Van Addis tot in die Kaap

In die hart van Kaapstad, tussen die geroesmoes van karre en korporatiewe wolkekrabbers, boer ’n klein stukkie van Etiopië voort. 

Senait Mekonnen het in 2007 Addis in Cape, haar tweede Etiopiese restaurant, gevestig.

Kaapstad se middestad lê na aan Mekonnen se hart omdat dit haar herinner aan Addis Ababa, waar sy gebore is.

As deel van die Etiopiese kultuur by Addis in Cape deel almal om die tafel een groot bord kos, sê Senait Mekonnen, eienaar van Addis in Cape. “Ons sit nie meer as vyf mense op een tafel nie.” FOTO: Duné van Jaarsveld

Die geel voordeur swaai oop.

“Welkom by Addis in Cape,” groet ’n vriendelike gesig.

Op die tweede verdieping van haar oranje restaurant in Loopstraat, Kaapstad, skink Senait Mekonnen twee koppies Etiopiese koffie.

Walms wierook en sterk koffie hang in die lug. Injera’s, Etiopiese platbrood, braai op pasgemaakte platbrood-panne en kokke sing in die kombuis terwyl hulle die aand se kos begin voorberei.

Mekonnen drink nie eintlik koffie nie, sê sy. Dit laat haar hiperaktief en bewerig voel.

Sy hou haar rooi teekoppie vas en drink sluk-sluk aan haar groentee terwyl sy vertel van die bevrediging en kwale wat sy as ’n Etiopiese-restaurant eienaar beleef.

“Ek het nog altyd van restaurantwerk gehou. Ek het [van kleins af] geweet dat ek eendag ’n restaurant sou hê,” sê Mekonnen.

Mekonnen hou glad nie van kos maak nie, maar sy geniet dit om mense te vermaak, sê sy.

“Ek het gedink dat ek met my eie restaurant mense sal kan raak en beïnvloed. En ek was reg, my plan het goed uitgewerk.”

“Hier by Addis in Cape is ons ’n span mense wat lekker saamwerk en omgee oor lekker kos sonder om aan die uitgawes te dink.”

“Ons wil Etiopië se beste verteenwoordig,” sê Mekonnen.

Etiopië het baie om te bied in terme van kultuur, geure, kleure en tradisies en dit is juis hierdie ervaring van, en blootstelling aan, die land wat Mekonnen aan die algemene mens wil beskikbaar maak, sê sy.

Volgens Mekonnen is haar restaurant vir haar belangrik omdat dit werk skep vir mense van Suid-Afrika. Verder as dit sien sy die restaurant as ’n geleentheid om Etiopië aan die res van die wêreld bekend te stel.

“Ons restaurant was eers in Langstraat, maar toe skuif ons ’n paar jaar later Loopstraat toe,” sê Senait Mekonnen, eienaar van Addis in Cape. Sy beweer dat die toename in Langstraat se misdaad die restaurant se besoekers in gevaar gestel het. Dit is hoekom die restaurant geskuif het. FOTO: Duné van Jaarsveld

Die restaurant se sjarme

’n Mens word outomaties weggevoer sodra jy by Addis in Cape instap, sê Chantelle Simmers, een van die restaurant se bestuurders.

“Jy kan die verskil in die restaurant se atmosfeer ruik.”

“As ’n plaaslike persoon wat nog nooit Kaapstad verlaat het nie, is [hierdie restaurant] die naaste [wat mens kan kom] aan ’n ander land bereik sonder ’n vlug,” sê Simmers.

“[By Addis in Cape] kan iemand kan by ’n ander kultuur inskakel en daarmee en daarin wees,” sê Mekonnen. “Ons kry daardie bevrediging, as die mense wat hier werk.”

Mekonnen voel baie gemaklik om hierdie verantwoordelikheid in haar personeel se hande te los, sê sy.

Daar is nie ’n “afknoppie” nie

Party Saterdae het Mekonnen nodig om bietjie ’n blaaskans te neem van die restaurant, sê sy.

“Ek gaan gewoonlik Oranjezichtmark toe of ek gaan sny my hare, maar voor ek my oë uitvee is ek net in elk geval terug by die restaurant.”

“Dit is die ding van ’n restaurant, jy moet die heeltyd alles opvolg.”

Die enigste ander ding wat Mekonnen gereeld doen, is om te gaan stap in die berg. Verder is aandag net by haar restaurant.

Van stad tot stad

Die eerste restaurant wat Mekonnen en haar familie van die grond af opgebou het, is Addis in Dar, in Dar es Salaam, Tanzanië. Hierdie restaurant bestaan al vir 26 jaar, sê Mekonnen.

“Ek het vir ’n ruk in Tanzanië gebly. Ons restaurant het baie goed gedoen. Eintlik baie beter as wat die een [in Kaapstad] doen. Die lewe het egter toe verander en ek het besluit dat ek in ’n ander deel van die wêreld moet wees.”

“Ek wou nog altyd in Suid-Afrika kom bly, selfs toe dit nog apartheid was,” sê 67-jarige Mekonnen.

“Ek weet nie wat my van hierdie land interesseer nie. Ek hou regtig daarvan.”

In 2006 het Mekonnen Suid-Afrika toe getrek om haar tweede restaurant te begin, dié keer op haar eie.

Addis in Cape

“Voordat ek [Suid-Afrika toe] gekom het, het ek dit aanvanklik oorweeg om Durban toe te gaan, want Etiopiese kos is baie soortgelyk aan Indiese kos. In terme van besigheid, het ek gedink dit sou goed werk, maar ek was nie seker daaroor nie.”

“Ek besluit toe dat Kaapstad regtig die plek is vir die restaurant.”

“Kaapstad is die wortel van Suid-Afrika. Dit is die oudste deel. Die stad hou alles,” sê Mekonnen.

“Die berg, die see, alles saam. Hier is mense hier van regoor [die wêreld] en die stad is ook nie groot nie, wat baie lekker is.”

“Die stad is baie kultureel, daar is baie mense van regoor. En ek hou daarvan. Dit is ook hoekom ek van Addis hou. Die stad bring almal van die hele land bymekaar.”

Hierdie instrument  word “begena” genoem, verduidelik Senait Mekonnen, eienaar van Addis in Cape. Dit word slegs in die kerk gebruik. Daar is tien snare wat elk een van die tien gebooie voorstel, sê sy. FOTO: Duné van Jaarsveld

Beperkings

Met ’n Etiopiese restaurant het jy ’n Etiopiese sjef nodig om die restaurant se sjefs op te lei, verduidelik Mekonnen. Volgens haar is dit ’n groot uitdaging vir hierdie tipe restaurant. “Permitte word nie toegelaat vir mense om van Etiopië af hierheen te kom om ’n werkpermit te kry nie.”

Mekonnen het nie hierdie probleem in Tanzanië ervaar nie, sê sy.

“Om die kombuispersoneel op te lei was die moeilikste. Dit is ’n ander soort kook,” sê Mekonnen.

“Met [Suid-Afrika se] werkloosheidsprobleem, kon ons soveel werk geskep het deur nog restaurante op te rig,” verduidelik Mekonnen.

Dit is eenvoudig om ’n Etiopiese restaurant aanmekaar te sit, sê Mekonnen, maar die kos moet perfek wees. Anders is daar nie ’n punt aan die restaurant nie.

“Dit is regtig ’n hartseer deel van hierdie restaurant. Ons kan nie groei nie,” sê Mekonnen.

“Ek het een Etiopiese sjef wat nog al die jare die kombuispersoneel oplei. Hulle is goed. Hulle is regtig goed. Maar, ja, jy kan nie hulle net vra om met ’n dis van voor af te begin nie.”

Nancy Nohesi, die hoof sous-sjefs, werk al by Addis in Cape vandat die restaurant oopgemaak het, sê Mekonnen. Na al haar jare se ervaring in die kombuis, het Nohesi, volgens Mekonnen, die Etiopiese kookkuns onder die knie.

Nohesi sê dat sy deesdae die nuwe sjefs help en leer hoe om al die disse te maak.

“Ek hou van kook. Ek kook met liefde,” sê Nohesi.

“Twee Suid-Afrikaners kook op die oomblik [in Addis in Cape se kombuis] omdat hulle al lank by hierdie restaurant werk. Hulle is goed,” sê Senait Mekonnen, eienaar van Addis in Cape. FOTO: Duné van Jaarsveld

Intuïsie in plaas van resepte

“Etiopiese kos is baie moeite. Dit is nie soos ons kos in Suid-Afrika nie. Ons maak nie burgers hier nie,” sê Nohesi.

“Dit is baie gedetailleerde manier van kook. Dit is nie ’n proses of ’n geskrewe resep nie. As jy ’n geskrewe resep het, is dit maklik om te kook, maar met Etiopiese kos maak die manier waarop jy die uie sny, hoe lank jy dit op die vuur hou, en hoeveel water jy by gooi ,baie saak,” sê Mekonnen.

“Jy moet die kos beoordeel soos wat jy kook. Jy moet die kos proe en die eindproduk so goed as moontlik maak deur jou intuïsie te gebruik.”

“Jy beïnvloed jou kookkuns, nie deur bestanddele nie, maar eerder met jou energie en bui.”

In Etiopië word Injera platbrode slegs gemaak van teffmeel en water, volgens Senait Mekonnen, eienaar van Addis in Cape. Mekonnen verduidelik dat Suid-Afrikaners se palette egter te sensitief is daarvoor en daarom maak haar restaurant die Injera’s met ’n mengsel van teffmeel en rysmeel. FOTO: Duné van Jaarsveld

, ,