’n Groep jong akteurs blaas vanjaar nuwe asem in die eeu-oue tradisie van straatteater by die US Woordfees.
Met sowat 12 interaktiewe opvoerings op verskillende plekke in die dorp, probeer dié jong geselskap om die geskiedenis van Stellenbosch toeganklik te maak vir jonk en oud.
Die projek is oorspronklik ontwikkel as deel van Mercy Kannemeyer (22) en Anke Cullinan (22), twee dramastudente, se studies.
Die vertoning bestaan uit kort twee-minuutlange opvoerings op verskillende plekke in die dorp. Kannemeyer en Cullinan het twaalf plekke geïdentifiseer wat ’n belangrike rol speel in die geskiedenis van Stellenbosch.
Van hierdie opvoerruimtes sluit in die Universiteitsmuseum, Jan Marais Naturrreservaat, die Aan de Braak Teater, Andringastraat en die Rooiplein.
Cullinan (23), die regisseur van die produksie, meen dat die doel van die projek is om te kyk hoe individue die onderskeie plekke ervaar en interpreteer. Die geskiedenis van die verskillende plekke word op ’n opvoedkundige en speelse manier aan die gehoor oorgedra.
Sy sê verder dat straatteater een van vele maniere is om teater meer toeganklik te maak en dit bied die geleentheid om op ’n ander manier kommentaar te lewer op die omgewing.
Die gehoor bepaal die verloop van die stuk deur twee groot dobbelstene te gooi. Die eerste dobbelsteen dui die plek aan waar die stuk sal afspeel terwyl die ander dobbelsteen die opvoerstyl bepaal. Hierdie style wissel tussen fisiese teater, kletsrym, slengtaal, die gebruik van flitskaarte en vele meer.
Ayden Kruger (19), ’n aktrise in die projek, meen dat straatteater ’n mens baie blootgestel laat voel.
“Daar is baie meer risiko verbonde aan straatteater. As die gehoor dit nie goed ontvang nie, is dit ’n groot verleentheid want almal sien dit.”
Akteurs wat deelneem aan die projek is dit eens dat die produksie hul forseer om op ’n nuwe manier na hul gemeenskap te kyk. Hulle meen dat dit iets is wat elke lid van die gemeenskap móét kyk om hul samelewing beter te verstaan.
Volgens Hendrik Nieuwoudt (20), ’n akteur in die produksie, is die gehoor soms huiwerig om deel te neem, maar dat dit hul werk is as akteurs om belangstelling te prikkel.
Dié groep is daagliks te sien by die Woordfees en skop hul vertonings af voor die Universiteitsmuseum.