US-dosent word lid van SA Akademie

’n Dosent van die Universiteit Stellenbosch (US) is onlangs tot ’n volwaardige lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) verkies. Dr Elbie Adendorff, verbonde aan die US se Departement Afrikaans en Nederlands, is op 4 Mei as lid aangewys. Dit is volgens prof Anne-Marie Beukes, hoofuitvoerende beampte van die SAAWK.

dosent

Dr Elbie Adendorff is op 4 Mei tot van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) verkies. “Die lidmaatskap beteken erkenning vir dit wat ek doen in my spesialisveld van taalverwerwing. Dit beteken ook erkenning vir die navorsing wat deur my nagraadse studente onderneem word. Dit beteken ook erkenning aan my tutors wat fantastiese werk in die tutorlokale doen en sonder wie ek nie taalverwerwing sal kan aanbied nie,” het Adendorff gesê. FOTO: Verskaf/Elbie Adendorff

Dié aankondiging, volgens Beukes, is rondom 1 Junie gemaak en die Departement Afrikaans en Nederlands het vir Adendorff op 3 Julie op Instagram gelukgewens.

“Die SA Akademie se mandaat is om Afrikaans as ’n wetenskapstaal te bevorder en daarom is ons verheug om ’n kundige akademikus wat in taalverwerwing spesialiseer in ons midde te verwelkom,” het Beukes per e-pos aan MatieMedia gesê.

Volgens Adendorff is dit ’n ongelooflike eer en voorreg om ’n lid van die SAAWK te wees “veral omdat ’n mens se aansoek deur ’n proses van eweknie-evaluering gaan”. Sy sien dit as erkenning vir dit wat sy in die onderrig van, en navorsing oor, taalverwerwing wil doen.

“Ek het eintlik baie nederig en ‘klein’ gevoel toe ek die brief van die Akademie gekry het wat my inlig dat my aansoek vir lidmaatskap aanvaar is,” het Adendorff per e-pos aan MatieMedia gesê. 

Die roete tot lidmaatskap

Volgens Beukes word lidmaatskap tot die SAAWK slegs op uitnodiging toegeken na aanleiding van besondere prestasies op wetenskaplike, tegnologiese of kulturele gebied.

“Vooraanstaande bankiers, ouditeurs, sakeleiers, geneeshere, regsgeleerdes, ingenieurs, kunstenaars en ander wat op hulle eie terreine presteer, word ook tot die Akademie verkies,” het Beukes gesê.

Sy het gesê persone wat oor “’n gevorderde graad in ’n bepaalde vakgebied beskik en ’n stewige publikasierekord het”, word ook vir lidmaatskap oorweeg.

dosent

“Die beste aspek om taalverwerwing te onderrig, is die studente met wie ek werk en tweedens die liefde vir Afrikaans, wat ek hoop ek by die taalverwerwingstudente ontwikkel,” het dr Elbie Adendorff gesê. Sy is onlangs tot die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns verkies is. FOTO: Nazley Wilschutt

Beukes het verder verduidelik dat beroepslui wat ’n sterk professionele profiel het en nie noodwendig oor ’n publikasielys beskik nie, ook oorweeg kan word.

“Die Akademie het onlangs besluit om ook aansoeke wat individue uit eie beweging rig, te oorweeg,” het Beukes gesê.

’n Trotse span

“Dr Adendorff doseer sedert 2004 by die Departement [Afrikaans en Nederlands] en met haar benoeming as ’n volwaardige lid van die SAAWK is dit beslis ’n erkenning van die gehalte werk wat sy lewer,” het prof Harold Lesch, voorsitter van US se Departement Afrikaans en Nederlands, per e-pos aan MatieMedia gesê. “Ons as Departement [is] baie trots op haar – en dit teen die agtergrond van ons Departement se eeufeesviering.” 

dosent

“Ek is ongelooflik trots op dr Elbie Adendorff. Dis weereens ’n bewys dat harde werk en uithouvermoë beloon sal word,” het Allison Matroos, ’n meestersgraadstudent aan die US gesê. Adendorff is Matroos se studieleier. Van links na regs is Allison Matroos, Adendorff en Jaydey Sass, voormalige student van Adendorff. FOTO: Verskaf/Allison Matroos

Allison Matroos, ’n meestersgraadstudent aan die US wat onder Adendorff as studieleier studeer, het gesê Adendorff is die hardwerkendste mens wat sy ken.

“Dr Adendorff gaan altyd uit haar pad uit vir haar studente en is altyd beskikbaar vir ons. Sy is nie net streng nie, maar gee geweldig om vir ons geestesgesondheid. Sy stap die ekstra myl vir haar tutors en studente,” het Matroos gesê.

, , , ,