Navorsers aan die Universiteit Stellenbosch verander ou brood in handreiniger
’n Groep voedselwetenskaplikes aan die Universiteit Stellenbosch (US) het daarin geslaag om ’n alkohol-basis handreiniger uit ou broodkrummels te maak.
Dié idee het ontstaan tussen dr. Stefan Hayward en dr. Timo Tait, post-doktorale navorsers van die Departement Voedselwetenskap, en MSc Voedselwetenskap-student, Sebastian Orth, terwyl hulle besig was om alternatiewe gebruike vir alledaagse weggooiprodukte, soos ou brood, te bespreek.
“Die Covid-19 pandemie het die belang van handreinigers beklemtoon. Brood bestaan ongeveer uit 40% stysel wat as ’n goeie bron van koolhidraat dien vir die produksie van bio-etanol tydens fermentasie,” het Orth aan MatieMedia gesê.
Hulle het 10 liter 75%-etanol geproduseer uit ’n aanvanklike 60kg broodkrummels. Dit is verdun met ’n bevogtigingsmiddel, gliserol en waterstofperoksied (wat die virusse en bakteriële spore doodmaak). Hieruit het hulle 18 liter vloeibare handreiniger gemaak.
“Die vermindering van afval en produkontwikkelingsprojekte, waar voedselafval omskep word in nuwe produkte, is ’n groot fokuspunt op voorgraadse- én nagraadse vlak. Dié projek is ’n goeie voorbeeld,” het prof Gunnar Sigge, hoof van die Departement Voedselwetenskap aan US, gesê.Die drietal het tydens hul projek ou brood gebruik wat teruggestuur is na die oorspronklike verpreidingssentrums.
“Hierdie oplossing het dus twee voordele – handreiniger en die vermindering van voedselafval,” het Orth gesê.
Volgens Hayward toon statistiek dat bykans ’n derde van die kos wat in Suid-Afrika geproduseer word, verlore gaan. En dit sluit die vermorsing tydens produksie uit. “Met ’n beraamde wêreldbevolking van 9.8 miljard teen 2050, moet ons nóú optree en begin kyk na maniere om afvalprodukte te hergebruik om sodoende voedselsekuriteit en volhoubaarheid vir die toekoms te verseker,” het hy gesê.
Die departement hoop dat dié projek die publiek, asook groot voedselproduseerders, bewus sal maak van die benutting van afvalprodukte.
“Stellenbosch, as ’n navorsingsinstituut, moet die voortou neem in dié tipe navorsing. Nie net sal die voedselafval op kampus verminder nie, maar dit sal ook ’n oplossing vir die gemeentskap skep. Die vermindering van voedselafval kan bydra tot voedselsekuriteit – nie net op kampus nie, maar ook in die gemeentskap,” het Sigge gesê.