn groter taak om aanlyn onderrig suksesvol te implementeer.

Volgens Charlotte Matthys, adjunkhoof en onderwyseres by Saul Damon Sekondêre Skool, is dit moeilik om alle leerders te bereik. “Baie van ons leerders bly nie in Upington nie, maar in klein omliggende plekkies soos in die Kalahari, Olifantshoek en Sesbrugge,” het sy gesê.

Saul Damon Sekondêre Skool het aktief probeer om gebruik te maak van aanlyn onderrig. “Ons het pogings aangewend soos om inligting te versprei deur WhatsApp-groepe wat in klasverband geskep is. Ons het ook gevra dat leerders wat naby mekaar bly, inligting moes deel,” het Matthys gesê. 

Met die implementering van hierdie planne is daar egter baie struikelblokke wat die skool moet oorkom, insluitend toegang tot die internet en slegte internetontvangs

“Leerders op afgeleë gebiede ondervind probleme om data te koop omdat daar nie winkels naby is nie en opvangs is ook baie keer ’n probleem,” het Matthys gesê. 

Onvermybare gevolge van die inperking

Matthys het verduidelik dat daar ’n realiteit is wat hulle in die gesig moet staar gegewe die omstandighede. “As ons nie ons leerders kan bereik nie, is ons genoodsaak om die werk weer te onderrig wanneer skole heropen. Ons sal definitief ’n langer skooldag volg as die inperkingstydperk eindig,” het sy gesê. 

Saul Damon Sekondêre Skool in Upington se deure is, soos ander skole s’n, sedert die aanvang van die landswye inperking gesluit. FOTO: Charlotte Matthys

Saul Damon Sekondêre Skool in Upington se deure is, soos ander skole s’n, sedert die aanvang van die landswye inperking gesluit. FOTO: Charlotte Matthys

Vir die leerders van Saul Damon Sekondêre Skool is die uitdaging ook groot 

“Ek pas selfdissipline toe deur ou vraestelle uit te werk en aanlyn webtuistes te besoek waar lesse aangebied word. Ek het selfs ’n nuwe metode van leer probeer waar ek my skooluniform aantrek net om die gevoel van skool te kry,” het Azelia Pofadder, matriekleerder van Saul Damon Sekondêre Skool gesê. 

, ,