US-studente ryg Kanna-nominasies in

Dramastudente aan die Universiteit van Stellenbosch (US) het vanjaar naam gemaak by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) nadat hulle vir ’n totaal van vyf Kanna-toekennings benoem is.

Du Toit Albertze (21), ’n honneurs dramastudent, is genomineer in die kategorieë vir Beste Teks, Beste Opkomende Kunstenaar en Beste Regie vir sy eenmanvertoning, Die Meermin-Kompleks. Die produksie is vanjaar aangebied as deel van die Uitkampteater-program by die KKNK.

“Ek is baie geëerd oor al drie nominasies maar die een wat my hart vinniger laat klop is die nominasie vir my teks,” sê Albertze.  “Om in dieselfde kategorie as Bauke Snyman en Philip Rademeyer te wees is ongelooflik.”

Die produksie, oorspronklik ontwikkel as deel van Kunste Onbeperk se Teksmark, handel oor ’n jong seun, Robbie, wat glo hy is ’n borrel; gebore uit die mond van ’n meermin.

“Dis ’n verhaal oor grootword en oor anders-wees,” meen Albertze. “Tussendeur kry ek ook die geleentheid om te praat oor queer en gay-wees. Dit gaan daaroor om jou plek te vind op die grond en in die see van jou gedagtes.”

Die Meermin-Kompleks word volgende jaar as ’n vollengte stuk by die Woordfees en KKNK opgevoer, onder leiding van die regisseur en skrywer Phillip Rademeyer.

Du Toit Albertze vermaak die gehoor met sy produksie Die meermin-kompleks by die Uitkampteater by die KKNK. FOTO: Jeremeo Le Cordeur.

Du Toit Albertze vermaak die gehoor met sy produksie Die meermin-kompleks by die Uitkampteater by die KKNK. FOTO: Jeremeo Le Cordeur.

Die geselskap van Die Nuwe Republiek van die Nuwe Nuwe Suid-Afrika (NRNNSA) is saam met Albertze genomineer vir Beste Opkomende Kunstenaar.

Dié geselskap bestaan uit derdejaar dramastudente Reuben Murphy, Conradie van Heerden, Carla Smith, Lara de Bruijn, Devonecia Swartz, Kristin Pienaar en Hendrik Nieuwoudt en vertel die verhaal van ses gesinne wat meeding om ’n plek in die nuwe Suid-Afrika.

Carla Smith (22), ’n aktrise in die stuk, is ook onlangs vereer met ’n Woordtrofee as Beste Opkomende Kunstenaar vir haar verskeidenheid rolle in die toneelstuk. Smith meen die Kanna-nominasie is vir haar ’n groot eer.

“Dit is lekker om te sien dat mense wat bedrywig is in die industrie darem dink ons is op die regte spoor.”

Alhoewel die produksie geskep is deur ’n werkswinkelproses, is Mercy Kannemeyer (23), ’n drama honneursstudent,  in 2018 genader om die regisseurstoel oor te neem en ’n “objektiewe buite-oog” te bied. Kannemeyer, bekend vir haar rol in die dokumentêr, Die ander kant, sê dit is ongelooflik om erkenning te kry.

“Ons waardeer dat daar mense is soos Nati, die Nasionale Teater Inisiatief en kunstefeeste soos die Woordfees, KKNK en die Suidoosterfees wat regtig glo in die jong talent en wil help om hierdie talent op te bou.”

Die produksie is vandeesweek vereer met die Nati Jongsterre toekenning en sal later vanjaar te sien wees by die Vrystaat Kunstefees as deel van die hoofprogram.

FOTO 2

Van links voor Hendrik Nieuwoudt, Carla Smith, Conradie van Heerden, Kristin Pienaar, Devonecia Swartz, Reuben Murphy, Lara de Bruijn in aksie op die verhoog. FOTO: Jeremeo Le Cordeur.

Stephren Saayman (21), ’n tweedejaar dramastudent aan die US, is ook genomineer vir beste opkomende akteur vir sy rol as Danny in die selfgeskrewe Uitkampteater-produksie Brandmerk. Saayman sê dit is ’n groot eer vir ’n akteur van sy ouderdom.

“Dit is ’n baie groot stap in my lewe en ek besef ek is nog baie jonk, daarom is ek so dankbaar daarvoor.”

Brandmerk is ’n familiedrama wat die temas van seksuele misbruik onder die soeklig plaas.

Saayman beoog om Brandmerk binnekort na Kuruman te neem waarna dit moontlik by ander feeste opgevoer sal word.

Stephren Saayman in die rol van Danny in die toneelstuk Brandmerk. FOTO: Jeremeo Le Cordeur.

Stephren Saayman in die rol van Danny in die toneelstuk Brandmerk. FOTO: Jeremeo Le Cordeur.

Die Kanna-toekenningsgeleentheid vind plaas op 13 Mei by Media24 in Kaapstad.